Die TV-aanbieder Cato Bekker help vervreemdes om m
Die TV-aanbieder Cato Bekker help vervreemdes om mekaar weer te vind in die kykNET-­reeks Die uitnodiging. Foto: Instagram (@catobekker)

Nou help dié Kapenaar (33) familielede en vriende wat vervreem is weer hul pad na mekaar vind in kykNET se nuwe reeks Die uitnodiging.

Hoe het die idee vir die reeks ontstaan?

Ek kuier af en toe in Nederland. ’n Paar jaar gelede het ek ’n episode van hul weergawe van Die uitnodiging gesien en dink toe dié konsep kan dalk net by ons werk, want mense kan daarmee vereenselwig.

Hoe werk die program?

Iemand skryf in omdat daar mense in hul lewe is wat om die een of ander rede nie meer met mekaar praat nie.

Op die dag van verfilming doen ons afsonderlike onderhoude met sowel die mens wat ingeskryf het as die strydende partye. Ons nooi hulle na ’n ete wat vooraf gereël is en daardie aand plaasvind. En dan wag ons by die restaurant om te sien wie uit die motor klim . . . of nie.

Omdat ons volhoubare versoenings wil bevorder, neem ons in elke episode ’n maatskaplike werker saam. Nadat ek gegroet het, tree sy met hulle in gesprek.

Hoe is jou eie gesinsdinamika?

Ons lewens bestaan uit ’n groot netwerk van verhoudings en elkeen gaan deur fases. Daar is tye wanneer dit glad loop en tye wanneer ’n hegpleistertjie nodig is.

Ek het al wrywing in my verhoudings met vriende of familie beleef. Ons almal het. Daar’s selfs tye wanneer ons die skuldige is. Dan is dit belangrik om jammer te sê. En dís die deel wat nie altyd maklik is nie.

Hoe was jou grootwordjare?

Ek is in Johannesburg gebore en was daar op speelskool. Wanneer ons soggens ons skoentjies uitgetrek en dit buite die klas gelos het, het daar soms ’n parktown prawn ingeklim! Hy’t jou boeglam laat skrik as jy hom per ongeluk met jou inkomende groottoon streel.

Toe ek drie jaar oud was, het ons gesin vir ses jaar in Nederland gaan woon. Daar het ek leer fietsry. Daarna het ons Kaapstad toe getrek, waar ek op skool was.

Wat het jy ná skool studeer?

Ek het ’n B.A. in geesteswetenskappe met sielkunde en Chinees aan die Universiteit Stellenbosch gedoen. Omdat ek so lanklaas Chinees gepraat het, verflou my vermoë. Sielkunde het ek elke dag nodig!

Cato Bekker. Foto: kykNET
Cato Bekker. Foto: kykNET

Waar kom jou liefde vir aanbiedingswerk vandaan?

Seker uit nuuskierigheid oor die wêreld om my. Die mensdom is fassinerend. Daar is geen handleiding nie; ons werk ons lewens maar uit namate dit ontvou. En dan versamel ons wyshede en idees langs die pad. Om al die stories te hoor wat mense in hul jare op aarde al versamel het, is interessant.

Jou loopbaan het in die radiowêreld begin. Hoe was die skuif na TV?

Ek weet nie of dit so is vir almal nie, maar vir my was die oorgang van radio- na TV-aanbieding taamlik maklik. Nie te veel het verander nie. Waar televisie van radio werklik verskil, is vir ’n televisieonderhoud moet jy liefs eers seker maak daar is nie lipstiffie aan jou tande nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe