Brendan Tighe het in ’n onlangse onderhoud onthul dat terwyl hy ’n lid van Tom se Sciëntologie-sekuriteitseenheid was, het hy per ongeluk afgekom op verslae van vroue wat oudisies afgelê het om in ’n verhouding met die akteur te wees.

Die Avengers-aktrise was een van dié vroue. Maar Scarlett (33) het dadelik teruggekap en die bewerings “vernederend” genoem.

“Ek weier dat enigeen die idee versprei dat ek nie die integriteit het om my eie verhoudings te kies nie,” het sy in ’n verklaring aan The Hollywood Reporter gesê.

Tom en sy eks, Katie Holmes. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis nie die eerste keer dat gerugte van ’n beweerde “oudisieproses vir ’n verhouding” kop uitsteek nie.

Luidens ’n artikel, wat in 2012 in Vanity Fair gepubliseer is, het Sciëntologielede so ’n proses ondergaan en is die aktrise Nazanin Boniadi (38) glo gekies.

Die Homeland-aktrise het van November 2004 tot Januarie 2005 met Tom uitgegaan, waarna hulle uitmekaar is en hy met Katie Holmes (39) begin uitgaan het.

Bronne: TheHollywoodreporter.com, VanityFair.com, Eonline!