Die groepie in hul kleurryke uitrustings en kralewerk lyk die ene selfversekerdheid, maar in hul binneste knaag die senuwees.

Hulle is immers op die verhoog van die beroemde Dolby-teater in die Amerikaanse glinsterstad Los Angeles.

Sommer baie ver van die huis af...

Maar dan val hulle weg met hul betowerende vertolking van Vicky Sampson se liedjie African Dream – en onmiddellik verdamp die senuwees soos mis voor ’n Afrika-son. 

En voor die laaste klanke van die liedjie wegsterf, het die 25 Suid-Afrikaners van die Ndlovu-jeugkoor die gehoor en beoordelaars verower – om van miljoene televisiekykers dwarsoor die wêreld nie eens te praat nie. 

Voor hul deelname aan die 14de seisoen van die gewilde Amerikaanse talentsoekkompetisie America’s Got Talent was die koor en hul plattelandse tuiste buite Elandsdoorn in Limpopo selfs aan die meeste Suid-Afrikaners onbekend. 

Maar nadat ’n video van hul oudisie vir die program miljoene kykers in die sosiale media bereik het, het die Ndlovu-koor die wêreld aan die gons.

Selfs die beroemde beoordelaar Simon Cowell, bekend om sy dikwels bytende sarkasme, het laat hoor: “Dit was ’n wonderlike oudisie en ek gaan julle onthou.”

Vir die groepie van Limpopo is dit asof hulle die droom van hul oudisielied uitleef. 

“Ons wou ons storie vertel en die wêreld aan ons koor voorstel,” vertel die dirigent, Ralf Schmitt (37), kort voor die groep vandeesmaand na die VSA terugkeer, dié keer vir die uitkloprondes van die reeks wat regstreeks uitgesaai sal word. 

simon cowell,americas got talent,ndlovu koor
Die beoordelaar Simon Cowell wens hul diri­gent, Ralf Schmitt, geluk met hul vertoning in America’s Got Talent. Foto: YouTube (skermgreep)

“Dit bly ’n Amerikaanse program en ons moet liedjies uitvoer waarby ’n Amerikaanse gehoor sal aanklank vind, maar niks het werklik gekom by die boodskap van African Dream nie,” verduidelik hy.

Lees ’n mens deur al die positiewe kommentaar by die koor se aanlyn video’s, is dit egter duidelik dat Amerikaners nie al gehoor is wat by hul optrede aanklank gevind het nie.

“Suid-Afrika benodig nog ’n 2010 (toe die Wêreldbekersokkertoernooi hier aangebied is) en dis dalk net die ding dié,” lui een van die kommentare wat Ralf diep geroer het.

Die koor het eintlik al verlede Oktober  ná jare se harde werk hul eerste proesel van internetroem gekry toe hulle die superster Ed Sheeran se trefferlied Shape of You gesing het – in Zoeloe. 

Dié video, met begeleiding deur die plaaslike fluitspeler Wouter Kellerman, het ook miljoene kyke ingeryg.

“Ek kan met trots sê ons lewe het nie veel verander ná die sukses nie. Want as ons baie verander het, sou dit ook die etos verander het van wie ons is,” sê Ralf.

Hy vertel baie van die koorlede woon in Limpopo in beskeie huise sonder krag of lopende water. 

Die ondervinding om te reis en in hotelle te bly wanneer hulle toer, is vir hulle ongelooflik. 

“Maar ek haal my hoed af vir die koor­lede. Tot dusver het nog niemand dit na hul kop toe laat gaan nie; almal het gebly wie hulle is.”

Dis nou 10 jaar sedert Ralf in oorleg met die Ndlovu Child Care-program ’n koor begin het. 

“Ek kan met trots sê ons lewe het nie veel verander ná die sukses nie. Want as ons baie verander het, sou dit ook die etos verander het van wie ons is,” sê Ralf.

“Aan die begin het ek ’n tipies voorstedelike vooroordeel gehad,” onthou hy toe ons hom in Johannesburg ontmoet.

Eers was die koor net vir kwesbare en weeskinders van hoogstens 18 jaar oud. Maar Ralf het gou besef dit maak nie sin om lede daarna vaarwel te wil toeroep nie. 

“Hulle maak klaar met skool, maar daar is g’n werkgeleenthede of tersiêre instellings naby nie; so ons laat almal bly.”

Die groter koorgroep bestaan uit 45 lede van tussen 13 en 27 jaar oud, uit wie Ralf weens beperkte finansiering vir reis- en verblyfkoste kleiner groepe kies vir opvoeringstoere. 

Hoewel die koor in 2009 begin is, het hulle eers twee jaar gelede professioneel begin optree. 

ndlovu,jeugkoor,ralf schmitt
Die Ndlovu-jeugkoor se dirigent Ralf Schmitt. Foto: Verskaf

Ralf, ’n boorling van Johannesburg, het voorheen meestal met skoolkore in die Goudstad gewerk. Maar in Limpopo het hy gou ander lewenslesse geleer. 

Aan die begin van sy werk met die Ndlovu-koor het hy aan die kinders inligting gegee om aan hul ouers deur te gee soos hy in die stad gewoond was. 

“Maar eendag het ’n kind na my toe gekom en gesê ek moenie ‘ouers’ sê nie, want party kinders ís die ouers in hul huishouding.”

Musiek het hom nog altyd na aan die hart gelê. 

Ralf was op laerskool in die Drakensberg-seunskoorskool voor hy aan Kearsney-kollege buite Durban gematrikuleer en sy B.Mus.-graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi het.

“Maar eendag het ’n kind na my toe gekom en gesê ek moenie ‘ouers’ sê nie, want party kinders ís die ouers in hul huishouding.”

“Ek is mal daaroor om met Ndlovu te werk en te sien hoe sekere Suid-Afrikaners leef – die uitdagings en die skoonheid daarvan,” sê Ralph.

Hy kan soms ’n bietjie streng wees, bieg hy, maar hy hanteer al die kinders dieselfde. “Al het hulle verskillende uit­dagings, bly ’n kind steeds ’n kind.”

Buiten sy werk met die Ndlovu-jeugkoor is Ralf ook die dirigent van twee ander skoolkore: een in Johannesburg en een in Rustenburg.  

Hy sê as ’n mens werklik musiek wil verstaan, moet jy die oorsprong daarvan gaan soek. 

“Dit is vir my baie lonend om op die platteland te werk; hulle leer my meer as wat ek hulle leer.”

ndlovu,koor,suid-afrika,americas got talent
Die internet gons behoorlik oor die koor se deelname aan die kompetisie se 14de seisoen. Foto: Verskaf

Die koor is verlede Desember deur America’s Got Talent genader om in te skryf nadat hul musiekvideo van Ed Sheeran se liedjie opslae gemaak het. 

Om 25 jong mense van ’n plaaslike gemeenskap in Limpopo in Amerika te kry was eintlik ’n groter uitdaging as die oudisie self, lag Ralf. 

Volledige geboortesertifikate, paspoorte en Amerikaanse visums moes inderhaas vir die koorlede gekry word. 

Nog ’n vereiste was skriftelike toestemming deur hul ouers, wat meestal in ander dele van Suid-Afrika werk. 

“Ons het een drywer gehad wat die land vol gery het om handtekeninge te kry. En ons het net twee dae voor ons Amerika toe moes vlieg ons visums ontvang.”

“Dit is vir my baie lonend om op die platteland te werk; hulle leer my meer as wat ek hulle leer.”

Hulle het in April dae lank aan die eerste en tweede ronde van die program deelgeneem. Dit was die koor se eerste besoek aan Amerika. 

“Wanneer ons nou teruggaan om deel te neem, sal die Amerikaanse publiek weekliks vir ons kan stem,” vertel die energieke, charismatiese Ralf. 

As hulle in die volgende ronde uitgestem word, sal hul besoek slegs twee weke duur. 

Haal hulle die eindronde, sal hulle ses weke aaneen in Amerika wees, sê Ralf opgewonde. 

“Ek het vir my vrou belowe as ons so ver deurdring, sal ek haar Los Angeles toe laat vlieg vir die eindronde.”

ndlovu jeugkoor,americas got talent,musiek
Die koor bestaan uit sowat 45 lede, maar vir America’s Got Talent word 25 lede ingespan. Foto: Corinna Tannian

Hulle werk nou om so goed moontlik in die kompetisie te vaar, maar Ralf sê hul eintlike doelwitte vir die toekoms is dat die koor finansieel op sy eie voete kan staan en om koorlede beroepsvaardighede te leer sodat hulle eendag hulself en hul gesin sal kan onderhou.

“Ek sê altyd ons is daar om lewens te verander. As ons op ons pad pragtige musiek maak, is dit ’n bonus,” sê hy.

En nes die lirieke van African Dream glo hy: As jy dit kan droom, kan jy dit doen.

Dit is immers iets waaraan hy gereeld herinner word in die gemeenskap en geselskap van sy koorlede.