Nou blyk dit die koningin se jongste agterkleinkind, Archie, is vernoem na ’n kat!

Prins Harry (34) en sy vrou, Meghan (37), se eersteling, Archie Harrison Mountbatten-Windsor, wat Maandag gebore is, is na Meghan geliefde katkind vernoem, verklap haar vriende.

Volgens Daily Mail was Archie die naam van die voormalige Suits-aktrise se geliefde kat. Archie het sy boonop glo vet gevoer met druiwe, sê haar vriende.

Dié kat was glo die inspirasie agter haar eersteling se naam, word daar nou vertel. Meghan het die kat by haar ma, Doria Ragland (62), gekry nadat sy dit gered het. Maar die kat is later dood toe Meghan destyds na Northwestern Universiteit in Chicago gegaan het om daar teater en internasionale studies te studeer. 

“Dit is geen verrassing dat sy die nuwe baba Archie genoem het nie. Sy was baie lief vir daai kat,” sê ’n vriend van Meghan aan The Sun. “Doria het Archie gered en dit het ’n belangrike deel van hul huishouding geword.

“Meghan was baie lief om met hom te speel en het altyd van hom by haar vriende gepraat,” vertel dié vriend aan The Sun

Die publikasie het selfs 'n video gedeel van Meghan wat destyds vir Archie buite op 'n grasperk vryf. 

Vriende vermoed ook Meghan het haar eersteling Archie genoem omdat sy destyds 'n aanhanger van die Amerikaanse strokiesprent met dieselfde naam was.

Haar pa, Thomas Markle (74), het glo die Archie-strokiesprente versamel. 

Meghan was glo "obsessief" met Archie Andrews, die hoofkarakter in dié strokiesprent.

"Sy het naweke by vintage winkels rondgegaan om die strokiesprente te koop."