Sy was destyds die Aspoestertjie onder die Idolsfinaliste – ’n vrugte­plukker van Grabouw in die Wes-Kaap wat as enkelma van ’n kleuter onder moeilike om­standighede in ’n werkershuisie die pot aan die kook moes hou.

Toe Karin Kortjé in 2005 as wenner van die derde Idolsseisoen aangekondig word, was dit soos ’n sprokie wat waar geword het. Terwyl die vreugdetrane oor haar wange gerol het, het sy gewens haar aanneemouers – toe reeds albei oorlede – kon die oomblik saam met haar beleef.

Maar in haar agterkop was daar ook die hunkering om haar prestasie te vier saam met iemand wat sy nooit geken het nie: haar biologiese ma.

Min het die Idolswenner met die goue stem toe geweet iewers in die Noord-Kaap is ’n vrou wat haar sangloopbaan getrou sou volg, self min wetende dat Karin en die babadogter wat sy as tienerma laat aanneem het dieselfde mens is.

Vandag, byna vier dekades ná hul destydse skeiding, breek die blye dag eindelik aan dat ma en dogter herenig word. Huisgenoot is by om in die spesiale oomblik te deel.

'Hallo, antie Dora'

Toe Dora Watt (57) die kamer op ’n gasteplaas buit
Toe Dora Watt (57) die kamer op ’n gasteplaas buite Springbok in die Noord-Kaap binnestap, stroom die trane oor haar wange. Foto: Corrie Hansen

Toe Dora Watt (57) die kamer op ’n gasteplaas buite Springbok in die Noord-Kaap binnestap, stroom die trane oor haar wange. Sy strek haar arms uit na die dogter wat sy nog net op die TV-skerm en foto’s gesien het.

Karin (39) vou haar arms om haar biologiese ma. Haar bruin oë swem.

Al woorde wat sy aanvanklik uitkry: “Hallo, antie Dora.”

Dit is gelyk ’n intieme en grootse oomblik. Dora was net 17 toe Karin in 1979 gebore is, en sy is destyds nie eens toe­gelaat om haar baba vas te hou of te sien nie. Vandag vind die vroue mekaar weer, maar die oomblik is selfs groter: ma en dogter wat mekaar die eerste keer in hul lewe ontmoet.

Die twee hou mekaar eers lank vas, en dan neem Karin vir Dora aan die hand en lei haar na ’n rusbank.

“Sit hier by my,” sê sy.

Sy streel oor Dora se donker hare.

“Mooi,” prewel sy.

Haar biologiese ma antwoord saggies: “Jy’s net so mooi.”

“Ek is so bly die Here het antie Dora uitgespaar,” sê Karin en kyk met betraande oë na die vrou oor wie sy al die jare ?bly wonder het.

Nadat Karin voorheen twee keer vergeefs haar biologiese ma probeer opspoor het, het sy in Desember verlede jaar die hulp ingeroep van Leonie Erasmus, ’n opspoorder en herkomsspesialis van Kleinmond in die Wes-Kaap.

Leonie was verlede jaar ’n ondersoeker in die werklikheidsprogram Waar Begin Ek Soek? op VIA waarin sy vervreemde familielede met mekaar herenig het.

Die eerste ontmoeting

Die sangeres Karin Kortjé en haar biologiese ma,
Die sangeres Karin Kortjé en haar biologiese ma, Dora Watt, het mekaar eindelik ontmoet. Foto: Corrie Hansen
Dit is gelyk ’n intieme en grootse oomblik. Foto:
Dit is gelyk ’n intieme en grootse oomblik. Foto: Corrie Hansen

In Februarie het Leonie laat weet sy het Karin se biologiese ma op Pofadder in die Noord-Kaap opgespoor. Karin woon deesdae in Kaapstad en het in­gestem dat Huisgenoot saamgaan wanneer sy haar eie ma die eerste keer ontmoet.

“Ek het nooit gedink dit sou eendag gebeur nie,’’ sê sy die aand voor haar eerste ontmoeting met haar biologiese ma op Saterdag 30 Maart.

“Daar was altyd ’n leemte in die lewe,” erken die sangeres op die gasteplaas waar sy die ure aftel tot haar ma se ­aankoms uit Pofadder, sowat 160 km daarvandaan.

“Ek het vrae gehad en gewonder en geen antwoorde gekry nie.”

Die volgende oggend blink die vreugdestrane oor die onmoontlike droom wat waar geword het nog in ma en ­dogter se oë toe Dora Karin se nog on?uit­gesproke vrae wil begin beantwoord.

Jeugjare op Pofadder

'Ek was 17 jaar oud,' is al wat Dora uitkry. Foto
'Ek was 17 jaar oud,' is al wat Dora uitkry. Foto: Corrie Hansen

“Ek was 17 jaar oud,” is al wat Dora uitkry voor Karin haar gerusstel: “Ek verstaan.”

Maar Dora voel sy is haar dogter ’n verduideliking verskuldig en vertel verder van haar jeugjare op Pofadder, waar sy Karin se pa ontmoet het.

“Ons het destyds saam atletiek gedoen. Maar ek weet nie waar hy deesdae is nie,” sê Dora.

Toe sy as skoolmeisie agterkom sy is swanger, was dit ’n skok vir haar en haar ouers, Willem en Wilhelmina. Een van Dora se vier susters was toe ook swanger, maar die baba het kort ná geboorte ­gesterf.

“My broer het ’n kind gehad na wie my ma moes omsien. My ma het gesukkel en sy was siek.”

Haar pa, ’n vragmotorbestuurder, was baie van die huis af weg, vertel Dora oor die redes waarom sy Karin nie destyds kon hou nie.

‘Nee, jy wil mos jou kind opgee’

Sy het gaan raad vra by die kinderhuis op die dorp waar haar ma destyds gewerk het. Die huisouers het haar aan­gemoedig om na ’n tehuis vir ongehude ma’s in Athlone, Kaapstad, te gaan. Daarna sou haar baba deur “mense aan­geneem word wat nie kinders kon kry nie”, het hulle vir haar gesê.

“Dit was koud en nat daar,” onthou Dora die winter­oggend toe sy ’n paar weke voor die geboorte in die Kaap ­aankom.

“Ek het die oggend van 12 Augustus 1979 gekraam. Toe ek die susters daar vra of dit ’n dogtertjie is en of ek haar kan sien en vashou, het hulle gesê: ‘Nee, jy wil mos jou kind opgee.’ ”

Sy kyk af en Karin vryf haar lang­verlore biologiese ma se hand vertroostend.

“Ek het jou toe die naam Yvonne ­gegee,” sê Dora vir Karin. Yvonne is steeds die sangeres se tweede naam. Haar aanneemouers het dit as deel van haar doopnaam behou.

Dora het nooit geweet wie haar baba aangeneem het nie.

“Hulle het net gesê die mense het nie kinders nie.”

Maar Niklaas Kortjé, ’n Telkomwerker, en sy vrou, Margaret, ’n huiswerker, het inderwaarheid reeds vyf seuns en ’n dogter gehad toe hulle Karin aangeneem het toe sy net agt dae oud was.

Dora is ’n paar maande later terug ­Pofadder toe.

“Daar het ek altyd by die kinderhuis­moeder en -vader probeer hoor hoe dit met my dogter gaan. Hulle het altyd gesê sy is in goeie hande.

Dié nuusbrokkies het opgedroog toe die kinderhuispa sterf en sy vrou alzheimer­siekte kry.

“Toe kon ek nie meer oor jou gaan vra nie,” vertel Dora vir Karin.

“Maar ek het altyd onthou. Dit was altyd in my ­agterkop.”

Dora het nooit getrou nie, maar 12 jaar later weer ma geword, weer van ’n dogter, Neldine (nou 28).

“My pa het toe gesê ek moet haar hou en maar eerder gaan werk en dat hy deur die dag na my kind sal kyk,” vertel Dora.

Sy het daarna 23 jaar lank by ’n oue­tehuis op Pofadder gewerk, maar het ­later dié werk gelos om na haar bejaarde ma om te sien. Wilhelmina is nou 95.

“My ma het altyd gesê ek moet vir Neldine vertel ek het nog ’n dogter,” sê sy.

?“Ek het altyd gesê sy moet kans gee; ek sal dit nog doen.”

Eers verlede jaar het sy Neldine eindelik vertel sy het iewers ’n ousus. Toe het hulle nog nie geweet sy is Karin Kortjé nie, die sangeres wat Neldine in 2015 op die Pofadder-liggiefees sien optree het.

Arendsvlei

En toe Dora verlede Oktober die kykNET & kie-telenovelle Arendsvlei begin kyk waarin Karin se stem opklink met die temalied, Liefde en Leed in Arendsvlei, het sy nog geen idee gehad dit is haar lang verlore dogter wat dit so mooi sing nie.

Antie Margaret se aanneemkind

Karin se aanneemouers het nooit vir haar vertel sy is ’n aangenome kind nie. Sy vermoed hulle het moontlik vanweë hul betrokkenheid by die Verenigende Gereformeerde Kerk by die tehuis in Athlone van ?haar gehoor en besluit om haar aan te neem.

“My ma-hulle het destyds gereeld by kinderhuise om­gegaan om kospakkies en klere te gaan gee,” verduidelik sy.

As tiener op Grabouw het sy gehoor mense praat op straat van haar as “antie Margaret se aanneemkind”.

“Ek het nie geweet wat hulle daarmee bedoel nie en het my ma gevra of hulle van aanneming in die kerk praat,” onthou ­Karin.

Haar ma het haar vrae ontwyk, maar toe Karin 15 was, het Margaret besluit sy kan nie langer die aanneming geheim hou nie. Teen dié tyd was sy ’n weduwee, want Niklaas is twee jaar tevore op 58 jaar aan sy hart dood.

Haar moed het haar begewe om self vir Karin te vertel sy is ’n aangenome kind. Toe maak Margaret ’n ander plan.

“Ek het uit die skool gekom en my ma het gesê my broer se meisie van daardie tyd was op die foon,” onthou Karin.

“Toe ek antwoord, het sy my die nuus vertel terwyl my ma in trane daar gestaan het.”

Nee, sy was nie kwaad vir haar aan­neem­ouers omdat hulle haar al die jare in die duister daaroor gehou het nie.

“Ek het geweet hulle het hul bes gedoen om vir my ’n kans in die lewe te gee,” sê Karin.

Sy was by toe haar aanneemma in 1998, Karin se matriekjaar, haar laaste asem uitblaas. ’n Hartkwaal het Margaret (toe 60) se lewe geëis.

Ek het gevoel ek was nie goed genoeg nie en dis hoekom ek wou weet wat haar redes was.

“Ek was baie lief vir haar. Sy was die enigste ma wat ek geken het,” sê Karin.

In haar jongmeisiedae was sy wel soms kwaad vir haar biologiese ma omdat sy haar laat aanneem het.

“Ek het gevoel ek was nie goed genoeg nie en dis hoekom ek wou weet wat haar redes was. Ek is bly sy leef nog sodat ek dit nou self by haar kon hoor,” sê Karin, wat deesdae in Kuilsrivier, noord van Kaapstad, saam met haar kêrel, Angelo Makka (35), en haar vier seuns woon.

Karen en haar kêrel, Angelo Makka (35). Foto: Face
Karen en haar kêrel, Angelo Makka (35). Foto: Facebook (Karin Kortjé)

Cameron (16) is uit haar verhouding met haar jeugliefde gebore wat intussen oorlede is en Tobin (10), Sergio (9) en Joshua (4) uit ’n mislukte huwelik.

Die soektog begin

Toe Karin self ma word, het haar behoefte om haar bio­logiese ma op te spoor ál ­sterker geword.

“Ná Idols het ek begin dink aan my bio­logiese ma, want deur die bekendheid kon ek meer regkry om haar op te spoor,” sê sy. Maar ná twee pogings het dit vir haar gevoel asof sy in ’n doodloopstraat is.

Nadat sy verlede Desember in ’n Facebook-inskrywing gesê het “hoe moeilik dit is om dinge deur te maak sonder ’n ma”, het iemand haar aangemoedig om Leonie te kontak.

Karin het juis ’n paar maande tevore na die VIA-program gekyk waarin dié opspoorder families herenig.

“Ek het vir Leonie ’n e-pos ­gestuur. Sy het my onmiddellik geantwoord en gesê sy het gehoop ek sou haar eendag kon­tak, want sy het destyds gelees ek is aan­geneem.”

In Februarie het Leonie Karin se geboortesertifikaat by ’n tehuis in Bellville, Kaapstad, gekry waarheen al die Athlone-tehuis se dokumentasie gestuur is toe dit gesluit het. Daarop het Dora se naam as haar biologiese ma verskyn.

'Dit is alles in die Here se planne'

Nadat Leonie haar geboortedatum in die hande gekry het, het sy Dora op­gespoor. Sy was by haar deeltydse werk by die regering se gemeenskapswerkeprogram, waar die munisipaliteit burgers betaal om die omgewing skoon te hou, toe sy ’n oproep van ’n Leonie ontvang.

Ná ’n paar vrae om seker te maak dit is die Dora wat ’n baba destyds laat aanneem het, het sy haar vertel haar dogter wil haar opspoor, maar sy het nie toe al vir haar gesê dis die sangeres Karin Kortjé nie.

Kort daarna het Leonie Karin met die nuus gebel dat sy haar biologiese ma opgespoor het.

“Ek kon dit nie glo nie. Ek het gedink dit is so gou,” sê Karin en glimlag.

“Ek het eers my broers en suster gebel, maar nie een van hulle het geantwoord nie. Toe bel ek vir Angelo en bars in trane uit.

“Dit is alles in die Here se planne,” sê sy.

Eers toe Leonie vir Dora sowat twee weke voor haar en Karin se ontmoeting ’n foto van haar dogter stuur, het Dora besef dis die bekende sangeres.

“Sy was so verbaas, want sy en my suster, Neldine, het my loopbaan sedert Idols gevolg,” vertel Karin trots.

’n Paar dae later het sy vir die eerste keer haar biologiese ma se stem gehoor toe sy haar bel.

“Sy het toe ook onmiddellik vir my vertel hoekom sy dit (die aanneming) gedoen het,” sê Karin.

“Sy het gesê sy is jammer. Sy het dit gereeld gesê wanneer ons op WhatsApp gepraat het.”

Al het hulle nog geen bloedtoetse laat doen nie, sê Karin sy “glo 100%” Dora is haar biologiese ma.

“Haar naam is op die dokumente, en die storie wat sy onthou, is presies die storie wat my aanneemma my vertel het van hoe ek in Athlone gebore en aan­geneem is.”

’n Nuwe, groter familie. Karin by haar biologiese
’n Nuwe, groter familie. Karin by haar biologiese halfsuster, Neldine Watt (links), en haar aanneemsuster, Mercia Coetzee. Foto: Corrie Hansen

Neldine, die suster wat sy pas ontmoet het, skerts dat Karin en hul ma dieselfde soort neus het. Sy, haar verloofde, Merrick Orange (29), en hul twee maande oue babadogter, Riley, het Dora die oggend uit Pofadder gebring en tot ná die ontmoeting tussen ma en dogter gewag om Karin te ontmoet.

“Dit is ’n heel nuwe familie en ek is baie bly daaroor,” sê Neldine en glimlag.

Mercia Coetzee (48), Karin se aanneemsuster, het saam met haar uit Kaapstad gekom om haar te by te staan.

“As kinders kon ons nie daaroor praat nie; dit was nie gepas nie,” sê sy oor die geheim van hul kleinsus se aanneming.

“Maar ons is vandag so bly vir haar. Ek wens net ons ma kon by dié ontmoeting gewees het.”

Haar aanneemsibbes weet sy sal hul suster bly, sê Karin.

“Hulle is gelukkig dat ek my biologiese ma en suster gekry het. Hulle weet niks sal verander nie; hulle bly immers my broers en suster.”

Karin weet nou wie haar biologiese pa is. Sy en Leonie wil hom gaan soek.

Sy wil graag ’n verhouding met Dora en Neldine opbou.

“Ek wil hê hulle moet die ware ek leer ken.”

Ook Dora is gretig om die dogter wat sonder haar grootgeword het beter te leer ken.

“Ons sal mekaar gereeld bel en tyd maak vir mekaar,” belowe sy.

Moeilike tye

In haar lewe moes Karin al talle uitdagings die hoof bied, ook sedert sy as Idolswenner in die kollig beland het.

“Soms dink ek as ek nie aangeneem was nie, sou ek nie deur die moeilike tye gegaan het nie,” erken sy.

“Maar ek moes dit deurmaak. Ek moes aangeneem word om die pad te loop wat ek tot dusver geloop het.

“Nou kan ek begin fokus op die pad ­vorentoe en die leemte vul en genesing kry.”

Ná die ontmoeting met Dora het Karin haar vier seuns van hul nuwe ouma ­vertel.

“Jy sal nooit weet waarheen jy op pad is as jy nie weet waarvandaan jy kom nie,” sê sy.

“Jou herkoms is belangrik. Ek wou weet wie ek is en ek wou vir my kinders sê waarvandaan ek kom.”

So soek opspoorder biologiese ouers

Leonie Erasmus (53) van Kleinmond in die Wes-Kaap spoor al die afgelope 30 jaar die biologiese ouers van aangenome kinders op. Van die sake wat sy ondersoek het, is verlede jaar in die VIA-program Waar Begin Ek Soek? uitgesaai.

Sy werk nou saam met aannemingskantore in Suid-Afrika en gebruik die inligting op aannemingsdokumente om die biologiese ma op te spoor. Dit kan die soektog bemoeilik as die ma se geboorte­datum nie verstrek word nie.

“Daar kan ’n paar honderd mense met dieselfde doopname en van wees en dan moet ek deur al die inligting werk tot ek eindelik die regte mens opspoor,” sê Leonie. In sulke gevalle help dit dat sy gewoonlik kan uitpluis hoe oud die biologiese ma nou behoort te wees.

Met die soektog na ’n biologiese pa is dit belangrik dat ’n DNS-toets gereël word, sê Leonie.

“Die mens wat destyds met die aanneming as die biologiese pa aangewys is, is nie altyd die biologiese pa nie. ’n DNS-toets is die enigste manier om dit te bevestig en die regte biologiese pa met die aangenome kind te herenig wat na hom gesoek het.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.