Van Grey-kollege se skoolbanke in Bloemfontein tot Parys in Frankryk vir die Wêreldbeker-eindstryd binne 'n jaar – dit was 'n droom wat vir 'n 19-jarige Frans waar geword het. 

Francois Steyn
Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy het boonop as 'n Bok-baba uitgeblink. 

Vaatjie sit knus teen sy baas se bors terwyl Falko
Vaatjie sit knus teen sy baas se bors terwyl Falkovir Frans op sleeptou neem. Foto: Ritamarie du Plessis

Frans het met 'n langafstand-strafskop geslaag wat die eindstryd van die Wêreldbeker in 2007 vir die Bokke beklink het. 

En met 'n baard wat nou sy eens skoongeskeerde tienergesig bedek, is die 32-jarige Frans nou weer terug vir 'n laaste snif vir goud.

View this post on Instagram

Laser focus in training today ? #StrongerTogether

A post shared by SA Rugby (@bokrugby) on

Hy word trouens as 'n belangrike troefkaart onder Rassie Erasmus se Bok-groep beskou, gegewe sy ervaring en vermoë om 'n verskeidenheid posisies van die bank af te dek.

Hier is 'n onderhoud wat ons 11 jaar gelede met hom gevoer het.

Uittreksel uit '’n Ramkat tussen die ooms!’ 27 Maart 2008 - Sulaiman Philip

Waar hy sy hamburger netjies met 'n mes en vurk sit en eet in sy plaaslike Wimpy-restaurant in Umhlanga, Durban, lyk die jong man met die wilde bos blonde hare en rustige geaardheid nes nog ’n sorgelose student. 

Maar Frans Steyn, soms haker en soms losskakel vir die Sharks, het al diep spore op die Suid-Afrikaanse rugbytoneel getrap sedert sy Springbok-debuut agttien maande gelede.

Hy’s immers die jongste laaitie wat nog ooit in 'n Wêreldbekerrugbytoernooi op 'n veld uitgedraf het. Seker dié dat hy dit soms nie kan help om van die ouer spelers onhandig ‘‘oom’’ te noem nie.

Ja, op die veld is hy ’n ‘‘mal, impulsiewe ou’’, erken Frans (20) met 'n glimlag.

‘‘Maar ek het twee kante: Weg van die veld is ek ook die mens wat moet seker maak al my rekeninge is betaal.

‘‘Mense vergeet ek is net twintig jaar oud en wil soms net uitgaan en iets simpels doen,’’ sê hy.

Frans by sy spanmaat Richard Strauss toe hulle alb
Frans by sy spanmaat Richard Strauss toe hulle albei vir die o.19-Bokkies gekies is. Foto: Verskaf

Soos om te gaan dans om stoom af te blaas.

‘‘Ek is nie 'n goeie danser nie, maar ek het vrolike voete!’’ sê hy met 'n breë glimlag.

JP Pietersen is vol lof vir sy Bok- en Sharks-spanmaat. ‘‘Frans is 'n nuwegenerasie-speler wat elke seisoen net beter word,’’ sê hy.

So help hy met sy nou al kenmerkend vreeslose spel in die huidige Super14-seisoen dat die Sharks die enigste Suid-Afrikaanse span is wat tot dusver nog onoorwonne bly.

En as daardie regtervoet eers pale toe mik met 'n skepskop, is die aanhangers reeds soos een man op hul voete. Sy pa, Piet, is trots op sy seun se rugbyprestasies en hoe gou hy grootgeword het.

‘‘Hy behoort nog o.21-rugby te speel, maar is reeds 'n volle Springbok en selfs in die Bokspan klaar 'n senior speler,’’ sê die boer van Bethlehem geesdriftig.

‘‘Dis vir my verrassend om hom nou te hoor praat – hy klink net soveel meer volwasse.’’

Ma Tertia vertel haar jongste seun se Wêrelbeker-wedstryde het haar veral emosioneel laat voel.

‘‘Dit was 'n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie. Ons was in Frankryk vir die eerste twee wedstryde, maar as 'n mens boer, kan jy nie heeltyd oorsee rondflenter nie. Ons het na die halfeindstryd en die eindstryd saam met van die ander spelers se mense gekyk, wat goed was.

“Die senuwees het geknaag!’’

Dit was hoeka die nou al beroemde skepskop teen die Engelse in die eindstryd wat Frans se volwassenheid op die veld bewys het, glo die Springbok- en Sharks agterspeler Ruan Pienaar.

‘‘Toe hy lid van die span geword het, het alles verander. Hy het kreatiwiteit na die middelveld toe gebring,’’ vertel Ruan, wat ook Frans se Wêreldbekerkamermaat was.

Die oudleerling van Grey-kollege in Bloemfontein hoef geen oomblik te dink oor wat sy loopbaan-hoogtepunt tot dusver was nie. 

Hy begin skoon stotter en sukkel om die emosies wat hy ervaar het, te verwoord toe hy oor daardie heuglike aand van die Wêreldbeker-eindstryd in Parys praat.

Maar kenmerkend beskeie swaai hy eerder die gesprek na die skitterende spanmaats saam met wie hy kon uitdraf.

Van links: Butch James. Percy Montgomery en Frans
Van links: Butch James. Percy Montgomery en Frans Steyn vier hul wen teen Australië tydens die Drienasie-reeks in 2007. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dit was so besonders om saam met sulke groot name in rugby te kon speel, om te voel dat hy hul respek verdien het, sê hy. Manne soos Os du Randt, Butch James en Percy Montgomery. 

‘‘Dit was vir my veral spesiaal dat ons die Wêreldbeker kon wen as ek daaraan dink dat daardie span nooit weer saam sal speel nie,’’ sê hy hartseer.

‘‘Jake het my die kans van ’n leeftyd gegee en ek sal hom altyd daarvoor dankbaar wees.’’

En 'n laagtepunt? Die Sharks se skoknederlaag teen die Bulls in die doodsnikke van die Super14- eindstryd verlede jaar, uiteraard. ‘’As dit weer gebeur, hou ek op rugby speel,’’ skerts hy.

Maar vanjaar sal hy alles inspan om verlede jaar se hartverskeurende verlies teen die Bulls te wreek. Nie eens die moontlikheid dat die Sharks se afrigter, Dick Muir, dalk weggaan om die Bokke se assistent-afrigter te word sal sy vasberadenheid demp nie.

‘‘As hy gaan, los Dick die span in 'n goeie toestand om te wen, maak nie saak wie die nuwe afrigter is nie,’’ sê Frans met selfvertroue.

Hy dink nie hy sal ou bene maak op die rugbyveld nie – omdat hy dit so verkies.

‘‘Ek kan nie sien dat ek in die dertigs sal rugby speel nie, want ek wil graag uittree terwyl ek op my beste presteer. En wanneer ek ophou speel, sal ek klaar wees met rugby.

‘‘Ek dink nie ek sal soos Naas Botha op televisie ander spelers se spel bespreek nie. Ek wil teruggaan om op ons familieplaas te boer en 'n regte lewe weg van die kollig te lei. Ek wil my kinders grootmaak en kyk hoe hulle rugby speel.’’

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.