Die paartjie se dogtertjie, wat Alannah heet, is Vrydag 24 Januarie om 05:20 by die Mediclinic Vergelegen in Somerset-Wes gebore. Sy het by geboorte 4,04 kg geweeg. 

Bekyk hierdie plasing op Instagram

A n d T h e n T h i s...

'n Plasing gedeel deur ???????????? ???????? (@alettewinckler) op

Dit was vir Heinz en Aletté en hul drie seuntjies, Lian (9), Simeon (7) en Reuben (5), ongelooflik spesiaal om Alannah die eerste keer te ontmoet. 

“Ons kon nie glo toe sy eindelik kom nie. Ek het verwag Simeon gaan huil, want hy is ons emosionele een, maar hy was oorstelp van vreugde,” vertel Aletté. 

“Ons het Lian onkant betrap met ’n paar trane terwyl Reuben van oor tot oor geglimlag het,” voeg sy by.  

Aletté en hul dogtertjie is die volgende dag ontslaan en kon toe huis toe gaan.  

“Heinz en die seuns was baie opgewonde om ons te kom haal en huis toe te bring. Hulle is steeds opgewonde oor die nuwe toevoeging tot die gesin,” sê die ma van vier.  

Volgens Aletté was die eerste nag in die hospitaal met haar dogtertjie ’n bietjie rof wat slaap betref. 

“Die eerste nag by die huis was great, maar die volgende twee aande was ’n bietjie meer uitdagend. Ek dink dis die verskil tussen die kolostrummelk aan die begin en die melk wat inkom, haar lyfie is net besig om lekker gewoond te raak daaraan. Verder cope ons sover goed,” sê sy. 

En wil die seuns al hand bysit met hul sussie? 

“Simeon wil té veel hand bysit, ek moet behoorlik keer.  Hy reken hy kan alles doen behalwe om haar te voed,” vertel Aletté laggend.