Toe hy destyds as kind in die strate van Port Elizabeth gerap het, het ’n paar ander ouens die ­ritme gehou deur met stokkies op die agterkant van koffieblikke te slaan.

Vandag tik derduisende mense hul voete saam wanneer Early B daardie woorde van hom teen ’n verstommende spoed uitryg. 

Van die lewe se uitdagings kan jy dié suksesvolle rapper, gedoop Earl Swartz (30), niks vertel nie. Hy het grootgeword in ’n buurt waar dinge soos dwelms en bendegeweld iets alledaags was. Tog was hy van kleins af vasbeslote om nie daarin vasgevang te word nie. 

“Al gebeur iets slegs in my lewe, sal ek dit liewer in my lirieke oordra en so antwoorde soek,” sê dié boorling van Bloemendal in Port Elizabeth. Deesdae bereik sy humoristiese musiek­video’s die een ná die ander ’n miljoen trefslae op YouTube.

Kort voor druktyd het hy die Ghoema gewen vir beste hip-hop-liedjie vir sy treffer Ben Ten en is sy debuutalbum, Aangename Kennis, boonop aangewys as die mees gestroomde album van die jaar. Hy was ook benoem vir beste hip-hopalbum en vir nuweling van die jaar. 

Hy hoop om ander met sy sukses te inspireer. “Ek wil jong mense wys daar is iemand van Bloemendal wat nie baie gehad het nie, maar gebruik gemaak het van wat daar was,” vertel hy. 

“Ek gebruik dié buurt as my inspirasie vir liedjies. En ek skryf dit in die slang wat ons in PE praat sodat die jong mense daarmee kan connect.

“Ek maak eerlike musiek oor wat mense voel. Soms laat dit mense smile. Ander kere probeer ek ’n les oordra, soos met Duk vir Drugs, wat vertel hoe dwelms jou op ’n moeilike pad vat,” gesels hy vanuit sy ouerhuis in Bloemendal.

early b
Early B, gedoop Earl Swartz, as ’n klein seuntjie. Foto: Verskaf

Sy tantes het hom kleintyd Early Bird genoem, verduidelik hy die storie van sy verhoognaam. “Ek weet nie hoekom nie, want ek het nie vroeg opgestaan nie . . . inteendeel!”

Maar die naam het gebly. 

As verhoognaam sou dit nie werk nie, veral nie as hy aan rap battles wou deelneem waar rappers mekaar met woorde uitdaag nie.

“Ek het besef die naam gaan ander ouens te veel kans gee om my neer te druk met woorde soos ‘voëltjie’ en ‘birdy’. Toe verkort ek dit.”

Al het Bloemendal sy uitdagings, het Early B goeie herinnerings aan sy kindertyd, sê hy. 

“Ek is trots op my plek. Ek represent hierdie gemeenskap; daarom sê ek altyd in my musiek: ‘Dis vannie Dal af, meisie.’ Soos hulle mos sê: It takes a village. Almal het uitgekyk vir almal se kinders. Ons het respek gehad vir al die anties en ooms. Ons het wegkruipertjie en skopskeloelie in die straat gespeel.” In dié speletjie skop mense die bal vir mekaar en mik na die ­gapings in die groep.

Toe al was hy verbeeldingryk. “Ons het nie baie gehad nie, maar ons was gelukkig met wat daar was. Ek gebruik die voorbeeld van ’n ou matras: Baie mense sien dit as gemors wat uit­gegooi word. Vir ons was dit ’n springkasteel. Ons het altyd iets kwaais uit niks gemaak.”

Eers toe hy ouer word, het Early B bewus geraak van die probleme in sy gemeenskap – vriende wat dwelms begin gebruik, betrokke raak by bendegeweld en as tieners babas in die lewe bring. 

Hy sê hy het nie op hierdie pad beland nie danksy die grondslag wat sy ouers, Boet (67), ’n werktuigkundige, en Linda Swartz (67), ’n verpleegster, vir hom en sy suster, ­Rochelle (35), gelê het. 

early b
Saam met sy ouers, Linda en Boet Swartz. Foto: Verskaf

Sy talent is g’n verrassing nie. Ma Linda sing in die kerkkoor en Boet het voorheen in die orkes van die organi­sasie Boys Brigade die trompet bespeel. Hulle het aanvanklik  gedink hul seun se rap is vreemd, maar deesdae is hulle net soos die res van die gemeenskap baie trots op Bloemendal se bekendste boorling. 

Rochelle is vandag haar kleinboet se bestuurder. “Sy was die een wat vir my gesê het ek het ’n craft waarvan ek ’n loopbaan kan maak.” 

Early B se eerste kennis­making met rap was in sy laer­skooldae toe sy nefie ’n ruk by die gesin kom bly het.

“Hy het sulke skoenboksies vol kassette gehad. Hy het eendag een uitgehaal en gesê: ‘Moenie na dié een luister nie.’ Die hi-fi was in ons ­sitkamer en van die ouens kon vloek soos niemand se besigheid nie,” ver­duidelik hy. 

“As daar nou een ding is wat jy nie moet doen nie: Moenie vir my sê ek kan nie iets doen nie – dan gaan ek dit doen,” sê hy met ’n stout laggie. “Ek het net gewag tot die huis leeg is, toe sit ek die kasset in.”

Hy het geluister hoe die Amerikaanse rapper The Notorious B.I.G. “woorde gooi” en gedink dis wonderlik. “Ek was hooked. ” 

Kort voor lank het Early B self in Bloemendal se strate begin rap. As leerder aan die Hoërskool Bethelsdorp in Port Elizabeth het die droom gegroei.

“Ek het altyd by talentaande gerap. Al het ek Amerikaanse ouens se liedjies gesing, was dit toe al my droom om eendag voor groot skares my eie Afrikaanse liedjies te perform.” 

Ná skool het hy saam met twee vriende, Maurisio Charles en Agemi Arends, die groep MC, Earl & Agemi begin. Hulle het liedjies en video’s by die huis op­geneem. 

Die drie het sewe jaar lank saam op­getree, terwyl Early B ook in 2009 ’n diploma in meganiese ingenieurswese aan die Port Elizabeth-kollege vir Tegniese en Beroepsopleiding behaal het en vyf jaar later ’n diploma in film- en televisie­produksie aan The Media Workshop.

Hy het in 2015 as solokunstenaar begin optree en in April daardie jaar saam met sy vriend Virgil Jacobs die musiekvideo vir sy liedjie Leka Djy op YouTube gedeel. Dit is al meer as 1,4 miljoen keer gekyk.

Hulle het die video destyds op ’n Sondag by ’n huiswinkel in Hillside, om die draai van Bloemendal, verfilm. “Al uit­gawes was snacks en petrol,” vertel hy.

Nooit het hy gedink soveel mense sou daarna kyk nie, maar dit was die begin van groot dinge vir hom. Toe hy gewilder raak, het hy saam met mense soos Emo Adams, Francois van Coke en die musiekgroep Adam begin werk.Op sy debuutalbum, wat in 2018 uitgereik is, sing hy die liedjie Potte saam met Jack Parow en Justin Vega.

Dié liedjie gaan nou wel oor verskillende vroue se boude, maar daar is net een meisie vir hom, sê hy. Meer wil hy nie oor haar verklap nie. 

Toe sy loopbaan vlam vat, het dit ál moeiliker geword om van Port Elizabeth na optredes te reis; daarom trek hy binne­kort Kaap toe. Maar hy wil steeds sy droom met sy gemeenskap deel en hoop om eindelik ook vir ander Bloemendallers ’n platform te skep waarop hulle hul talente kan uitleef.

Die feit dat jong outjies vandag vir hom vertel hulle vind aanklank by sy storie, is vir hom betekenisvol. “Dis ’n humbling maar lonende gevoel. Ek het in my 10 jaar in die bedryf baie ge­wonder of wat ek doen reg is. Dis hoekom dit vir my belangrik is dat my musiek die jonges wys wat gedoen kan word – al het jy min.”