Maar blykbaar is die ses jaar lange vete tussen die Bad Blood-sangeres, Taylor Swift, en Katy Perry eindelik iets van die verlede.

Taylor (28), wat binnekort begin toer met haar jongste album, Reputation, het op haar Instagram Stories van ’n pakkie vertel wat Katy (33) aan haar gestuur het.

In die pakkie is ’n olyftakkie, wat simboliseer iemand wil ophou baklei en vrede maak. Taylor het op Instagram geskryf dit beteken vir haar baie. 

In die pakkie is ook ’n briefie van Katy waarin sy skryf: “Liewe Ou Vriendin - Ek dink ’n bietjie terug oor vorige wankommunikasie en die gevoelens tussen ons. Ek wil regtig die lug suiwer. Ek is baie jammer,” berig Buzzfeed.

Niemand kan regtig meer onthou waaroor die twee sangeresse so heen en weer mekaar sleggesê het en selfs liedjies oor hul vete gesing het nie. Daarin het die twee uiting gegee aan hul weersin in mekaar. 

Taylor Swift het in 2014 die liedjie Bad Blood oor dié vete uitgereik.

En verlede jaar het Katy Perry, wat nou as beoordelaar in die Amerikaanse sangreeks American Idol te sien is en in Julie in Suid-Afrika kom toer, ons die danstreffer, Swish Swish, wat oor haar haat vir Taylor handel, gegee. 

Hopelik is dit nou die einde van die sage . . .