Op 29 Januarie het Jussie beweer twee aanhangers van die Amerikaanse president, Donald Trump, het hom aangerand, ’n lus om sy nek gesit en bleikmiddel op hom uitgegooi.

Hollywoodbekendes het hul woede oor die aanval in die sosiale media gedeel en wêreldwyd het die ’n hutsmerk #JusticeForJussie ter ondersteuning van die akteur soos 'n veldbrand versprei.

Maar Donderdagoggend 21 Februarie het Jussie homself aan die polisie oorhandig en word hy nou deur 'n aanklag van 'n vals polisieverklaring in die gesig gestaar wat hom sowat drie jaar agter tralies kan laat beland. Hy is amptelik aangekla omdat sy weergawe van die beweerde homofobiese en rasse-aanval deur die polisieondersoek van alle waarheid ontbloot is.

Volgens Eddie T. Johnson, Chicago se polisiesuperintendent, het Jussie boonop die aaklige dreigbrief aan homself gestuur omdat hy ontevrede was met sy Empire-salaris.

Tydens ’n mediakonferensie het hy Jussie se optrede beskryf as 'n "klap in die gesig van die stad van Chicago" en 'n reklamefoefie om sy loopbaan te bevorder.

Eddie het Jussie daarvan beskuldig dat hy voordeel wou trek uit die pyn en woede van rassisme om sy loopbaan op dreef te kry.

"Ek voel te na gekom en ek is woedend. Hierdie foefie het 'n litteken veroorsaak wat Chicago nie voor verantwoordelik was, en beslis ook nie verdien nie."

Volgens bronne was Jussie ontsteld omdat die dreigbrief wat hy in Januarie "ontvang" het, nie genoeg reaksie na sy sin uitgelok het nie. En dis toe waar hy die plan beraam om die aanval op hom te orkestreer.

As hy in die hof skuldig bevind word, kan hy ook verantwoordelik gehou word vir die onkoste wat tot dusver in die ondersoek na sy beweerde aanval aangegaan is.

Hoewel talle geskok is deur die wending wat die saak nou neem, is daar wel diegene wat van meet af aangevoel iets haper met Jussie se storie. Soos Trevor Noah, die Suid-Afrikaanse komediant en aanbieder van The Daily Show in Amerika.


Dis nie die eerste keer nie

In 2007 is Jussie deur die polisie in Los Angeles vir dronkbestuur voorgekeer. Boonop was sy bestuurslisensie nie meer geldig nie. Hy was toe 25 jaar oud.

Maar Jussie het vinnig gedink en 'n vals naam aan die polisie verskaf - dié van sy jonger broer, Jake. Hy het skuldig gepleit op die aanklag van die verskaffing van foutiewe inligting en is ’n opgeskorte vonnis van twee jaar opgelê met die keuse van ’n boete of tjoekie toe. Hy moes ook ’n rehabilitasieprogram oor alkohol voltooi.

Jussie se ondersteuningsnetwerk tuis

Sy broer Jake het in verskeie kookprogramme verskyn en het klein rolle in televisiereekse vertolk. Hy het op 1 Februarie sy Instagramrekening gesluit en sover bekend nog nie 'n woord oor Jussie gerep nie.

Twee van Jussie se sibbe, Jocqui (25) van Smollett Eats-faam en Jurnee Smollett-Bell (32) het hul ontevredenheid in die sosiale media uitgespreek oor hoe die media Jussie se beweerde aanval hanteer.

Op Instagram het Jurnee 'n foto van Martin Luther King gebruik met dié woorde daarby: "Dit is die media, 'n onverantwoordelike media.

"Dit sal die misdadiger soos die slagoffer laat lyk en die slagoffer soos 'n misdadiger. As jy nie versigtig is nie, sal die media jou mense laat haat wat onderdruk word en lief maak vir die onderdrukkers."

Twee van Jussie se sibbe het hom vuriglik in die m
Twee van Jussie se sibbe het hom vuriglik in die media ondersteun. Foto: Instagram

Jussie se suster Jazz Smollett-Warwell (38), wat by die werklikheidsreeks Living by Design betrokke is, het verlede week bloot gesê haar broer is besig om van die voorval te herstel.

Die vyfde sibbe, Jojo Smollett (41), wat in onder meer die televisiereeks The Practice (1997) verskyn het, handhaaf ook 'n lae profiel.

Van links: Jojo Smollett, Michelle en Barack Obama
Van links: Jojo Smollett, Michelle en Barack Obama, Jussie Smollett. Foto: Twitter (Jussie Smollett)


Wat vooraf gebeur het

In die maand sedert Jussie Smollett beweer het hy is aangeval, het botsende weergawes van die storie die ronde gedoen.

Kort nadat ’n betraande Jussie (36) op Good Morning America was, het die polisie Ola en Abel Osundairo, twee broers van Nigerië, aangehou en ondervra.

Luidens berigte ken die Empire-akteur die twee mans wat intussen vrygelaat is. Een van hulle het ’n klein rolletjie in Empire gehad en die ander een was ’n ruk lank die akteur se persoon­like afrigter.

Maar in ’n vreemde wending beweer mense in die binnekring nou die akteur het die mans betaal om voor te gee hulle het hom aangerand. Bronne na aan die ondersoek beweer hy het die broers R50 000 betaal om hom aan te rand.

Volgens CBS het Abel en Ola aan speurders vertel hulle het die items wat in die aanval gebruik is op Jussie se versoek gekoop en die aanval vooraf geoefen.

Voor die aanval is ’n dreigende brief wat aan Jussie gerig is na die stel van Empire gestuur.

In die brief het in uitgeknipte letters gestaan: “Jy sal sterf, swart f*****”, met ’n prentjie van ’n man wat geskiet en gehang word.

Die bronne beweer die polisie het in ’n klopjag by die broers se huis op tydskrifte afgekom waarvan die blaaie uitgeskeur was.

Hulle probeer nou bepaal of die geskeurde blaaie met die haatpos verbind kan word.

’n Woordvoerder van die polisie in Chicago het aangekondig: “Die inligting wat ontvang is van individue wat die polisie vroeër in die Empire-saak ondervra het, het die fokus van die ondersoek verskuif.”

Jussie se prokureurs het intussen gesê die akteur voel “geviktimiseer” deur berigte dat hy ’n rol in die aanval gespeel het, en bygevoeg: “Niks is verder van die waarheid nie. Enigeen wat iets anders ­beweer, lieg.”

Bronne: imdb.com, dailymail.co.uk, vanityfair.com, cbsnews.com, abcnews.go.com