Net meer as twee maande gelede het hulle vir die eerste keer openlik erken: Hulle is dolverlief op mekaar.

Nou het die akteurspaar Werner Coetser en Marijke van der Westhuizen, wat albei in die sepie Getroud met Rugby speel, groter nuus:

Hulle is verloof, en ja, daardie magie is ’n bababoepie. Hulle wou die nuus eers stil hou, erken die glanspaar. 

Marijke (36) wou seker maak haar ongebore baba is gesond; Werner (31) wou die besef dat hy die eerste keer gaan pa word eers self geniet voor hy dit deel. 

Daarom het die paartjie hul swangerskapsnuus vir eers stil gehou toe Huisgenoot in Januarie vanjaar by hulle gaan inloer het.

Maar langer wil hulle nie die geheim bewaar nie. 

Hulle verwag in Augustus ’n babadogtertjie, en daarna sal die trouklokkies vir die akteurspaar lui. 

Marijke vertel Juwan, haar agtjarige seun uit haar huwelik met Pieter van der Westhuizen, is ewe opgewonde oor die koms van sy sussie. 

Hulle verwag in Augustus ’n babadogtertjie, en daarna sal die trouklokkies vir die akteurspaar lui.

“Ek het begin huil toe ek besef ek is swanger. Ek was in ekstase oor die nuus,” sê Marijke oor die oomblik op 6 Desember verlede jaar toe sy ná ’n swangerskapstoets tuis besef sy word weer ma. 

Werner was net so opgewonde toe sy hom oomblikke daarna vertel sy eersteling is op pad. Hy het haar in die kamer vasgegryp, haar in die oë gekyk en gevra: “Word ek pappa? Is jy ernstig?” 

Marijke lag. “Natuurlik was ek ernstig. Toe druk hy my vas terwyl ek huil; dit was die mooiste oomblik. Dit het vir ons albei net reg gevoel. 

Ons albei was ewe opgewonde dat ons nou gaan ma en pa word,” vertel sy. Waar Werner voorheen bekommerd was oor die verantwoordelikhede wat saam met ouerskap kom, erken hy nou: Dié bekommernisse het soos mis voor die son verdwyn. 

“Ek is verskriklik lief vir Marijke,” sê hy. “Sy is my beste vriendin en nou ook my verloofde en die ma van my kind.” 

Die fyn roos­goud­ring is Maryke se “droomring”.
Die fyn roos­goud­ring is Maryke se “droomring”. Foto: Onkgopotse Koloti

Hulle het geweet daar is ’n kans dat Marijke moontlik kan swanger raak, vertel hulle vandag hier in die Johannesburgse Botaniese Tuin in Emmarentia. 

Marijke vertel sy het sedert Augustus verlede jaar ná raad van ’n dokter die gebruik van die voorbehoedpil gestaak. 

Sy het kort-kort migraine-hoofpyne ervaar en haar dokter het vermoed dit word moontlik deur die gebruik van die voorbehoedpil veroorsaak. 

Die idee dat sy moontlik kon swanger raak, was nie vir een van hulle ’n probleem nie. 

“Ons het vir mekaar gesê ons is lief vir mekaar, en as swangerskap in ons verhaal is, wel, dan sou ons heeltemal oukei wees daarmee. As ek ’n pa moet wees, sou dit vir ons gebeur,” vertel Werner. 

Die idee dat sy moontlik kon swanger raak, was nie vir een van hulle ’n probleem nie.

Marijke knik instemmend. “Ons sê nog sedert die begin van ons verhouding ons is reeds soos man en vrou. Ons het nie probeer swanger raak nie, maar dit sou vir ons wonderlik wees as dit wel gebeur, en toe gebeur dit.” 

In Desember het ’n gevoeligheid by haar naeltjie ontstaan, vertel die aktrise. Dokters het eers gemeen dis ’n naeltjiebreuk, maar toe besef sy een oggend iets is anders as gewoonlik. 

“Werner het my seker twee keer gevra of hy vir my die swangerskapstoets kan gaan koop, maar ek wou nie. Ek was bang dis negatief,” vertel Marijke. 

Maar Werner, teen dié tyd opgewonde oor die vooruitsig om pa te word, het haar toe tog oorreed om ’n swangerskapstoets te doen. 

“Ek het in die kamer op die bed sit en wag toe Marijke die badkamerdeur agter haar toetrek. Ek was rustig; altans, ek dink ek was. Sy was nie ’n minuut in die badkamer nie, toe kom sy uitgestorm. Sy het ’n stralende uitdrukking op haar gesig gehad en ek het dadelik geweet ons gaan saam ouers word,” vertel hy. 

Ð[X§?­¯?Qµ?Ä?ã?
In die Johannesburgse Botaniese Tuin sê die twee hulle is liewer as ooit tevore vir mekaar. Foto: Onkgopotse Koloti

Hulle het in Desember saam ingetrek nadat sy uitgevind het sy is swanger.

Werner het onmiddellik die rol van ’n verantwoordelike pa ingeneem, terg Marijke, en gee hom ’n klop op die skouer. 

“Hy wou dadelik die makelaar bel en die versekering verander. Hy was onmiddellik in pappa-mode.” 

Die akteurspaar het daarna vir Deon Opperman, hoofskrywer van Getroud met Rugby, met die nuus gebel. 

“Hy was in ekstase en het gesê ons moet nou die draaiboek hierheen en daarheen skryf om by die storielyn in ons regte lewe aan te pas,” vertel hulle. Hy speel die losskakel Blitz en sy is Maryke in die sepie. Hul karakters is nie in ’n verhouding nie. 

“Hy wou dadelik die makelaar bel en die versekering verander. Hy was onmiddellik in pappa-mode.”

Hulle het eers Werner se ouers, Johan (56) en Annemarie (58), in Montana in Pretoria gaan vertel. En twee weke later het Marijke die nuus met haar ouers, Derick (67) en Marieta (63), gedeel. 

“Albei ouerpare was ontsettend bly oor die nuus. Werner se ouers omdat hulle nie gedink het hulle sal ’n klein Werries kry nie, en my ouers omdat hulle nie gedink het ek sal nog ’n kind hê nie,” sê sy. 

Trou was nie onmiddellik deel van hul plan nie. Hulle wou nog altyd trou omdat hulle wóú; nie omdat hulle móés nie. 

Maar teen die einde van Januarie, toe Werner die eerste keer sy dogtertjie se hartklop hoor, het sy hart vermurwe. “Ons het voor dit ’n gesprek oor trou gehad en het tot dieselfde gevolgtrekking gekom: Ons wil, maar op ons tyd. Maar ek wou nie meer wag nie. Nadat ek my kind se hartklop gehoor het, het ek geweet ek wil met Marijke trou,” sê hy. 

Nadat hulle al vroeër oor die ideale verloofring gepraat het, het Werner toe stilletjies die ring by ’n Johannesburgse juwelier gaan koop: ’n fyn roosgoudring met ’n kristal – nié ’n diamant nie, nes sy verkies. 

“Ek het darem eers vir Marijke se agtjarige seun gevra of dit reg is as ek met sy ma trou. Hy het gesê dis reg – en die nuus ’n week lank stil gehou. Ook haar ouers het ingestem.” 

Dit was nou wel onbeplan, maar Marijke se swanger­
Dit was nou wel onbeplan, maar Marijke se swanger­skapsnuus is die beste nuus wat hy nóg gekry het, sê Werner. Foto: Onkgopotse Koloti

Op 3 Februarie, op Werner se verjaardag, het hy haar op die piek van ’n berg in die Magaliesberge die jawoord gevra. En sy het verstar gesit. “Is...jy ernstig?” wou sy weet. 

Werner, nog op een knie, het half tergend gesê: “Natuurlik is ek! Wil jy nou met my trou?” Sy wou. 

En daar, ten aanskoue van die talle ander mense op die staproete, jil Marijke toe oorverdowend: Ja! 

Sy moet haarself nog gereeld knyp net om seker te maak sy droom nie, sê Marijke. In ’n stadium het sy gedink sy sal nie weer liefhê nie, maar toe kom Werner. “En kyk nou; hier sit ek. Ek is verlief, ons is verloof en so onbeskryflik gelukkig saam. En dis my droomring,” sê sy. 

Werner is reeds geheg aan die eerste spruit in die huis. “Ag, haar seun is ook my laaitie. Ek het gedink as ons nou ’n dogter kry, het ons sommer een van elk.” 

Al maak die baba eers in Augustus haar opwagting, het albei reeds ’n naam gekies: Werner hou van Leja-Ann en Marijke verkies Layla. 

“Ons gaan kyk hoe sy met geboorte lyk. As sy donker hare het, is dit my naam. As sy ’n ligte gelaat en hare het, is dit Werner se naam,” sê sy. 

Werner is reeds geheg aan die eerste spruit in die huis. “Ag, haar seun is ook my laaitie. Ek het gedink as ons nou ’n dogter kry, het ons sommer een van elk.”

Wanneer die baba kom, sal Marijke ses weke lank nie soggens op die stel kan wees nie. Haar karakter word tydelik uitgeskryf, maar sy sal daarna na die sepie terugkeer. 

Die troue gaan hulle nie haas nie, sê die twee, maar dit sal in die berge gebeur. 

Stralend vertel Marijke: “Ons dink aan vroeg volgende jaar. Maar ons druk dit nie; ’n datum maak nie aan ons saak nie. Ons is gelukkig; ons is geseën. Ons wil dit net eers waardeer voor ons na die volgende fase van ons lewe beweeg.”