Die 17-jarige Juli Vercuiel van Durbanville in die Kaap het onlangs met ’n oulike video die aandag getrek. Daarin verduidelik sy wat haar idee van liefde is. (Loer op huisgenoot.com.) Die video is een van haar gewilde vlogs wat haar al 45 000 Instagram-aanhangers besorg het. Altesaam 5 559 mense volg ook haar vlogs op haar YouTube-kanaal. Ons het gaan inloer by die gr. 11-leerder aan die Hoërskool Stellenberg, wat benewens haar gewilde blogs en status as sosialemedia-ster ook op die sportveld uitblink.

Hoe het jy as vlogger begin?

Ek het nog altyd baie te sê gehad oor baie dinge. Ek het ’n groot passie vir drama en om met mense te kommunikeer. Instagram het my beperk wat woordtelling in my inskrywings betref, en ek kon nie my mening behoorlik lug nie. Daar was so baie kwessies waaroor ek wou praat, maar ek het nie die platform gehad om dit te doen nie; dus het ek besluit om ’n YouTube-kanaal te begin.

Watter goeie en slegte uitwerking dink jy het die sosiale media op die jeug? En watter slaggate moet ’n mens vermy?

Die sosiale media is ’n baie groot verhoog waar jy voor miljoene mense jou stem sonder vrees kan laat hoor. Dit is ook ’n manier vir tieners om oor die toekoms te besin. Die nadeel is dat die media ’n alternatiewe wêreld bied waar tieners die beste weergawe van hulself wil skep. Dit veroorsaak dat hulle nie gelukkig is met hulself nie. Kuberboeliery is ook iets wat opgelos moet word. Die getal aanhangers wat ’n mens het, skep ook ’n idee dat jy meer of minder gewild is.

Jy wen. #dekHelderbergvirtwee @helderbergfees

A post shared by JULI VERCUIEL (@julipoeli) on

Enige topwenke vir opkomende vloggers?

Wees jouself; altyd. Moenie video’s maak net sodat baie mense op die “like”-knoppie sal klik nie. Wees gemaklik voor die kamera en gee voor jy praat met jou beste maat. Maak ook video’s in jou eie taal. En wees trots daarop.

Wat beoog jy om ná skool te doen?

Ek wou altyd in ’n mediese rigting gaan, maar my liefde vir toneelspeel en atletiek staan in die pad. Al wat ek tot dusver weet, is dat ek wil toneelspeel en hardloop. Ek wil ook voor groot gehore praat en mense motiveer. Ek sal ook aanbiedingswerk wil doen. My passie vir kinders gaan ook in my toekomsplan inpas.

Vertel ons van jou groot liefde vir lamas.

Dis eintlik ’n lang storie, maar om dit kort te hou: Ek het toe ek jonger was die Stodels-tuinsentrum besoek saam met my vriendin. Ek het die lama probeer voer, maar hy het op my gespoeg. My hart was stukkend, want lamas het nie van my gehou nie. Ek het onmiddellik gaan navorsing doen oor hoe ek kan maak dat hulle van my hou. En dit is hoe ek verlief geraak het op hierdie unieke, wollerige, skaapagtige diere.

Lamas is een van haar groot liefdes.

Jy begin veldtogte op jou vlogwebtuiste, soos die veldtog teen rassisme. Watter veldtog het vir jou uitgestaan?

Ek voel ernstig oor liefde en aanvaarding. So my video oor liefde en die een teen rassisme staan vir my uit.

Hoe lyk ’n gewone dag vir Juli?

Woes! My dag begin soggens sesuur en dan is dit skool. Van halfdrie tot agtuur saans is ek druk besig. My daaglikse aktiwiteite behels netbal, atletiek, debatoefeninge, leerlingraadvergaderings, huiswerk, ekstra wiskundeklasse en drama-oefeninge. Eers daarna kan ek rustig in die bed klim en ’n reeks geniet.

Sy maak darem tyd vir ontspan ook.

Waar sien jy jouself as vlogger oor vyf jaar?

Ek sien myself glad nie as ’n voltydse vlogger nie. My video’s is bloot om jong tieners te inspireer. Ek het al baie jong mense gehad wat my erkenning gegee het vir my video’s. Ek weet nie wat die toekoms vir my inhou nie, maar dit is glad nie die laaste wat julle van my gaan sien nie.

Dié meisie ken ook haar storie met modes.

Jy word “invloedryk in die sosiale media” genoem; hoe laat dit jou voel? En word jy op straat herken?

Dit is eintlik mal. Ek het nooit in my wildste drome gedink dit sou gebeur nie. Vreemdelinge kom soms na my en vra foto’s saam met my of net om ’n geselsie aan te knoop. Ek voel of ek droom, maar dis ’n goeie gevoel om te weet my boodskap kom werklik by die mense uit.

Behalwe haar aweregse, eerlike vlogs ken dié meisie ook haar storie met modes.

Watter glansmens sou jy graag as beste pel wou hê en hoekom?

Beslis die Amerikaanse aktrise en YouTube-persoonlikheid Liza Koshy of die Britse sanger en liedjieskrywer Ed Sheeran. Liza sal my heeldag laat lag en Ed kan net heeldag vir my sing.

“Dankie dat jy vir my en die res van die wêreld leer drome word wel waar,” het sy by dié foto saam met Wayde van Niekerk geskryf.

Wat is jou gunstelingvideo en hoekom?

My Passie. Dié video beteken baie vir my omdat atletiek so ’n groot rol in my lewe speel. Dit wys alles is nie altyd maklik nie; jy moet hard werk vir wat jy wil hê. Vertel van jou familie. My ma, Grizelda, is ’n apteker en my pa, Hein, ’n sakeman. Hy is die eienaar van E-piphany. Ek is die jongste van vier kinders. My broers is Brent (27) en Fabian (30) en my suster Shani (28).

Vertel ons van die hoogtepunte in jou atletiekloopbaan. 

Aan die einde van ons atletiekseisoen was my posisie soos volg: 400 m-hekkies: vyfde op die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se jeugwêreldranglys, derde op die IAAF- Statebondlande-jeug ranglys en derde op die IAAF se Afrika-ranglys. Ek is ook aangewys as die junior sportvrou van die jaar by Kaapstad se Metro-sportpryse. En ek is vasbeslote om volgende jaar vir die IAAF se junior-wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Finland te kwalifiseer. 

Die pragtige blondine is nie net tuis voor ’n videokamera en met vlogs nie, maar is boonop ’n uitblinker-atleet.

Kitsfeite oor Juli
  • Sy is versot op drama en om voor gehore op te tree.
  • Lamas is haar gunstelingdiere. Sy wil eendag vier lamas hê wat in haar tuin woon en in die huis slaap wanneer dit koud raak.
  • Selfs haar motor se registrasienommer is “llama WP”.
  • Sy hou daarvan om die ukelele te bespeel.
  • Haar gunstelingreekse om te vraatkyk is Gossip Girl en Grey’s Anatomy.

Foto's: Instagram