Op Verkykerskop in die Vrystaat voer die ou handelshuis, koffiekroeg en hotel jou terug na toeka se tyd, maar jy ry binne ’n oogwink deur die klein plekkie en die dorp verdwyn vinnig in die truspieëltjie.

Sodra dit agter jou lê, sien jy ’n moderne herehuis teen die sandsteenkoppies pryk. Die opvallende gebou links van die hoofpad, net ’n entjie anderkant die dorp, lyk soos iets wat ’n helikopter in ’n rykmansbuurt in Johannesburg gaan oppik en hier kom neersit het.

Dis die tuiste van boer Duncan, die enigste Engelsman in die 11de seisoen van die kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou.

Saam met Christelle (links) en Louise, twee van die drie vroue wat hy in die TV-reeks gekies het om saam plaas toe te gaan. Foto: KykNET

Die teerpad word later grondpad en dan is daar weer ’n stukkie teer voor die plaas se elektriese hek wat jy met ’n sekuriteitskode oopmaak.

Daarna ry jy ’n hele entjie met klippers wat onder die wiele knars tot by nog ’n elektriese hek. In die oprit staan boer Duncan en sy ouers se vier bakkies.

“Wanneer ek vir mense die ligging op Google Maps stuur, lyk dit of ons op ’n klip bly,” groet hy in mooi Afrikaans. Die meeste van sy bure hier praat “die Taal”.

Daarom was dit glad nie vir hom moeilik om met die vier ander topboere op die kassie “te connect” nie, vertel hy sommerso met die intrapslag.

Kykers het Duncan as ’n geslote en ingetoë man leer ken. Maar toe ons by hom in sy reusagtige kombuis met die marmerwerkvlakke kuier, gesels hy hartlik en op sy gemak.

“Ons het lekker oor die weg gekom en hou kontak in ’n WhatsApp-groepie,” vertel hy oor die Boer Soek ’n Vrou-ervaring.

Hy en boer Cassie van Elandslaagte in KwaZulu-Natal is juis na ’n geselligheid genooi by die wenners van die tweede seisoen van die M-Net-kookkompetisie My Kitchen Rules SA, die susters Rox en Spoen Green van Winterton.

Duncan was saam met hul broer op skool. Souties wat in die Afrikaanse boeregemeenskappe uitgeskuif word, bestaan lankal nie meer nie, vertel die 37-jarige.

“Hier is ek ook nooit eensaam nie. Bure nooi my altyd vir ’n braai of aandete.”

Sy sonbruin gesig laat sy glimlag nog witter lyk en beklemtoon sy fletsblou oë. Ma’s kan hom nogal ’n catch vir hul dogters noem.

Die vierjarige kruising Penny is al om sy voete.

Die hond is sy regterhand met die boerdery, maar moet nou met ’n leiband op die bakkie vasgemaak word wanneer Duncan beeskrale toe gaan.

Pasgebore kalfies trippel nog met droë naelstringetjies saam met hul ma’s rond.

“Die koeie is baie beskermend en sal Penny jaag. Hulle sal dink sy is ’n jakkals.”

Dis omtrent ’n gesig om die geil kalweroes onder die bonsmarabeeste op sy plaas te aanskou. Terug by die drieslaapkamerhuis stap ons deur die byderwetse kombuis met ’n ou Agastoof wat nog werk.

Teen die mure is geblokte familiefoto’s van die gesin se destydse jare in die Estcourt-omgewing in KwaZulu-Natal.

Duncan wys na die foto’s en vertel van hul reis van die ou familiegrond in KwaZulu-Natal, wat pa Bruce (66) en sy gesin in 2012 aan die regering verkoop het, tot die plaas hier tussen die N3 en Memel waar hul beesboerdery nou floreer.

In die gang teen die muur is rye antieke borde uit ma Iggy (62) se versameling. Op die balkon staan ’n ou wakis. Die leefruimte en sitkamer is dubbelvolumevertrekke.

“Die vorige eienaar het die plek gebou. Dis ’n bietjie over the top vir my. Hy het maar twee jaar hier in die hoofhuis gebly,” vertel Duncan, wat vyf jaar gelede hier ingetrek het.

In die leefvertrek met sy dierevelle teen die mure is ook ’n gesellige kroeg en ’n potspeltafel.

Die buitedeure maak oop op ’n stoep met ’n braaiplek en asembenemende uitsig oor die groen en bruin vlaktes. Na links sien jy die huis wat die gesin vir Duncan se ouers laat bou het.

Hy en sy pa boer saam. Hier in sy tuin is die koidam nou leeg. “Die sandsteenklippe was te poreus om die water te hou,” verduidelik Duncan.

Duncan by die potspeltafel in sy gesellige leefvertrek. Foto: Fani Mahuntsi

Sy vier rifrughonde lê soos standbeelde op die warmgebakte rotse: Rouge, Jenga, Shumba en Tarka.

En wat het die drie vroue, Christelle, Louise en Kelly, wat Duncan in die reeks na die plaas genooi het oor die huis te sê gehad?

Met ’n droë laggie sê Duncan net: “Hulle het geen kommentaar gelewer nie, maar een het vertel ek sit hier in die middel van nêrens met net die huis en honde.”

Toe voeg hy by: “Maar hier is genoeg natuur en diere om ’n mens besig te hou.”

Duncan is die enigste seun en hy het twee susters: Helen (34) is ’n ontleder by ’n beleggingsmaatskappy in Londen en Melanie (33) werk vir ’n nieregeringsorganisasie in Johannesburg.

Hy het aan die bekende seunskool Michaelhouse in die Natalse Middelland gematrikuleer, die skool wat die Spudboeke geïnspireer het. “Ek ken al daardie stories,” sê hy.

‘Ek het ’n behoefte om met mense te gesels. As jy jouself afsny, sal jy van jou kop af raak’

Duncan was die vyfde geslag wat op die Estcourtfamiliegrond langs die Weenennatuurreservaat met beeste en wild geboer het.

Sedert 1880 het sy voorsate die plaasgrond in die Estcourt-omgewing uitgebrei en opgebou.

Hulle het ná die verkoop van dié grond eers aangebly en mettertyd in die Verkykerskop-omgewing plase gekoop en weiveld gehuur.

“Die regmatige mense woon en werk nou daar (op die destydse familiegrond); die mense wat saam met ons as familie daar was.

Ons het besluit om verandering te omarm en aan te gaan sonder om by politiekery ingetrek te word.

“Ons het ’n lang tyd weiveld van ons werkers gehuur, maar teen die einde van verlede jaar het ons die hele boerdery hierheen verplaas,” verduidelik hy.

“Hier is minder bosluise en dis makliker om die kudde te bestuur, want hier is nie bosse nie. Maar gedurende die winter is hier meer wegholbrande, en die weiding is nie so soet soos die bosveldplantegroei by Estcourt nie. Ons het die vee in die somer hierheen gebring sodat hulle voor die winter kon aanpas.”

Hy het self ook maklik aangepas omdat hier so baie jong boere in die Verkykerskop-omgewing is. Hier voel Duncan geborge. Dit is sowat 45 minute tot in Harrismith, waar hy inkopies doen.

“Ek is baie gelukkig om op my eie te wees. Maar ek het ’n behoefte om met mense te gesels. As jy jouself afsny, sal jy van jou kop af raak.”

Sy goeie vriende Bertus en Zeldine Nel het hom veral gehelp met die Afrikaanse briewe van vroue wat gehou het van wat hulle op die kassie sien.

Op die ou end het twee Afrikaanse en een Engelse vrou as die uitverkorenes by hom kom kuier.

Die boer voor sy indrukwekkende huis op die plaas by Verkykers­kop in die Vrystaat. Foto: Fani Mahuntsi

“Ek is tevrede oor hoe ek in die program voorgestel is. Soos die vervaardigers aan ons verduidelik het: Ons is hul rolprentsterre,” vertel hy.

Of hy liefde gevind het, sal kykers moet wag en sien.

“Ek is bly ek is deur die proses. Die week op die plaas saam met die vroue was baie emosioneel. Ek het niks boerdery gedoen gekry nie. Pa Bruce moes maar daarmee aangaan.

“Soos die Afrikaanse mense mos sê: ‘My batterye was pap,’ ” erken Duncan.

“Die intieme vrae wat ek moes beantwoord, was vir my ’n uitdaging. Ek kan teruggetrokke wees tot ek op my gemak voel. Ek dink nie dit belemmer my kans op liefde nie. As jy met iemand kliek, sal jy jou skanse later laat sak en nader aan die ander mens kom en meer van haar leer.”

Sommige kere het hy so ontbloot gevoel soos wat sy huis hier onbeskut teen wind en weer is. “Maar dis al hoe jy oor jouself en ander kan leer.”

Duncan lag senuweeagtig, sug en verklaar dan geheimsinnig: “Dit was ’n prettige en interessante ervaring.”