Spelers van die rugbyklubs Toulouse en Clermont in Frankryk het voor die Top-14-eindstryd gereedgestaan om die Franse hoogwaardigheidsbekleërs, insluitend Macron, te ontmoet. Maks, wat tans vir Toulouse uitdraf, het toe sy carpe diem-oomblik ten volle benut. 

Terwyl dié 27-jarige loskopstut die president se hand skud, het hy impulsief besluit om Macron op ’n tong-in-die-kies-wyse vir burgerskap te nader. “Ek is baie trots om in Frankryk te woon. Kan ek asseblief Franse burgerskap kry,” het Maks teenoor Frankryk se Nommer Een kwytgeraak. 

Sy spanmaat Romain Ntamack het later in die kuberruim die gek geskeer en ’n foto gedeel van Maks met ’n Franse paspoort in die hand. “Hy het dit gekry, dankie daarvoor Emmanuel Macron,” het hy by die foto geskryf. 

Maks, wat sedert 2016 in Frankryk woon, vertel aan Huisgenoot dat daar wel waarheid in sy grap is. 

“Ek het in Augustus verlede jaar die proses [om Franse burgerskap] begin. Maar toe het ek komplikasies met die binnelandse sake hierbo gehad,” vertel hy. 

“En toe besluit ek in die oomblik om die Franse president te nader – wie beter as hy om vir my burgerskap te gee?” lag Maks.

Die president se reaksie was glo “baie positief”.

“Hy het gesê: ‘Bravo! Ja, ons kan die proses aan die gang sit,’” sê hy. 

“As jy ná twee jaar ’n Franse span op ’n hoë vlak verteenwoordig en iets vir hul beeld beteken, kom jy in aanmerking vir burgerskap,” vertel Maks. 

Teen September sal hy ook kwalifiseer om vir die Franse nasionale rugbyspan, bekend as Les Blues, uit te draf.

En wil Maks die Franse nasionale span verteenwoordig?

“Absoluut ja!” antwoord hy sonder huiwering. “Ek het ’n groot honger om op die hoogste vlak vir Frankryk te speel.” 

rugby,liefde,paartjie
Hannchen omhels Maks ná een van sy wedstryde vir Toulouse. Foto: Verskaf

Maks is veral ingenome met sy lewe in Toulouse, waar hy saam met sy verloofde, Hannchen Mielmann (26), woon. “Hier is baie om oor trots te wees – die ryk geskiedenis en heerlike kos.” 

Maar, erken hy, die mense is nie so vriendelik soos Suid-Afrikaners nie.

Die paartjie keer volgende maand na Suid-Afrika terug om ewige trou aan mekaar te beloof. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.