Bly kalm en gaan voort. Met dié frase wou die Britse regering die bevolking se moreel ’n hupstoot gee toe die onweerswolke van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 op die horison saampak.

En vandag, meer as 80 jaar later, lyk dit of ’n sekere ma van drie jong kinders presies dié raad volg. Want terwyl ander lede van die koningsgesin oënskynlik onder toenemende druk knak, gaan Kate maar net kalm en moedig aan – altyd met ’n glimlag, nie ’n enkele haar uit plek nie, die ene opregte warmte en meelewing.

Koningin Elizabeth het die afgelope ruk omtrent haar hande vol nadat prins Andrew in die nadraai van die Jeffrey Epstein-skandaal verplig was om uit te tree.

Om nie te praat van die bohaai oor Harry en Meghan se besluit om van die koningshuis weg te breek en die pad te vat Kanada toe nie. Maar as daar een mens is wat nié tot die koninklike grys hare bydra nie, is dit die hertogin van Cambridge.

Sy is maar alte bereid om die leemte te vul wat deur die afwesigheid van die drie werkende koninklikes gelaat is, al beteken dit haar werklas verdubbel. Aan die begin van 2020 het kenners voorspel die jaar sou aan Kate behoort – en skaars twee maande later word hulle reeds reg bewys.

Kate Middleton,hertogin van Cambridge
Haar gereelde en oulike interaksie met kinders het daartoe ­gelei dat sy dikwels as “die kinders se prinses” beskryf word. Foto: Gallo Images/Getty Images

Haar program was nog altyd vol, maar sedert vroeg Januarie is dit propvol. Benewens dat sy prins William (37) sy eerste solostaatsgeleentheid help reël het – ’n onthaal vir Afrikaleiers by die Buckinghampaleis – het sy ook ’n warrelwindtoer van Brittanje saam met haar wederhelf onderneem.

Sy het onder meer by die British Academy of Film and Television Arts (Bafta) se jaarlikse prysaand geskitter in ’n asemrowende Alexander McQueen-rok wat sy al voorheen gedra het. Die organiseerders van die geleentheid, wat algemeen as die “Britse Oscars” beskou word, het gaste gevra om “volhoubaar” aan te trek en hulle aangemoedig om ou uitrustings te dra of rokke te huur.

En die immer sensitiewe Kate het ’n wit-en-goue nommer gekies wat sy in 2012 tydens ’n besoek aan Maleisië gedra het. “Sy het soos ’n rolprentster gelyk,” het ’n omstander gesê.

Kate Middleton,hertogin van Cambridge
Kate lyk soos ’n rolprentster saam met prins William tydens die Bafta-prysaand. Sy het ’n Alexander McQueen-rok gedra wat sy al voorheen in 2012 aangehad het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kate en William, wat die voorsitter van die Baftas is, het ook gegiggel toe Margot Robbie ’n stekie na prins Harry inkry terwyl sy Brad Pitt se aanvaardingstoespraak voorgelees het.

Brad het nie die prysaand bygewoon nie (hy het die prys vir beste mansbyspeler vir Once Upon a Time in Hollywood gewen) en Margot het die prys namens hom ontvang.

“Hy sê hy gaan die prys ‘Harry’ noem, want hy is baie opgewonde daaroor om dit saam met hom na Amerika terug te bring,” het sy gesê. “Sy woorde, nie myne nie.”

Ja, Kate het vriendelik bly glimlag, maar sy mis haar swaer, aan wie sy altyd baie geheg was, sê mense in die binnekring. “Sy wens sy kon met Harry praat,” sê ’n bron.

“Sy vrees sy sal nooit weer so na aan hom wees nie.” Die verhouding tussen haar en haar skoonsuster Meghan is “op die laagste punt nog” en die hertoginne het glo maande laas gepraat. Maar Kate het min tyd om oor die negatiewe te tob – daar gebeur eenvoudig te veel in haar lewe.

’n Besoek aan ’n kinderhospitaal, ontbyt opskep vir jong kinders by ’n kleuterskool in Londen, ’n besigtigingstoer van ’n vrouetronk, ’n emosionele Jodeslagting-gedenkdiens – dit alles en nog meer was onlangs op die hertogin se bedrywige program. Net waar sy gaan, wen sy harte en aanhangers. En hiervoor is haar skoonouma glo baie dankbaar.

Kate Middleton,hertogin van Cambridge
Kate steek ’n kersie aan by ’n Jodeslagting-gedenkdiens. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die koningin is ’n aanhanger,” het ’n bron aan die tydskrif Vanity Fair gesê. “Kate is onverstoorbaar. Haar mantra is baie soos die koningin se eie ‘bly kalm en gaan voort’-benadering tot die lewe.

Daarby kry sy dit reg om die koningsgesin amper normaal en in voeling met gewone mense te laat lyk.” Dis onvermydelik dat sy ook met prinses Diana vergelyk word.

Soos haar wyle skoonma het Kate ’n natuurlike warmte en charisma wat haar oral laat inpas. Al het sy daaraan gewoond geraak om op staatsbankette met wêreldleiers skouers te skuur, is sy op haar gelukkigste wanneer sy tussen kinders drukkies en vatvywe uitdeel.

‘Kate vrees sy sal nooit weer so na aan Harry wees nie’

Daarom noem die Britte haar “die kinders se prinses”, ’n bynaam wat herinner aan dié van Diana, wat “die mense se prinses” genoem is.

En, soos Diana, is sy ook ’n rolmodel wat styl betref. Dit is onlangs bevestig toe sy as die voorste koninklike mode-ikoon in Brittanje aangewys is.

In ’n meningspeiling deur Londen se gesaghebbende Retail Fashion Academy het die hertogin 47,8% van die stemme gekry, met 20,1% vir Meghan, wat tweede gekom het.

Die koningin self was in die derde plek. Dit lyk of Kate op die oomblik niks verkeerd kan doen nie. Dis glo ook danksy háár dat haar man ’n nuutgevonde selfvertroue toon terwyl hy al meer koninklike verantwoordelikhede aanvaar.

William, wat van nature skaam is, het soms gesukkel met optredes in die openbaar, maar dit lyk of dit help dat hy Kate aan sy sy het.

Toe die egpaar onlangs in Bradford, Yorkshire, op ’n wandeling gaan, het kommentators opgemerk William lyk veel gemakliker as voorheen.

Kate Middleton,hertogin van Cambridge
In gesprek met ’n personeellid tydens haar besoek aan die Evelina London-kinderhospitaal. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy is nie gewoonlik een vir romantiese gebare nie, maar tot groot vermaak van omstanders het hy sy vrou ’n enkele wit roos gegee wat hy uit ’n bewonderaarsruiker gepluk het.

Die lyftaalkenner Judi James het opgemerk die “ongewoon romantiese openbare vertoon van toegeneentheid” is ’n duidelike teken hy het ’n manier gevind om sy koninklike pligte te geniet.

Trouens, toe gerugte onlangs begin loop dat hy en Kate hul vierde kind verwag, het baie gewonder of hy hom nie dalk te veel geniet het nie.

Die bespiegelings het toegeneem nadat Kate tydens haar besoek aan die Evelina London-kinderhospitaal sonder haar saffier-en-diamantverloofring gesien is.

’n Vrou se vingers swel dikwels tydens swangerskap, gevolglik pas haar ringe dan nie. Maar koninklike bronne het gou verduidelik die hertogin het bloot die hospitaal se beleid van min juweliersware gevolg om kieme te beperk.

In Bradford het ’n aanhanger Kate onlangs gevra of daar ’n kans is dat sy haar kroos sal uitbrei. “Ek dink nie William wil nog hê nie,” het sy geantwoord.

As die ma van drie is haar hande in elk geval vol. Kate roem haar nog altyd daarop dat sy dinge “so normaal moontlik” vir haar spruite, George (6), Charlotte (4) en Louis (22 maande), hou.

Niks is vir haar lekkerder as om die kombuispersoneel by die Kensingtonpaleis die aand af te gee en vir haar gesin pizza te maak nie, het sy in Desember op die televisieprogram A Berry Royal Christmas saam met die baklegende Mary Berry verklap.

En Louis “eet graag” die beet wat sy en William in die tuin op hul landgoed in Norfolk kweek. Nadat die program uitgesaai is, was kykers vol lof vir die hertogin. Kate was “wonderlik”, het een gesê.

“In die Cambridges se hande is die toekoms van die monargie veilig.” 

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, PEOPLE.COM, THESUN.CO.UK