Die maatskappy se woordvoerder, Michelé Stuurman, het die hartseer nuus Donderdagoggend bevestig.

Kanker is ’n jaar gelede by Carrol gediagnoseer, het Michelé bevestig maar kon nie oor die besonderhede uitwei nie.

“Carrol sal onthou word vir haar liefde, haar storie en haar byderwetse kreatiwiteit. Sy het ’n nalatenskap van uitnemendheid, eenheid, bemagtiging en pionierswerk in funksionele kuns. Sy sal baie gemis word,” het Michelé in ’n verklaring, wat deur die maatskappy uitgereik is, gesê.

“Ons gedagtes is by haar familie in hierdie baie hartseer tyd.”

Carrol Boyes vier vanjaar die onderneming se 30ste bestaansjaar.

“Ek het soveel pret saam met julle gehad en julle het my lewe verryk,” was Carrol se boodskap aan haar werknemers luidens die verklaring. Sy het hulle glo altyd aangemoedig om nie net gewoon te wees nie, maar buitengewoon.

Carrol het in Junie vanjaar aan Huisgenoot vertel hoe sy haar sakeryk gebou het

Carrol Boyes, wie se ontwerpe vandag ook inter­nasionaal ­bekend is, is self deur haar sukses verras.

Sy was altyd lief vir koper en om self daarmee te werskaf, maar toe dit in die 1980’s mode word om glimmende koedoe­koppe daarvan as muurversiering te maak, het sy net haar kop geskud.

“O nee, ons moet iets anders met koper doen,” het die kunsonderwyseres gedink.

Sy het toe na die swembad by haar huis in Llandudno, Kaapstad, gekyk en besluit dit kan ’n nuttiger doel dien en haar help om iets nuuts met koper te doen.

“Ek het ál die koperblompotte wat ek gemaak het in die swembad gegooi en dit drie of vier dae daar gelos tot dit groen geword het,” vertel sy nou met ’n laggie.

Die groen lagie wat daarop gevorm het, het haar koperskeppings ’n verouderde voorkoms gegee, net wat sy wou hê. En siedaar, sy het iets kunstigs geskep.

Fyn plooitjies keep om die elegante gryskopvrou se grysblou oë terwyl sy laggend terugdink aan die beginjare van haar suksesvolle sakeonderneming.

Deesdae is Carrol Boyes ’n bekende handelsnaam in Suid-Afrika. Ook in die buiteland in winkels in Londen, New York, Doebai en Australië sal jy die gewilde ontwerpe aantref wat haar naam dra.

Hier by die hoofkantoor van haar onderneming in Paardeneiland, Kaapstad, blink haar span se ontwerpe oral in die vertoonkamer: van swierige suikerlepels tot byderwetse eetgerei vol krulle en draaie en selfs met bene en boude.

Die rakke wemel van keramiekware met gesigte wat kunstig geskets is, groot oë en skewe glimlagte.

Dit is dié onopgesmukte vrou in die donkerblou broek en swart linnehemp se handewerk, 30 jaar se bloedsweet wat alles begin het met drywende blompotte in haar swembad.

“Ek het nooit gedroom dit sou so groot raak nie,” sê Carrol (65) en kyk na al die produkte om haar. Deesdae kry ’n mens ook sjokolade, serpe, skryfbehoeftes en wyn met haar naam op.

Sy ontwerp ook syserpe en juweliersware
Sy ontwerp ook syserpe en juweliersware
Carrol se eiesoortige skryfbehoeftes
Carrol se eiesoortige skryfbehoeftes
Deesdae pryk Carrol se naam ook op wyn
Deesdae pryk Carrol se naam ook op wyn


“Ek wou eintlik maar net kreatief wees en genoeg geld verdien om my rekenings te betaal,” vertel die uitvoerende hoof ewe beskeie oor die verstommende sukses van die onderneming wat sy in 1989 in die kelder van haar huis begin het.

Nou, 30 jaar later, het sy 22 winkels landwyd.

“Nooit in ’n miljoen jaar was dit my bedoeling dat dit so groot moes wees nie.”

Carrol was van kleins af versot op kuns.

“Ek dink ek het my ouers mal gemaak, want ek wou op elke denkbare oppervlak teken,” onthou sy. Haar oupa aan moederskant, Gordon Wyness, het ook graag geskilder.

Sy is die enigste dogter van dr. Dennis Boyes, ’n radioloog, en sy tuisteskepper-­vrou, Lauraine, en het saam met haar twee jonger broers, Charles en John, in Pretoria grootgeword.

Ná matriek aan die St. Mary’s Diocesan School for Girls het Carrol beeldende kuns en Engels aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer, met beeldhou as hoofvak.

Aanvanklik was haar ouers skepties oor haar keuse.

“Baie kunstenaars sukkel soms, en ek dink hulle wou nie hê ek moet sukkel nie,” verduidelik sy.

Ná haar studie het sy sak en pak Kaapstad toe getrek. Die Moederstad met sy natuurskoon het haar al as kind betower toe die gesin oor Desembervakansies hier by haar oupas en oumas kom kuier het.

Carrol het in Houtbaai by ’n gekombineerde laer- en hoërskool begin skoolhou.

“Kuns vir die laerskoolkinders en Engels vir die hoër­skoolkinders. Dit was baie bevredigend.”

As stokperdjie het sy graag met ver­skillende metale geëksperimenteer en daarvan begin droom om heeltyds kuns­tenaar te wees. Sy het genoeg geld gespaar om ses maande te oorleef en op 35 ná 11 jaar as onderwyseres haar loopbaan in ’n nuwe rigting gestuur.

“Dit was ’n groot stap en vreesaan­jaend,” onthou sy.

“Noudat ek al die sakeboeke gelees het, besef ek dit neem omtrent twee jaar voor ’n onderneming geld maak. Maar ek was vasbeslote om dit binne ses maande te laat werk.”

Haar kunswerke moes nie net mooi wees nie, maar ook funksioneel, het sy besluit.

“Dit het net vir my meer sin gemaak, veral uit ’n finansiële oogpunt. Ek het gevoel ek kan my liefde vir beeldhou uitleef en dit terselfdertyd toegankliker vir mense maak.”

Eers het sy piouterjuweliersware gemaak en dit op Saterdae op die mark by Groentemarkplein in die Kaapse middestad probeer smous.

“Ek het later liewer ander mense gevra om die verkoopwerk te doen, want ek het die goed sommer vir mense weggegee wanneer hulle daarvan hou.”

Sy het gedink aan huishoudelike items wat mense elke dag gebruik en slaailepels en eet­gerei van piouter gemaak.

Toe ’n bekende dekorwinkel in die Kaap instem om van haar produkte te verkoop, was dit “ ’n wonderlike voet in die deur”. Daarna het ál meer winkels bestellings geplaas.

Later was daar nie meer genoeg plek in die kelder van haar huis in Llandudno, ’n spogbuurt teen die see, vir al die produkte nie, en die gastekamer het te klein geraak.

Haar pa en jonger broer, Charles, wat toe saam op ’n plaas in Limpopo geboer het, het voorgestel hulle rig ’n groot metaalwerkwinkel daar vir haar in. Charles het dit help bestuur terwyl Carrol vanuit die Kaap ontwerp het.

Tog het die ambisieuse sakevrou soms ook die wind van voor gekry.

“Ek onthou veral toe ek eenkeer by ’n bank vir finansiering gaan aanklop. Die onderneming het al ’n wins begin maak; ek dink ek wou koperplate koop of iets, en ek wou ’n oortrokke rekening van R10 000 hê. Nie eens so baie geld nie. Toe sê die bank vir my hulle sal my help, maar net as my pa vir my borg teken.

“Ek kon dit nie glo nie. Ek was in my laat 30’s, ek het twee grade gehad, en my pa moes nog vir my borg teken. Ek het vir die bank nee dankie gesê en ’n ander plan gemaak,” sê Carrol.

“Ek hoop regtig dit is vandag vir vroue makliker en hulle kry dieselfde geleent­hede as mans,” voeg sy by.

Deesdae word haar produkte hoofsaaklik in Kaapstad vervaardig. Al is sy nie meer regstreeks by die bedryfs­kant van die onderneming betrokke nie, hou sy steeds ’n wakende oog.

Hoewel ’n klein span ontwerpers haar help, bring sy steeds lang ure in haar tuis­ateljee deur, self aan die ontwerp.

'n Nuwe ontwerp wat met sketse verfyn word.
'n Nuwe ontwerp wat met sketse verfyn word.

“Die idees vorm gewoonlik in die nag, in die tye dat ek so half wakker en half aan die slaap is,” verduidelik sy met haar hande.

Wanneer sy weet hoe ’n ontwerp moet lyk, maak sy dadelik ’n gietvorm van klei. Soms verfyn sy die ontwerp eers met ’n skets voor sy die gietvorm maak en vir die kunsdepartement stuur om af te rond en vir die gietwerk te gebruik.

’n Nuwe ontwerp in klei
’n Nuwe ontwerp in klei

Ja, van haar ontwerpe het ook al in die hek geduik. Sy gaan haal ’n abstrakte wit keramiekbotterbak wat lyk soos ’n vrou wat ineengekrimp vooroor lê.

“Ek is mal oor dié botterbak, maar niemand wil dit koop nie,” sê sy.

“Soms skiet jy mis. Solank ek net meer tref as wat ek mis skiet.”

Die uiters privaat sakevrou se voor­malige lewensmaat, die Kaapse keramiekkunstenaar Barbara Jackson, is in 2010 ná ’n kort kankerstryd oorlede.

Haar dogters, wat sy en Carrol saam grootgemaak het, is ook albei kunstenaars. Kim Jackson-Meltzer, wat deesdae in Amerika woon, en Martine Jackson-Klotz van Kaapstad dien dikwels as klankbord vir Carrol wanneer nuwe idees haar te binne skiet.

“My drie kleinkinders hou my geanker. Hulle herinner my aan wat belangrik is in die lewe. Ná ’n moeilike dag maak hulle dinge sommer baie beter,” sê ­Carrol.

Sy het weer liefde gevind en woon deesdae saam met haar nuwe lewensmaat in Seepunt. Daar gaan stap sy graag op die promenade. Sy is ook lief vir lees en swem.

Maar om te skep, te ontwerp en kreatief te wees bly haar eerste liefde.

“Dit gee vir my soveel vreugde om mense se idee van die menslike liggaam uit te daag, om iets te skep wat jou vir ’n oomblik laat dink dat ’n arm wel so ongewoon ver kán strek, al weet ons dit is eintlik onmoontlik.

“Dis net daardie tikkie fantasie.”

VERSKAF, INSTAGRAM/@CARROLBOYESOFFICIAL
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.