Rumacques Gelderbloem
Rumacques Gelderbloem. Foto: Pasella

GESOUTE AANBIEDER

Ons het dié boorling van Worcester in die Wes-Kaap in 2018 leer ken as een van die aanbieders van die joernaalprogram Pasella. Sedertdien het Rumacques Gelderbloem (35) ook al as veldaanbieder in die aktualiteitsprogram Klop! gesig gewys. Hy kuier nou weer in ons sitkamers vir die 28ste seisoen van Pasella.

Hy was nog altyd ’n groot aanhanger van die reeks en het as kind opgesien na Paul Rothmann, wat die afgelope 22 jaar ’n aanbieder van die program is.

Sy heel eerste onderhoud vir Pasella was met die Suidooster-aktrise Jill Levenberg. Rumacques wou nog altyd ’n aanbieder wees. “Om met mense te connect, kennis op te doen en ander te inspireer is ’n voorreg wat ons het.”

Rumacques Gelderbloem se eerste onderhoud vir Pase
Rumacques Gelderbloem se eerste onderhoud vir Pasella was met Jill Levenberg. Foto: Instagram/@pasellatv

SY GROOTWORDJARE

Rumacques het op Worcester grootgeword as die oudste van sy pa, Nolan van der Westhuizen (54), en sy onderwyseres-ma, Cynthia (61), se drie kinders. Hy het ’n jonger broer, Craig (29), en suster, Charlyn (30).

Hy het in 2003 aan die Sekondêre Skool Worcester gematrikuleer.

“My kosbaarste herinneringe van my grootwordjare is om in die reën of son te speel sonder enige bekommernisse oor materialistiese dinge of my identiteit,” sê hy.

Hy het ná skool onder meer bemarking aan die Boland Kollege en die Universiteit van Wes-Kaapland studeer, maar nooit die kursusse voltooi nie omdat hy nie ’n beurs gehad het nie. Daar is nog talent in sy familie.

“Van hulle is baie talentvol wat sang betref,” laat hy hoor.

RAPPER

Sy pad het in 2003 die eerste keer met dié van Simon Witbooi, oftewel die rapper HemelBesem, by ’n kerk op hul tuisdorp, Worcester, gekruis.

Hy was in matriek toe HemelBesem, wat in daardie stadium ’n pastoor by ’n plaaslike kerk was, hom aan rap blootgestel het. Sedertdien speel dié musikant en skrywer, wat sedert 2015 ook ’n aanbieder is in Pasella, ’n groot rol as vriend en mentor in Rumacques se lewe.

Rumacques, wat onder die verhoognaam Oxijin optree, het ook al musiek gemaak saam met HemelBesem en kan gehoor word op die rapper se album Evil is maklik.

Hy woon op Worcester, maar is gedurig op die pad of in die Karoo. Weg van die kameras en die mikrofoon sal jy hom in die natuur aantref.

“Ek sal sit en skryf of my kruie navors by die huis.”

Saam met sy vriend en mentor, HemelBesem. Die twee
Saam met sy vriend en mentor, HemelBesem. Die twee is albei van Worcester en aanbieders van Pasella. Foto: Instagram/@hemelbesem

5 VRAE AAN RUMACQUES

1. Beskryf jouself in vier woorde.

Ontvanklik, gemaklik, sensitief en onbeweeglik.

2. Wat is die raad wat jy bly is jy geïgnoreer het?

As jy nie ’n vaste werk het nie, dan sal jy nêrens kom nie, want ’n mens kom nêrens as jy nie ’n maandelikse salaris het nie.

3. Met watter musikant sal jy graag wil saamwerk?

Met die sangeres Jodi Jantjies.

4. Wat sal jou droomonderhoud wees?

Dit sal met Katlego Maboe wees, want hy is ’n aanbieder na wie ek opsien. Hy is veelsydig en toegewyd.

5. Indien jy nie ’n aanbieder of rapper geword het nie, wat sou jy wees?

’n Kruiedokter en alchemis.

  • Pasella word Woensdae om 19:30 op SABC2 uitgesaai. 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe