Meghan is as spreker genooi by die Fortune Most Powerful Women Next Gen Summit, ’n aanlyn geleentheid vir gaste wat bereid was om sowat R28 900 op te dok.

Meghan, wat deur ’n video-oproep van haar huis in Santa Barbara, Kalifornië, gepraat het, het gesê sy glo die sosiale media het dieselfde kapasiteit om tot verslawing te lei as dwelms.

“Daar is baie min dinge in die wêreld waar jy die mens wat dit gebruik ’n 'gebruiker’ noem. Mense wat aan dwelms verslaaf is, word gebruikers genoem en mense wat die sosiale media gebruik, word gebruikers genoem,” het Meghan (39) gesê.

“Daar is iets algoritmies daarin wat hierdie obsessie veroorsaak wat ek dink vir baie mense ongesond is. Ek is bekommerd oor mense wat behep daarmee geword het en dis so deel van ons daaglikse kultuur vir soveel mense dat dit ’n verslawing geword het.”

Kort nadat die video uitgereik is, het Twitter-gebruikers daarop gewys dat die opmerkings oor die sosialemedia-verslawing amper identies is aan wat in die gewilde Netflix-dokumentêr The Social Dilemma gemaak word.

“Meghan het die Netflix-dokumentêr The Social Dilemma se teorie oor (sosialemedia-) gebruikers wat soos dwelmverslaafdes is net so gebruik en dan het sy die vermetelheid om te sê sy gebruik dit al jare nie meer nie?” het een Twittergebruiker laat hoor.

Een gebruiker, wat die hertogin van plagiaat beskuldig, het skermfoto’s van The Social Dilemma gedeel met ’n aanhaling deur die statistikus Edward Tufte. “Daar is net twee bedrywe wat hul kliënte ‘gebruikers’ noem: Onwettige dwelms en sagteware,” lui sy aanhaling.

Die dokkie bekyk ook die maniere hoe die sosiale media algoritmes spesifiek ontwerp om verslawing aan te moedig; nog ’n punt wat Meghan tydens die beraad aangeraak het.

Die hertogin het ook die oë laat rek nadat sy aan Fortune se mederedakteur, Emma Hinchliffe, gesê het sy “was baie lank laas op die sosiale media” – ten spyte daarvan dat sy die afgelope paar jaar ’n Instagramblad saam met haar man, prins Harry (36), gedeel het voor hulle vroeër vanjaar amptelik van hul rolle as senior koninklikes afstand gedoen het.

“Ons het ’n (Instagramblad) gehad deur die instelling en ons kantoor wat in Engeland was. Maar dit was nie deur ons bestuur nie, dit was ’n hele span,” het Meghan gesê en bygevoeg sy het “’n persoonlike keuse gemaak om nie enige rekenings te hê nie”. 

Voor sy Harry ontmoet het, was Meghan aktief in die sosiale media en het sy haar eie rekenings hanteer asook haar leefstylblog, The Tig. Dis nie die eerste keer vandeesmaand dat Meghan kommentaar oor die sosiale media lewer wat as omstrede beskou is nie.

Sy het haarself beskryf as die “mens wat in 2019 die meeste ter wêreld onder internettrolle deurgeloop het” toe sy en Harry hul podsending-debuut vroeër in Oktober vir Wêreld-geestesgesondheidsdag gemaak het.

Die podsending, Teenager Therapy, is aanlyn beskryf as “vyf gespanne, slaapontneemde, dog energieke tieners wat sit en gesels oor die stryd van tiener-wees”.

“Ek het gehoor ek was in 2019 die mens wat die meeste onder internettrolle deurgeloop het – man of vrou – ter wêreld,” het Meghan aan die groep tieners gesê.

“Vir agt maande daarvan was ek nie eens sigbaar nie. Ek was op kraamverlof of met ’n baba, maar dit wat vervaardig en uitgereik was, was amper onoorleefbaar. 

“Dis iets so groot dat jy jouself nie kan indink hoe dit voel nie, want ek gee nie om of jy 15 of 25 is nie; as mense onwaarhede oor jou versprei, rig dit baie skade aan jou geestelike en emosionele welstand aan.”

Die kritici het ook hieroor na Meghan gekap en haar daarvan beskuldig dat sy voorgee alles gaan oor haar.

Celia Walden van The Telegraph het haar daarvan beskuldig dat sy die kollig steel pleks van om te luister na wat die tieners op die hart het en van “deugpronkery” en dat sy “uit voeling is”.

Sy het ook daarop gewys dat Meghan inderwaarheid nie die mens was wat die meeste deurgeloop het onder internettrolle in 2019 nie. En dit lyk asof Celia ’n punt het. Volgens ’n studie deur onlinecasino.ca gaan daardie twyfelagtige eer aan die sangeres Adele.

Tweede was die Britse werklikheidster Gemma Collins. Meghan was derde. Die opname het aangedui dat hoewel Meghan in 2019 ’n hoë aantal vermeldings op Twitter gehad het, met 37 000 rekenings wat na haar in hul twiets verwys het, was meer as ’n derde daarvan positief.

Net meer as die helfte was negatief en 15% was neutraal. Dis in sterk kontras met die "Hello"-sangeres Adele wat weens haar drastiese gewigsverlies 21 300 vermeldings het, waarvan slegs 15% positief was.

’n Verstommende 66% was negatief. Gemma Collins het 27 300 vermeldings gehad, waarvan 21% positief, 22% neutraal en 57% negatief was. 

BRONNE: EXPRESS.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, FORTUNE.COM, TIMESLIVE.CO.ZA, MIRROR.CO.UK