Hoekom sou die hertogin van Cambridge dan – terwyl sy haar derde kleinding verwag – dieselfde pienk jas kies wat sy tydens haar swangerskap met Charlotte gedra het? 

Die antwoord is dalk bloot dat sy genoeg van die helderpienk Mulberry-jas hou om dit weer te dra. 

Foto: Getty Images/ Gallo Images

Maar mense wat die koninklikes dophou, wil niks weet nie. Hulle meen Kate stuur met haar klerekeuse ’n onderbewuste boodskap uit: Sy verwag ’n meisie. 

Kate, wat na verwagting in April die lewe sal skenk, het saam met prins William ’n geleentheid bygewoon ter viering van Coventry se aanwysing as nuwe Britse kultuurstad vir 2021. 

Maar alle oë was op die swanger Kate se fuchsia jas gerig, wat sy twee keer tydens haar swangerskap met Charlotte aangehad het. 

Die kleur en keuse om dit weer te dra terwyl sy swanger is, het mense laat bespiegel of prins George (4) en prinses Charlotte (2) ’n sussie sal ryker word. 

Dit is nie die eerste keer dat die hertogin dieselfde klere wat sy tydens haar swangerskap met Charlotte gedra het, weer dra nie. 

People berig sy het onlangs dieselfde blou-en-groen Seraphine-rok gedra wat sy gereeld aangehad het terwyl sy Charlotte verwag het. 

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Of daar waarheid in die gerugte steek en of dit net wensdenkery is, ons sal weldra uitvind of die hertog en hertogin ’n prins of ’n prinses in die wêreld verwelkom. 

Bronne: People, The Mirror, Vanity Fair