Boer Richann, een van die hubare vrygeselle in die
Boer Richann, een van die hubare vrygeselle in die gewilde maatsoekprogram Boer soek ’n vrou, wys twee babaskilderbokkies. Hy boer in die Noord-Vrystaat. Foto: Papi Morake.

Vyf springbokkies kyk jou so half uit die hoogte aan wanneer jy die huis net buite Vredefort in die Noord-Vrystaat nader. Dan sorg hulle met ’n paar sierlike spronge vir meer daglig tussen jou en hulle. 

Die baas van die plaas ontvang jou heelwat hartliker. Dis hier waar Richann Brüssow (30), die singende vrygesel van kykNET se maatsoekprogram Boer soek ’n vrou, die snare tokkel. Maar die kollig kan jou erg ontsenu, erken hy met die intrapslag. 

Tydens sy studentedae aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom het hy gereeld in die stad se kuierplekke sy lyf troebadoer gehou. Om mense te vermaak was vir hom so natuurlik soos om agter ’n trekker se stuur in te skuif. Maar om jouself skielik op televisie te sien is ’n heel ander storie, vertel hy nou. 

“Ek het die eerste aand se episode met ’n kombers oor my kop gekyk. Dit was erg! Dis nie lekker om jouself op TV te sien nie,” erken hy. “Jy leer wel baie van jouself, want ek dink nie ek is so ernstig soos wat ek daar lyk nie. Maar as jy in ’n stresvolle situasie kom . . .” 

’n Paar kilometer hiervandaan boer Richann se pa, Heinrich, met mielies en sonneblomme. Dit is ook by sy ouers se huis waar Richann herder is vir sy skape en skilderbokke, oftewel Northern Cape speckled goats

As hy nou net ’n skapie in die huwelikskraal kan jaag . . . 

Richann en sy pa, Heinrich, wat hoofsaaklik met mi
Richann en sy pa, Heinrich, wat hoofsaaklik met mielies en sonneblomme boer. Richann woon ’n paar kilometer af op die grondpad van sy ouers net buite Vredefort, Vrystaat. Foto: Verskaf.

Richann was voorheen ses jaar in ’n ernstige verhouding, maar wil nie daaroor uitwei nie. 

“Die feit dat ek terug plaas toe gekom het, het beslis ’n rol gespeel. Maar ek het daaruit geleer dat jy op ’n plek moet wees waar jy gelukkig is met jouself en jou omgewing.” 

Sy droomvrou? “Iemand wat ander mense met deernis hanteer,” antwoord hy dadelik. “Boonop is die kombinasie van ’n boer wat ook belangstel in musiekproduksie altyd ’n bietjie anderste, so ek sal daarvan hou as my ideale vrou ook so ’n bietjie teen die stroom gaan en anders en kreatief is.” 

Dis belangrik dat albei hul eie passies het. Maar tog is dit ook belangrik dat hulle dit geniet om sekere dinge saam te doen, wy hy uit. Dalk iets soos musiek maak én boer . . .

Hy was nog op skool toe sy pa vir hom ’n ou nylonsnaar-kitaar gegee het. Maar dis eers op kampus, toe hy sy Palmer-staalsnaar kry, dat sy passie vir musiek behoorlik vlam gevat het. 

“Daardie kitaar het my aangespoor om meer te speel. Ek het bewus geraak van watter musiek ek van hou en het probeer om dit te speel,” verduidelik Richann. 

Kort voor lank het hy by die NG Kandelaar-studentegemeente in Potchefstroom se sangbediening aangesluit en ook in die plaaslike rockgroep Flatlander gespeel. 

Hy is ook ’n kranige musikant wat graag musiek ver
Hy is ook ’n kranige musikant wat graag musiek vervaardig. Foto: Papi Morake.

Die studentelewe in Potchefstroom was nie vir hom ’n groot aanpassing nie, want hy was ook by Potchefstroom Gimnasium op kosskool. Tydens sy studie in menslikehulpbronnebestuur en vir ’n nagraadse diploma in besigheidsbestuur kon hy hom uitleef in sy passie om musiek te maak. 

In 2016 het hy Pretoria toe getrek om videovervaardigingswerk in die bemarkingsveld te doen. Hy het ook ’n jaar lank vir die platemaatskappy Coleske Artists en vir Afrikaans is Groot gewerk. 

Hy het so gereeld moontlik by sy ouers, Heinrich (63) en Marléne (59), op hul Vrystaatse plaas gekuier, en in 2019 het die roepstem van die platteland baie sterk geraak. Sy pa het besluit om die saaiboerdery met kleinvee uit te brei, en dit was Richann se kans. 

“Omdat ons nie ’n groot boerdery het nie, het dit meer sin gemaak dat daar iets anders is waarmee ek kan boer,” verduidelik Richann. 

“Ons het toe begin met die skilderbokke, want mense het nie regtig van hulle geweet nie, en ons het in daardie stadium nog nie baie van hulle gehoor nie.” Deesdae het hy ook ’n skaapkudde. 

‘Ek het die eerste aand se episode met ’n kombers oor my kop gekyk. Dit was erg!’

“Ek pas maklik in enige situasie aan, maar dis eers toe ek finaal teruggetrek het dat ek besef het hoeveel ek die plaas eintlik gemis het. Die stad was vir my lekker, maar ek geniet dit meer om hier te wees. 

“Boerdery gaan stadig, maar elke klein dingetjie wat jy doen en elke besluit wat jy neem, is belangrik vir die toekoms, want jy gaan die vrugte daarvan eers oor sowat twee jaar pluk.” 

En dis met dié dat hy nou voltyds terug op die plaas is dat hy besluit het om in te skryf vir Boer soek ’n vrou. “Ek het elke vorige seisoen gekyk en nooit ’n episode misgeloop nie.” 

Hy het sy kuiergaste versigtig gekies, juis omdat hy weet die plaaslewe is nie vir almal nie. “Ek was daarop ingestel om te kyk of hierdie vroue wat ’n mens kies op die plaas sal kan aanpas.” 

Twee van sy topdrievroue het self ’n plaasagtergrond. En selfs die stadskind Annemien, wat hy eerste huis toe gestuur het, sou op die plaas kon aard, glo hy. 

Richann kon onlangs in Boer soek ’n vrou alleentyd
Richann kon onlangs in Boer soek ’n vrou alleentyd saam met Marizel spandeer. Foto: kykNET.

Kykers kon onlangs sien hoe hy alleentyd saam met René en Marizel deur-bring voor hy moes besluit watter een van hulle volgende huis toe gaan. Hy verklap dat dit hom ’n “groter rustigheid” gegee het oor die finale keuse wat hy moes maak. 

Kort voor druktyd was die episode waar hy die laaste keuse maak nog nie uitgesaai nie. Tog het kykers in ’n onlangse episode gehoor dat Marizel later ’n bietjie soos ’n buitestander gevoel het.

“Ek dink ek is seker dat ek nie die een is wat hy gaan kies nie,” het sy gesê. 

Vir Richann was dit egter belangrik dat al die vroue hul kuier op die plaas geniet. “Die atmosfeer hier op die plaas was altyd lig. Dit is eintlik nie goed dat almal sulke goeie pelle is nie, want as ek iemand moet wegstuur, gaan die ander een ook kwaad wees,” lag hy. 

“Maak nie saak wat gebeur nie, dit was vir my belangrik dat almal ’n goeie tyd gehad het en die vrymoedigheid het om later weer op die plaas te kom kuier.”

Richann kon ook vir René beter leer ken in hul all
Richann kon ook vir René beter leer ken in hul alleentyd. Foto: kykNET.

Dis darem nie heeldag net bokke en skape hier op die plaas nie. Hy maak nog tyd om sy liefde vir musiek uit te leef. “Toe ek in hierdie huis ingetrek het, was die kamer wat ek as ateljee gebruik klaar voor my slaapkamer reg was,” lag hy. 

Hy het tot op eenjarige ouderdom saam met sy ouers in hierdie einste huis gewoon. Daarna het die gesin verhuis na ’n opstal verder af met die grondpad, waar sy ouers vandag steeds woon. 

Sy oë blink toe hy sy geliefde Martin & Co. GPCPA 4-kitaar optel waar dit tussen twee ander akoestiese kitare, ’n elektriese kitaar, ’n banjo en ’n ukelele staan. “Ek is elke aand besig om hier musiek te maak en te vervaardig. Selfs al werk ek nie aan ’n projek vir ander kunstenaars nie, sal ek hier rondspeel en dinge sommer vir die pret vir myself vervaardig,” vertel Richann.

Dan begin hy die snare tokkel om sy slag te wys.

Met die groetslag beklemtoon die boeretroebadoer dat hy nou gereed is om sy solojare in ’n duet te omskep. “Ek het nie hierdie proses begin om net pelle te maak nie . . . Ek wil my droomvrou ontmoet.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.