Hy was die skrywer wat nie net aangrypend oor die liefde kon skryf nie; ook sy eie liefdeslewe het – nes sy romans – dikwels die wêreld aan die gons gehad. En nou, vier jaar ná André P. Brink se dood, is sy naam opnuut op baie mense se lippe, saam met dié van sy biograaf, Leon de Kock.

Die verskyning van die biografie André P. Brink en die Spel van Liefde het ’n opskudding veroorsaak weens die intieme blik wat dit bied op die lewe van die bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer wat ook in die buiteland groot aansien geniet het.

Hierin word sy vele verhoudings met vroue – onder wie die digter Ingrid Jonker – en sy sekskapades in uiters grafiese detail beskryf, en dít in André se eie woorde, soos hy dit oor 52 jaar in sy dagboeke opgeteken het.

Leon (62), ’n skrywer en afgetrede professor in Engels aan die Universiteit Stellenbosch, het eksklusiewe toegang gehad tot André se dagboeke, waarin hy ook oor die hoogte- en laagtepunte van sy vyf huwelike geskryf het.

Leon de Kock, die skrywer van die biografie André P. Brink en die Spel van Liefde.

André se vyfde vrou, die Poolse skrywer Karina Szczurek (42), het dié skatkis vol sleutels na haar oorlede man se binneste aan Leon oorhandig met die oog op ’n biografie oor hom.

Maar toe sy agterkom hoeveel intieme besonderhede die beplande biografie oor haar ontslape man se liefdeslewe bevat, het sy glo regstappe oorweeg om die publikasie van die boek te probeer keer. Dit was vergeefs.

Die omstrede boek was skaars op die winkelrakke toe ’n storm om Leon se kop losbars.

Ná ’n voorval in ’n restaurant in Kaapstad waar hy na bewering ’n rassistiese aanmerking teenoor ’n werknemer gemaak het, is hy op aanklag van crimen injuria in hegtenis geneem. Hy het daarna in die landdroshof in Kaapstad verskyn en is vir evaluasie in die Groote Schuur-hospitaal se psigiatriese eenheid opgeneem.

Sy twee kinders, Luke en Charis, het in die sosiale media verskoning gevra vir hul pa se gedrag in die restaurant. Hulle het dit toegeskryf aan “’n erge maniese episode” wat hul pa glo die laaste maande beleef.

Die uitgewer van die boek, Jonathan Ball, het ook bekendstellingsgeleenthede vir die boek gekanselleer. Intussen bly sy boek ’n vuurwarm twisappel. Sommige lesers en resensente, soos die digter Joan Hambidge, loof dit as “’n uitstekende biografie”, maar die grafiese seksuele besonderhede laat by ander ’n wrang smaak in die mond.

André en sy tweede vrou, Salomi Louw.

Ook van die mense na aan André en van die vroue in sy lewe voel ongemaklik oor die verskyning van die boek.

Die biografie staan duidelik nie sy seun Gustav (52) aan nie. Hoe minder daaroor geskryf word, hoe beter, het dié buitengewone professor in die regte aan die Universiteit van Pretoria aan Huisgenoot gesê.

Sy halfbroer, Anton (56), ’n skilder en beeldhouer van Makhanda (voorheen Grahamstad) in die Oos-Kaap, wou ook nie kommentaar lewer nie.

Ingrid se dogter, Simone Garcia Marques (61), sê sy voel ongelukkig oor die verskyning van die boek. Sy het dit nog nie gelees nie, maar is gewaarsku oor “die grafiese inhoud” daarvan.

“Ek is nooit genader om ’n sê te hê oor wat daar van my ma geskryf word nie,” het sy aan Huisgenoot gesê.

Simone voel bitter teenoor André, wie se verhouding met haar ma beëindig is net drie maande voor haar selfdood toe Ingrid (31) op ’n Julienag in 1965 by Drieankerbaai in Kaapstad die see ingestap het. Op Facebook en ook teenoor Huisgenoot het Simone gesê André “was die moordenaar van ’n digter”.

Oor haar ma sê sy: “Sy was ’n digter, ’n wonderlike, spesiale vrou, en André was die laaste spyker in die doodskis.”

Ná Leon se inhegtenisneming het sy op Facebook gesê sy beskou dit as karma vir “die leuens” wat hy oor haar ma gepubliseer het. Sy het bygevoeg: “Ek hoop jy kry wat jou toekom.”  

Die digter Ingrid Jonker en haar dogter, Simone. Dié meen haar ma se verhouding met André het ’n rol gespeel in haar dood.

Die tweede hoofstuk in Leon se opspraakwekkende boek word aan Ingrid gewy. Dit bevat aanhalings uit André se dagboeke waarin hy sy eerste ontmoeting met haar in April 1963 beskryf en ook die eerste keer dat hulle intiem was in haar woonstel in Groenpunt: “Sy het na my gekom, ingekruip, die lig afgeskakel. Ek moes my hande tuis hou . . .”

Hy beskryf dan in besonderhede hoe dié intieme ervaring tussen ’n man en ’n vrou verder ontvou het – een van vele soortgelyke beskrywings in sy dagboeke en in die biografie. André was nog met sy eerste vrou, Estelle Naudé, die ma van sy seun Anton, getroud toe hy en Ingrid hul verhouding begin het.

Hy en Estelle is twee jaar later ná ’n huwelik van 14 jaar geskei. Kort ná sy egskeiding in 1965 is hy met Salomi Louw getroud, maar dié huwelik, waaruit Gustav gebore is, het die volgende jaar op die rotse geloop. Daarna het die huweliksklokke vir hom en Alta Miller in 1970 gelui.

Uit hul huwelik van sewe jaar is ’n seun, Danie (47), en dogter, Sonja (45), gebore. Sy vierde huwelik met Marésa de Beer, nou ’n kliniese sielkundige van Kaapstad, het in 2003 ná 13 jaar in die skeihof beland.

In die biografie word die skrywer, wat al as ’n ligbaken in die Afrikaanse letterkunde bestempel is, uitgebeeld as ’n geniale man met foute en swakhede, maar iemand wat ook ’n soort eensaamheid ervaar het tot hy eindelik by sy vyfde vrou, Karina, liefde gevind het.

André en sy vyfde vrou, Karina Szczurek.

André was 69 en sy net 27 toe sy hom in 2004 op die lughawe in Wene, Oostenryk, ontmoet om hom na ’n simposium oor die Suid-Afrikaanse letterkunde in Salzburg te vergesel.

“Ek het net gedink hoe gelukkig ek is om deur so ’n ongelooflike vrou ingewag te word,” het hy in 2007 – ’n jaar ná hul troue – in ’n onderhoud met die tydskrif Insig vertel. Sy was ook langs hom toe hy in 2015 skielik weens ’n bloedklont op ’n vliegtuig van Amsterdam na Kaapstad dood is.

Karina wil nie oor die nuwe biografie van haar man kommentaar lewer nie, maar in ’n artikel vir Vryeweekblad bespiegel die skrywer Deborah Steinmair dat André se weduwee waarskynlik onder die indruk was dat die skryfsels uit sy dagboeke die Afrikaanse letterkunde sou verryk en vir die nageslag bewaar moet word.

Deborah skryf in die artikel as Karina dit self eers gelees het, sou sy dit waarskynlik verbrand het omdat “Brink nóg homself nóg iemand anders ontsien”.

Die skrywer Kerneels Breytenbach, ’n voormalige uitgewer en vriend van André, meen die biografie is uniek. “Het dit al ooit gebeur dat ’n mens toegang kry tot die joernale van ’n bekende skrywer? Die feit dat ons ’n blik op sy seksuele voorkeure en ervarings kry, is interessant.”

Joan meen die biografie bied ’n nuwe blik op die skrywer wat soms as ’n soort Don Juan – ’n legendariese minnaar – beskou is. Sy boeke is in meer as 30 tale vertaal, en hy is plaaslik en internasionaal bekroon met van die Hertzogprys tot die Franse Medalje van die Erelegioen.

Sal die omstrede biografie sy nalatenskap skade berokken? Daaroor is Joan onseker. “Ek dink eerder die mense wat nog leef, staan in die spervuur.”

Volgens haar moes Karina dalk die nagevolge oorweeg het voor sy die versameling dagboeke aan Leon oorhandig het eerder as om agterna die publikasie van die boek te probeer keer.

“Hoekom het sy nie iemand gevra wat in die joernale staan nie?” sê Joan oor die Poolse Karina, wie se kennis van Afrikaans dalk beperk is. “Of wou sy dit dalk onbewustelik bekendmaak?” wonder sy.

Hy het probeer om nie “die stem van die joernale te oorskadu nie”, skryf Leon in die voorwoord, “maar om eerder toe te laat dat André P. Brink homself hoorbaar kan maak in die ontvouing van sy innerlike lewe”.

En uit die blaaie van dié opspraakwekkende biografie klink inderdaad as’t ware ’n stem uit die graf op waarmee André lesers opnuut boei, soos soveel kere in sy veelbesproke lewe.

Ekstra Bron: Netwerk24

Foto's: Media24, Gallo Images/Beeld/Media24 Archives, Gallo Images/Sunday Times, Gallo Images/The Times/Shelley Christians, Facebook/Leon de Kock