Hy het al baie openlik oor sy stryd teen drank- en dwelmverslawing gepraat en geskryf, maar die reaksie daarop was mak vergeleke met die herrie wat om sy jongste boek losgebars het.

Dié keer vertel die akteur Hykie Berg, bekend as dr. Conrad Bester in die sepie Binnelanders, van sy reis met aandaggebrekhiperaktiwiteitsteuring (AGHS) en sy ervaring van die medikasie wat vir hom voorgeskryf is om dit te behandel.

Hykie Berg
Hykie Berg. Foto: Lubabalo Lesolle

Dit is Hykie (42) se mening oor die gebruik van die middel Ritalin – wat algemeen voorgeskryf word vir die behandeling van AGHS – wat baie mense, sommige dokters inkluis, nou warm onder die kraag het.

In sy nuwe boek, My stryd met ADHD: Die onsigbare oorlog, beskryf Hykie onder meer hoe hy in 2007 en 2008 ná ’n psigotiese episode in die Weskoppies-psigiatriese hospitaal in Pretoria opgeneem moes word. Dit was sy gebruik van Ritalin wat hom daar laat beland het, meen Hykie.

Hy erken dit was omdat hy dié middel misbruik het, maar hy glo die gebruik van Ritalin kan ernstige newe-effekte inhou en selfs verslawend wees.

Hy het dit teen AGHS-medikasie wat “soos Smarties” uitgedeel word en ’n multimiljoendollarbedryf onderhou terwyl die medikasie soms skadelik kan wees en nie altyd die antwoord is vir mense met AGHS nie, verklaar Hykie in sy boek. Maar dít kan ’n skadelike boodskap uitstuur, meen mediese kenners, omdat dit mense met AGHS kan ontmoedig om hulp te soek of die medikasie te gebruik wat vir hulle voordelig kan wees.

Dit is ’n onderwerp waaroor daar in die verlede ook al verdeeldheid was – en kenners beklemtoon medikasie vir die behandeling van AGHS moet met omsigtigheid voorgeskryf en bestuur word, hetsy vir kinders, tieners of volwassenes.

Tog meen psigiaters met wie Huisgenoot gepraat het nadat Hykie se opspraakwekkende stellings in die nuus geboer het Ritalin is nié verslawend nie, mits dit reg gebruik word.

Ritalin en Concerta, nog ’n middel wat dikwels vir die behandeling van AGHS voorgeskryf word, is veilig om te gebruik as dit volgens die bepaalde riglyne geneem word, sê prof. André Venter, ’n psigiater van Bloemfontein.

André het onlangs as akademiese hoof van die departement van pediatrie en kindergesondheid aan die Universiteit van die Vrystaat uitgetree en is ’n kenner van AGHS. Hy sê die misbruik van die middels kan “onaanvaarbare” newe-effekte inhou, maar sê die vrees dat dit verslawend sal wees, is ongegrond.

“Die grootste probleem met stimulante is hul eetlusonderdrukkende effekte, en moontlik ook slaapprobleme, emosionaliteit en sosiale onttrekking,” som hy van die moontlike risiko’s op.

Dit is volgens hom dus belangrik dat iemand vir wie een van dié middels voorgeskryf word met sy dokter in verbinding bly om seker te maak die regte dosering word deurgaans gebruik en die gebruik van die medikasie word sorgsaam bestuur, sê André.

“Met die doserings wat ons vir AGHS gebruik, is daar byna geen verslawingspotensiaal nie,” voeg hy by. Enige medikasie kan gevaarlik wees as jy dit misbruik en dosisse neem wat te hoog is, sê prof. Renata Schoeman, ’n psigiater van Bellville met verwysing na die psigotiese episode wat Hykie beleef het.

Renata staan aan die hoof van die M.B.A.-program in gesondheidsleierskap aan die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool en is die sameroeper van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters se spesiale belangstellingsgroep in AGHS.

“Selfs Panado’s kan ’n nadelige effek op ’n persoon hê as jy dit in groot maat drink,” voeg sy by.

“As jy Ritalin misbruik, kan jy slapeloosheid ervaar en selfs psigoties raak. Maar dis nie noodwendig weens die pil dat jy psigoties raak nie; dit kan wees weens jou gebrek aan slaap of ander faktore.”

Hykie sê hy verwelkom die debat oor sy boek. “Ek het met my eerste boek ook kritiek gekry, maar weer was dit mense wat nie verslawing verstaan nie,” vertel hy oor Hykie Berg: My storie van hoop waarin hy oor sy pad met drank- en dwelmverslawing geskryf het. Kritiek oor sy nuwe boek en sy stellings oor AGHS is uit “onkunde”, sê hy.

Hykie Berg se boek, ADHD
Hykie Berg vertel in sy nuwe boek van sy stryd met AGHS en sy Ritalin-verslawing.

“Die meeste van die mense het nie die boek gelees nie. Niks in die boek is onwaar nie; alles is 100% waar,” hou hy vol. Hy erken sy destydse opname in Weskoppies is deur sy “misbruik” van Ritalin veroorsaak.

Hy het dié medikasie oor ’n tydperk van ’n jaar en ’n half geneem nadat AGHS by hom gediagnoseer is, maar hy’t ’n hoër dosis geneem as wat hy eintlik moes.

“Vir die eerste 45 minute nadat ek dit gebruik het, het ek great gevoel. Op ’n high –maar dan kom die comedown, en jy voel angstig en asof die wêreld jou wil insluk. Dan sou ek nog een vat,” sê hy oor waarom hy dit as verslawend ervaar het. “Dis nie Ritalin as sulks wat my daar laat beland het nie,” sê hy oor sy opname in Weskoppies.

“As jy Ritalin vir ’n lang tyd misbruik soos wat ek het en jy slaap nie, gaan jy in ’n psigose beland.” Maar hy wil tog ’n waarskuwing rig, sê hy: “Die boek is geskryf om vir mense te sê nie alles wat voorgeskryf word, is voordelig vir jou nie.”

Die idee vir sy nuwe boek het ontstaan nadat hy ’n artikel oor AGHS gelees het, vertel Hykie. “Daar is geskryf oor volwassenes met AGHS en wat iemand kan doen om hulle te help. Maar daar is geskryf dat medikasie heeltemal veilig en glad nie verslawend is nie.”

Nou sê hy weer: “Dit is nie waar nie.” Dan voeg hy by: “Dit word vrylik verkry, veral by mense vir wie dit voorgeskryf word, en daar is verskriklike newe-effekte as dit misbruik word.”

Tog wil hy nie ouers afskrik wie se kinders, ná ’n korrekte AGHS-diagnose, met die middel behandel word en wat dit dan korrek neem nie. “Dit is amazing as die medisyne vir hulle werk.” Maar hy meen ’n holistiese benadering moet gevolg word.

“Jy moet na jouself kyk. Jy moet ’n goeie slaappatroon hê. Jy moet ’n goeie dieet volg.”

Hykie Berg in Binnelanders
Hykie, wat openlik praat oor sy destydse verslawing, is veral bekend vir sy rol as dr. Conrad Bester in die sepie Binnelanders. Hier is hy op stel saam met Reynardt Hugo as dr. Tertius Jonker. Foto: Facebook/Binnelanders

Hy glo AGHS kan dikwels eintlik met hierdie stappe behandel en bestuur word. Renata stem saam ’n holistiese benadering vir die hantering van AGHS is belangrik; daarom behoort medikasie nie goedsmoeds voorgeskryf te word nie.

“ ’n Kind ondergaan ’n omvattende assessering. In baie gevalle gaan die kind vir sielkundige sessies en arbeidsterapie; ons laat die kind ’n oogkundige en ’n oudioloog sien om sy oë en ore te toets sodat sensoriese probleme uitgeskakel kan word,” verduidelik sy die proses voor AGHS by ’n kind gediagnoseer kan word.

Ook die Johannesburgse psigiater dr. Rykie Liebenberg noem ’n rits stappe wat eers gedoen word voor ’n diagnose gemaak en medikasie voorgeskryf kan word, wat soms ook psigometriese toetse insluit. Sy beklemtoon ’n kundige dokter sal eers ander uitdagings uitskakel voor AGHS gediagnoseer kan word.

Ook André beaam enige diagnose moet omsigtig benader word. “Ander oorsake vir AGHS-tipe-gedrag moet uitgesluit word, byvoorbeeld angs.” Maar wanneer ernstige AGHS korrek by ’n kind gediagnoseer word, moet medikasie voorgeskryf word, sê Rykie onomwonde.

“Hulle kan dalk daarsonder klaarkom, maar akademiese en persoonlike sosiale ontwikkeling sal erg gestrem word.”

Komplementêre behandelings soos oefening, ’n gesonde dieet, goeie slaapgewoontes en die beperking van toegang tot tegnologie kan ook help, voeg sy by. “Maar as dié metodes nie die kind help nie, is medikasie noodsaaklik vir goeie funksionering.” 

Hoe werk AGHS-medikasie?

Die aktiewe bestanddeel in AGHS-medikasie soos Ritalin en Concerta, is metielfenidaat. Dit werk in op die sentrale senuweestelsel, wat hiperaktiwiteit en impulsiwiteit beheer.

Navorsing wys daar is soms te min dopamien en noradrenalien in die brein van iemand met AGHS.

Dié stowwe word in die brein vervaardig. Metielfenidaat inhibeer die heropname van hierdie stowwe – dit keer dat dit nie te vinnig opgeneem word nadat dit vervaardig is nie.

So word ’n hoër vlak van die stowwe in stand gehou, sê Renata, en dit help om hiperaktiwiteit te beheer en konsentrasievermoëns te verbeter. Sy sê daar is twee soorte AGHS-medikasie: kort- en langwerkende middels.

Die aktiewe bestanddeel van kortwerkende medikasie word vinnig in die liggaam vrygestel, en stadiger met langwerkende medikasie.

Ritalin is ’n kortwerkende vorm, en as dit met hoë dosisse misbruik word, kan dit abnormaal hoë dopamien- en noradrenalienvlakke in die brein veroorsaak.

Dit kan slaaploosheid veroorsaak, die eetlus onderdruk en ook moontlik verslawend wees.

“As ’n mens Ritalin op die voorgeskrewe manier gebruik, in die normale dosis, is daar nie afhanklikheidspotensiaal nie,” benadruk Renata