"Wie volg my nou regtig?" het Ivan, wat destyds die rol van Steyn in 7de Laan vertolk het, gedink toe hy die inskrywing maak. "Wonder of iemand iets gaan sê."

Binne minute het sy mede-akteur Henré Pretorius, oftewel Theuns van 7de Laan-faam, op Ivan se Instagram geskryf: "Sy lyk nes jy. #pompinelkedorp."

"Vriende het gebel en boodskappe gestuur," vertel Ivan oor die foon aan Huisgenoot. "Ek dink hulle het hul gatte af geskrik; hulle was bekommerd hoe ek dit gaan hanteer om nou skielik ’n dogter te hê. Baie van hulle is jammer vir my," sê Ivan. Dan hoor jy die lag in sy stem.

Diegene wat hulle aanlyn na die soekenjin Google gewend het om meer oor Greteli uit te vind, sou later uitvind sy is ook ’n akteur.

Ivan het ’n poets gebak en hy kan nie glo hoeveel mense daarvoor geval het nie. Hy is op die oomblik druk besig om in die Paarl te skiet aan ’n nuwe familiedramareeks, Alles Malan, wat in Junie op kykNET gaan wees. Greteli gaan sy dogter op die kassie speel.

"Dis baie warm hier," vertel Ivan vanaf die stel waar hy net ’n paar minute het voor hy weer voor die kameras moet verskyn.

Die kwik het al tot by die 40 grade Celsius gestyg. Hy vertel gou dat hy Frik Malan speel en Greteli sy 17-jarige dogter, Elani. Hy is getroud met Tessa (gespeel deur Nadia Valvekens) en het ’n aangenome seun, Freek (vertolk deur Matheo Olivier).

Hulle is nou pas terug uit Engeland en Frik moet die familiebesigheid, Malan Vervoer, oorvat. "Dis ’n lekker familiedrama vir oud en jonk," voeg Ivan by.

Die kookwater rolprentmaker-egpaar Corné en René van Rooyen is verantwoordelik vir die teks en die regie. Hulle was verantwoordelik vir Hollywood in My Huis en die bekroonde Vaselinetjie. "Hulle skiet dit so mooi. Dis een van dié rolle in my lewe," erken Ivan.

Hulle skiet al sedert 10 Desember en het nog twee weke oor voor hulle die laaste tonele opneem.

Ivan, ook ’n kranige sportman en avonturier, het dit oorweeg om daarna met ’n fiets van Noord- na Suid-Amerika te ry.

"Maar skielik stroom oudisies, versoeke en projekte in," vertel hy opgewonde. Vir die afgelope twee jaar was sy loopbaan soort van op ys. "Ek dink mense besef nou ek is terug."