Die laatmiddagson skuil vandag half skaam agter donker onweerswolke hier op die strand aan die KwaZulu-Natalse noordkus. Voor jou breek die branders verwoed teen die rotse; die wind huil droewig. 

Al is soel dae op Ballito Bobby van Jaarsveld se gunsteling, verlang hy selfs nie op mistroostige dae soos dié terug na die gewoel van sy “ou lewe” in die Jakarandastad nie.

Dis hier waar die sanger, ten spyte van vele gesondheidsuitdagings die afgelope paar jare, weer voluit begin leef het. 

“Ek moes myself dwing om rustiger te raak, om nie konstant te jaag na êrens of na iets nie,” sê Bobby (33). Die wind waai deur daardie golwende bruin kuif. Hier op die strand lyk sy oë groener as die geilgroen heuwels. 

Amper versigtig soek-soek hy na woorde terwyl die see fyn druppeltjies soutwater uitspoeg.

“Dis moeilik om te verduidelik,” sê hy. “Ek was altyd besig. En dit eis ’n tol van jou om vir so lank nooit werklik grond te vat nie. Jy voel . . . joeg . . . asof jy jou geliefdes – jou vrou, jou kinders, jou familie – in die steek laat. Want jou werklewe floreer, maar jou persoonlike lewe ly daaronder.” 

Voor hom was ’n kruispad: Hy moes óf aanvaar dat sy sangloopbaan hom van die huis en sy gesin sou hou, óf hy moes briek aandraai en aan ’n ander lewe bou; een waarna hy eintlik al jare lank gesmag het.

Bobby van Jaarsveld
Bobby sê die souterige lug op die kusdorp het hom “lui gemaak”, maar dit sal darem nie vir altyd voortduur nie. Foto: WILLEM BOTHA

En? “Toe pak ons alles op, klim in die motor en kom soek na rustigheid hier langs die see,” sê hy en glimlag. 

Dit was Desember 2018. In die motor was sy vrou, Annatjie (33), en hul kinders, Sion (9), Leben (8) en Armani (4). Agter hom was die treklorrie. En toe die Jakarandastad se flikkerende liggies ál dowwer in sy truspieëltjie word, het hy geweet hy sal waarskynlik nooit weer terugkyk nie.

“In die stad het ek nooit deel gevoel van my kinders se lewe nie. Ek kon nooit daar wees vir ’n konsert of vir ’n rugby game nie. Maar hier kan ek en Anna soggens saam met die kinders langs die strand gaan stap of ure in die buitelug deurbring. Niks jaag ons nie. Ek is deel van alles, van elke oomblik.” 

Hy was byna twee jaar gelede laas op die verhoog agter ’n mikrofoon. Sy jongste album, afgesien van een of twee enkelsnitte, is al ’n halfdekade oud.

Dis die “somervakansie van sy lewe”, sê Bobby, en die beste een nog. Tog is dit geen sorgelose “vakansie” nie. Verlede jaar moes hy ’n vierde uitmergelende stembandoperasie ondergaan, afgesien van drie mantelvliesbreukoperasies die afgelope vier jaar. 

En nadat Bobby verlede maand vir vyf dae in ’n hospitaal  in Pretoria opgeneem is, toe keer weens ’n chroniese tekort aan energie, is slaapapnee by hom gediagnoseer. 

“Man, noem my sommer net oupa Bobby,” spot hy en grinnik.

Bobby van Jaarsveld
Bobby is vandeesmaand terug op die kassie as die karakter Robbie in die tweede seisoen van die SABC2-komediereeks Die vlieënde springbokkie. Foto: Verskaf

Terug op die kassie

AL skerts hy dat hy “lui geraak het” hier langs die see, is daar goeie nuus vir aanhangers wat meen sy blaaskans moet kortgeknip word: Bobby is vandeesmaand terug op die kassie as die karakter Robbie in die tweede seisoen van die SABC2-komediereeks Die vlieënde springbokkie

Beteken dit die einde van sy uitgerekte “somervakansie” is nou in sig?

Hy lag. “Kom ons sê ek sit solank my tone in die water. Maar die water is nog ’n bietjie koud om in te duik – vir nou.” 

Ons gesels by ’n houteetkamertafel met 10 sitplekke in die oopplan leefvertrek van die gesin se nuwe tweeverdiepinghuis op ’n landgoed op Ballito.

In ’n kortbroek en kortmouhemp het Bobby ons aan die bopunt van die 10 trappe kom verwelkom wat na die ingangsportaal lei. Aan sy linkervoet het hy ’n stut. 

“Dis wat gebeur wanneer jy rammetjie-uitnek raak,” verduidelik hy laggend. “Ek wou my seuntjies wys hoe jy behoorlik op ’n supertube gly en toe breek ek my kleintoontjie.

“Sien jy?” sê-vra hy ondeund. “Arme oupa Bobby.” 

Hy maak verskoning vir Annatjie wat nie tuis is nie: Sy het Sion en Leben by ’n “play date” gaan aflaai. 

“Ek kan nie vir jou sê hoe lekker dit is om net weer tuis te wees nie. Ek het heeltemal te gewoond geraak aan ons rustige leefstyl hier,” sê hy.

Hy moes vir ’n ruk sy gesin op Ballito agterlaat om in Die vlieënde springbokkie te gaan speel. Dié wetenskapsfiksie-komediereeks is in Randburg, Gauteng, geskiet.

“Op enige ander dag sal dit sterk masjinerie en baie oorreding vat om my weer in die stad te kry. Maar toe André Odendaal, wat volgens my een van die beste akteurs in die land is, my nader om Robbie te speel, het ek amper nie gedink nie. Jy sê sommer net ‘ja’, want dis hy en André maak magic.”

André behartig die regie van dié reeks wat in die ruimte afspeel. Die bemanning van ’n ruimtetuig wil hulle op die sogenaamde “Earth C” gaan vestig nadat die wêreld te oorbevolk geraak het. Bobby se karakter wil die ruimteskip oorneem, maar daar’s ’n onverwagte wending. 

“Dis ’n moeilike karakter,” sê hy oor Robbie. “Van die tonele is absurd en daar is baie intrige. Dis hierdie soort toneelspel wat my meer en meer daartoe dryf om op televisie te fokus.” 

Hy is ook pas klaar met die verfilming van Highjacked, ’n kortfliek met ’n geestelike boodskap. Hy vertolk die hoofrol van die karakter Jack, ’n kapingslagoffer.

Tussendeur is hy ook doenig as sakeman en hy en twee vennote voer onder die handelsnaam Stouff keramiekbraaiers in van die buiteland en verkoop dit dan hier.

Is dit dan verby met Bobby die sanger?

“Nee, hel!” keer hy. “Dit was my eerste groot liefde en dit sal altyd wees. Maar hier langs die see . . . jong, hier het ek besef lui wees is darem net so lekker.” 

Maar darem nie té lui nie, koes hy dan. Hy het onlangs die enkelsnit “Sprokie” uitgereik – ’n duet saam met die kletsrymer Early B.

Dit was sy “stemdokter”, soos Bobby na die spesialis verwys wat al ’n paar keer aan sy stembande geopereer het, wat hom gemaan het om rustiger te leef, en ook sy stembande meer ruskans tussen optredes te gee.

In Februarie 2016 was hy vir die eerste keer onder die mes om skade aan sy stembande te herstel. Ná ’n tweede soortgelyke operasie in Oktober daardie jaar het hy vir aanhangers gesê hy beoog om “dinge rustiger te vat”. 

Maar dit was makliker gesê as gedaan, erken hy. “My stem is my lewe, dis my visitekaartjie. Daar bly maar altyd daardie vrees oor wat die gevolg sal wees as daar langdurige skade oorbly.” 

Dokters moes by meer as een geleentheid poliepe van sy stembande verwyder. Dit het tot gevolg dat hy, selfs vandag nog, nie vir lang tye kan sing sonder dat sy stem heserig raak of feitlik verdwyn nie.

Daarom was hy verplig om nog twee stembandoperasies, een in 2018 en een in 2019, te ondergaan. 

“Hoekom het dit gebeur? Ek weet nie. Daar is nie regtig ’n eenwoord-antwoord nie. Maar as sanger sit jy jou liggaam soms deur strawwe tye. Die slegste is om ’n vertoning te moet kanselleer; dit probeer jy ten alle koste verhoed. 

The show must go on. Jy sing terwyl jy siek en oorwerk is; jy spuit kortisoon vir jou stem in om die pas te kan volhou. Maar g’n mens is ’n robot nie en eindelik haal dit jou in.” 

Voor die operasies sou hy dikwels vyf of meer konserte in een week hou, tot drie per dag. Maar die vinnige pas het later sy tol begin eis, en nie net van sy stembande nie: Dit het sy hart gebreek elke wanneer hy ’n besondere geleentheid in sy kinders se lewe moes misloop.

“Ek wou ’n meer betrokke pa vir my kinders en ’n man vir my vrou wees. Ek was maar 16 jaar oud toe ek net begin sing het. En ja, soms oordryf ’n mens dit met te veel shows en te veel toere. Dit was nodig om ’n blaaskans te vat.” 

Vir dié ruspouse in sy loopbaan sou daar seker geen plek op aarde beter wees as hier langs die see waar hy dikwels ure lank oor die watermassa tuur of hom in die drukkende hitte in die soutwater laaf nie.

Bobby het immers al in April 2018 by ’n Instagram-foto van hom en Armani, wat in die branders baljaar, geskryf: “Dis lekker by die see. My Armani-muis, eendag sal ons by die see bly. Vir jou? Enigiets.” 

Net meer as ’n halfjaar later het hy daardie belofte nagekom. 

“Ek spot dikwels oor hoe lui ek hier in Ballito geword het – in teenstelling met die vinnige pas van my ou lewe,” sê hy. “Maar dis die waarheid. ’n Mens wil amper nie uit hierdie bubble ontsnap nie, selfs al weet jy dis nie vir ewig nie. 

Dit buite hierdie “bubble” wat die seer van geweldsmisdaad in Suid-Afrika hom keer op keer ruk, vertel Bobby. 

“Ek sukkel om reguit te dink en te funksioneer omdat hierdie tragedie oor Brendin Horner en die afgelope tyd se plaasmoorde my so ruk, seermaak en my gedagtes oorheers . . . Ek kan my nie eers bietjie probeer indink hoe sy mense en al die ander mense wat al deur so iets is moet voel nie,” sê hy. “Ek weet nie meer wat om te sê; wat om te dink; hoe om te voel nie.”

Die lewe is kosbaar, het hy opnuut besef – en dís hoekom elke oomblik saam met sy gesin tel.

“Om soveel tyd saam met my gesin deur te bring, om my kinders te sien grootword . . . hemel, dis priceless. Jy besef hoe nutteloos ’n gejaag na wind en geld is, dat dit nie alles is nie.

“Maar buite hierdie grensmure is daar ook ’n werklikheid. Gaan dit vir altyd duur? Nee. Ek sal weer sing. Maar wanneer weet ek nog nie.” 

Oor sy gesondheid

Buite dreun die enjin van Annatjie se bussie toe sy in die oprit van die huis stilhou. Die petite skoonheid dra amper swaar aan die peuselhappies wat sy gekoop het: Op die skinkbord is hoendervlerkies met ’n doopsous; klein pannekoekies en selfs ’n nagereg.

Sy kom groet gou toe ons na die dek verskuif waarop die boonste verdieping uitloop. Kyk jy mooi, sien jy die see doer op die horison lê.

“Geniet maar die stilte terwyl jy kan,” waarsku Annatjie tergend. “Want as die kinders eers terugkeer, is dit absolute chaos.”

“Nee,” stry Bobby, “dan is dit ’n malhuis.” 

Hulle het net drie maande tevore in die mooi huis met sy groot vensters en oopplan-vertrekke ingetrek. Voorheen het hulle twee verskillende eiendomme op hierdie einste landgoed gehuur. Maar dié een het hulle gekoop en dis “nog nie die laaste een nie”, sê hy.

Toe hulle pas uit Pretoria hierheen getrek het, het hulle eers gehuur om te kyk of hulle hier sou aanpas.

“Ons wou seker maak ons geniet die leefstyl, dat die kinders dit hier by die see sal geniet. En Annatjie is baie familievas. Maar ná net meer as ’n jaar en ’n half het sy een oggend besluit: Dis nou tyd vir koop. Toe weet ek ons is nou hier om te bly.” 

Al het hierdie huis haar hart gesteel, stem sy en Bobby saam: Dis nie hul droomhuis nie. “Ons wil ’n bietjie daaraan werk en hom dan flip. Die eindelike doel is om nader en nader aan die see te skuif – tot ons eendag reg op die see afkyk.”

Dis hier wat Bobby kom aangesterk het nadat hy verlede maand byna ’n week lank in ’n hospitaal in Pretoria was. “Nes ’n mens dink die peste los jou nou uit,” sê hy en rol sy oë. 

“Hierdie keer was ek in die hospitaal om toetse te doen op my stembande; dis nog nie op die plek waar my stemdokter dit soek nie. Die suurvlakke in my liggaam is ook getoets, want ek het al drie mantelvliesbreukoperasies gehad en dan natuurlik die ou groot euwel: slaapapnee.” 

Vir lank kon hy nie konstante tamheid verstaan nie. Veral nie hier by die see waar hy die rustigste is wat hy al ooit in sy lewe was nie.

“Daar is maar altyd daardie inherente vrees dat iets groots met jou liggaam skort,” verduidelik hy. “In my familie is daar byvoorbeeld baie hartaanvalle – en slaapsteurings kan later in jou lewe tot hartsiektes lei. 

“Ek is ’n pa van drie kids onder 10 jaar oud, ’n man vir my vrou. Ek moes seker maak ek behandel die onderliggende simptoom van die moegheid.” 

Nadat ’n dokter al verlede jaar begin vermoed het dat Bobby aan slaapapnee ly, het ’n ontleding van sy slaappatroon dit nou bevestig. Dit is so erg dat hy tot 160 keer per nag ophou asemhaal, en vir tot 40 sekondes op ’n slag. 

Bobby van Jaarsveld
Die sanger het oor die laaste paar jaar verskeie gesondheidsuitdagings ervaar, maar sy lewe langs die see is nou salig. Foto: WILLEM BOTHA

Apnee beteken “geen asemhaling”. Dit gebeur in die meeste gevalle wanneer die spiere agter die tong so ontspan en verslap wanneer jy aan die slaap raak dat dit platval. Dit veroorsaak ’n obstruksie wat keer dat lug by die longe in en uit beweeg. Die toestand kan hartsiektes veroorsaak, want dit laat die pas waarteen jou hart klop, herhaaldelik verander.

Die gevolg is dat Bobby nou – en vir die res van sy lewe – met ’n volgehouepositiewelugwegdruk-masjien in die kooi moet klim. Dis ’n toestel wat oor die neus en mond geplaas word en die vloei van lug na die longe reguleer.

Hy frons. “Ek moet dit seker nie sê nie,” maar dan verklap hy tog: “Ek dink dit gaan ’n bietjie van ’n passion killer wees. Daai masjientjie gil nou nie juis ‘sexy’ wanneer jy dit sien nie.” 

Maar hy het die saak lank en diep oordink . . . 

“Gelukkig slaap Anna gewoonlik lank voor my. Dit kan dalk my enigste behoud in ons huwelik wees,” spot Bobby. “Ek sal maar moet wag tot sy saans uitpass voor ek die ding aan om my kop vasgespe.” 

Maar ná ’n huwelik van byna 10 jaar – en 16 jaar saam – is daar tog sekerlik niks wat haar van hom sal weghou nie?

 “Ja,” beaam Bobby. “Gelukkig vat nie een van ons twee die lewe te ernstig op nie.”

Bobby van Jaarsveld
Bobby sê sy kinders, Leben, Sion en Armani, is sy wêreld. Dis vir hulle – en vir hom – vir wie hy ’n rustiger lewe gesoek het. Foto: WILLEM BOTHA

Oor pa-wees vir sy kinders

Nes Annatjie gewaarsku het, word die stilte plotseling verbreek toe Leben, Sion en Armani die huis binnestorm.

Armani kom spog met haar nuwe speelding, ’n plastiekpoppie. “Kom!” nooi sy opgewonde. “Ek wil jou my ander speelgoed wys.” 

Sion vra hulp met “moeilike huiswerk” en Annatjie gaan gooi gou ’n oog by die eetkamertafel. Leben het ’n plastiekhouer vol sywurms huis toe gebring en kom wys dit vir almal.

“Gaan pluk vir hulle blare daar onder in die straat,” sê Annatjie vir hom. Dan, getroue plaasmeisie wat sy is, voeg sy by: “Jy weet jy het net mannetjies hier in die bak, nè? Die vroutjies het almal swart strepies. Onthou om môre met jou maatjies uit te ruil.” 

Pa Bobby loer vinnig by die bak in en fluister iets voor hy weer sy aandag op die fotosessie toespits. 

“Jy weet,” sê hy met ’n groot glimlag. “Pa-wees sal altyd my grootste roeping bly. Dit voel ná soveel jare steeds erg om te dink dat die Here vir ons, vir my, met hierdie kinders toevertrou het. Ek het nooit vergeet dat hulle my álles is nie, hierdie vier mense, maar ek het vir te lank te min van myself vir hulle gegee.” 

As die sanger en toegewyde gesinsman so praat, begin ’n mens wonder of sy lang somervakansie weg van die konsertverhoog ’n eindelose een gaan word.

Hy sal weer sing, sê Bobby, maar. . . 

“Ek wil nooit weer vir so lank en so aanhoudend van hulle weg wees nie. Ek kan nie – hulle is my wêreld.”

  • Die vlieënde springbokkie word Woensdae om 19:30 op SABC2 uitgesaai.

13:47