Dis ’n stil Sondagoggend in die Munsieville-­plakkerskamp aan die Wes-Rand. ’n Witborskraai sit op die dak van een van die sinkplaathuisies en bespied die omgewing waar inwoners in die wintersonnetjie sit en pluime sigaret­rook die lug instuur.

Stap jy verby die woonwaens met die grondpad op, kom jy by ’n klein sink­huisie waar wasgoed in die wind waai.

Twee blondekopseuntjies peul glimlaggend en nuuskierig by die voordeur uit. Die jongste kom groet die vreemdelinge wat vir sy ma kom kuier het met wakker ogies.

Die twee boeties Jayden en Justin is onafskeidbaar
Die twee boeties Jayden en Justin is onafskeidbaar en speel die hele Munsieville se stowwerige strate vol. Dié twee woelwaters is reeds mal oor hul nuwe kleinboet. Foto: Papi Morake

Die vrou skuifel met moeite by die huis se voordeur uit. Haar pienk pantoffels sleep op die stowwerige grond.

Atletiekrekords

Die Irene Cass (voorheen van Niekerk) wat ons vandag ontvang, lyk soos ’n ander mens as die glimlaggende meisie wat sy eens was.

In 2013 het sy die land se verbeelding aangegryp toe sy met haar atletiektalent die rekords laat spat het.

Vandag is niks van die geesdrif en ywer sigbaar wat dié jong atleet op 15-jarige ouderdom gehad het nie. Haar mondhoeke beur afwaarts. Sy dra ’n swart, lospassende langmouhemp. In haar arms, toegedraai in ’n kombersie, lê ’n pap ­baba van skaars ’n week oud.

“Sy naam is Julian,” stel Irene (22) haar jongste amper onhoorbaar voor terwyl haar oudste, Jayden (6), moedswillig aan haar broek se pante ruk.

Haar middelkind, klein Justin (3), speel om haar rond – ’n woelige, vriendelike agie.

Toe Irene in 2013 op die Ruimsig-­atletiekbaan in Roodepoort die 1 500 m in 4 min. 45 sek. kafgedraf en in die proses ’n nuwe Gauteng-rekord in haar ouderdomsgroep opgestel het, het sy die skare op hul voete gehad.

Sy was oornag beroemd. Nie net het sy kaalvoet gehardloop omdat haar gesin te arm was om hardlooptekkies te bekostig nie; sy het ook dié en ander blitstye met misvormde voete gehardloop.

Misvormde tone

Toe Irene 18 maande oud was, is sy per ongeluk tot in ’n bad kokende water getel. Haar tone het so erg gebrand dat hulle byna afgesit moes word en is steeds misvorm.

Tog het dit begin lyk asof Irene bo haar omstandighede gaan uitstyg.

Skielik was daar beloftes van borge en vooruitsigte om haar atletiekloopbaan oorsee voort te sit en dalk ’n Olimpiese medalje te kry om by die 36 goue medaljes te pas wat sy plaaslik en nasionaal losgehardloop het.

Maar toe word sy in 2014 as 16-jarige meisie swanger met Jayden en haar atletiek­drome word op die lange baan geskuif. Sy moes tydelik ophou hardloop en het nie ná die swangerskap terug­gekeer skool toe nie.

Die geteerde pad wat sy vir haarself oopgehardloop het, was skielik weer soos die klipperige pad vol dongas en glasskerwe wat deur Munsieville loop – en dit was maar net die begin van die uitdagings wat dié jong blonde vrou sedertdien moes oorkom.

Nog ’n kleinding

Irene vou versigtig die kombersie weg van die klein babatjie se gesig. Sy oë is nog bottoe, onbewus van die wêreld rondom hom.

“Ek is nog baie seer van die operasie,” sê sy.

Julian is op 29 Mei, vier dae voor ons besoek, met ’n keisersnee gebore en is nog piepklein. Hy en Irene is eers eergister ontslaan. Die baba was in die hoësorg­eenheid, maar is heeltemal gesond.

“Hy is baie soet en slaap goed,” sê Irene.

“Ek raak maar nog gewoond daaraan om nog ’n kleinding te hê.”

Irene het op 29 Mei die lewe aan Julian geskenk. H
Irene het op 29 Mei die lewe aan Julian geskenk. Hy is nog piepklein, maar is gesond. Foto: Papi Morake

Irene wil nie nog kinders hê noudat daar drie buksies in haar kroos is nie. Sy is tydens die keisersnee ook gesteriliseer.

Skoolliefde

“Dit is nou klaar. Dit is ek en my vier manne,” sê sy, en vir ’n oomblik lyk dit of sy weer wil glimlag. Asof die blondekopseuntjies en hul pa, Iwan Cass (22), tog die leemte kan vul wat deur haar gebroke atletiekdrome gelaat is.

“Jayden en Justin is albei baie besig, maar hulle is mal oor hul nuwe boetie,” sê sy.

Irene en Iwan, haar skoolliefde, is op 27 Augustus 2016 getroud toe Jayden twee jaar oud was. Op dié dag het sy gestraal in ’n pragrok wat wyd na onder uitklok met fyn kant en borduurwerk op die bostuk.

“Ja, ek is gelukkig,” antwoord sy toe ’n mens haar vra.

“Ek is baie lief vir Iwan en my kinders. Dinge gebeur mos maar wat jy nie kan voorspel nie.”

Groot hartseer

Benewens haar atletiekloopbaan wat nou slegs ’n vae herinnering is, moes ­Irene ook sedert ons vorige besoek ’n ander groot hartseer en verlies verwerk.

Haar ma, Irene sr. (56), is in 2017 in die Leratong-hospitaal in Krugersdorp oorlede.

Sy het twee maande in die hospitaal vir haar lewe baklei nadat sy ’n infeksie opgedoen het wat haar brein aangetas het. Irene se pa, Hugo van Niekerk, woon steeds in Munsieville.

“Sy was die gom wat ons familie en Munsieville aanmekaargehou het,” sê Irene.

Haar ma was nie net haar afrigter nie; sy het ook destyds haar bes gedoen om vir haar dogter borge te werf.

“Dink net, as Irene aan die Olimpiese Spele deelneem, kan haar kind sê: ‘Dis my ma wat daar hardloop,’ ” het Irene sr. in 2014 ná Jayden se geboorte aan Huisgenoot gesê.

Irene se oë raak troebel toe sy oor haar ma praat.

“Dit is steeds baie hartseer vir my. Ek mis haar nog elke dag en soek haar hier in die kamp. Sy het nooit eens die kans gekry om regtig ouma te wees vir my kinders nie.”

Voor haar en Iwan se troue in 2016 was Irene nog vol geesdrif en het sy geglo sy gaan weer eendag hardloop.

Ek wil weer hardloop, maar het nie tekkies nie, en op hierdie plek is te veel klippe.

“Ek wil hier uit; na ’n beter plek,” het sy destyds gesê nadat die munisipaliteit die gesin en ander inwoners uit die Kroningspark-woonwapark na Munsieville verskuif het.

Ek wil weer hardloop, maar het nie tekkies nie, en op hierdie plek is te veel klippe. Ek kan nie hier oefen nie.”

Maar hier waar ons vandag in die winter­son saam met haar sit, blyk dit sy droom nie meer daarvan om hardlooptekkies te kry nie.

“Ek dink nie meer aan hardloop nie,” erken sy.

“Dit is nou agter my. Dit is nou ek en my kinders. Vandat my ma dood is, wil ek nie meer aan hardloop dink nie.”

Droomhuis

Sy, Iwan en hul drie seuns woon tans by ’n vriendin in Munsieville in ’n woonwa waaraan ’n sinkhuisie geheg is.

’n Ent verder straataf staan ’n sink­huisie wat Irene aan ons uitwys. Dis te klein vir die Cass-gesin en het boonop geen vensters nie, maar sy en Iwan hoop om dit binnekort in ’n woning te omskep.

“Dit gaan ons droomhuis wees, met genoeg plek vir ons almal,” sê sy.

Irene en die kinders by hul sinkhuis. Hulle woon
Irene en die kinders by hul sinkhuis. Hulle woon nie tans hier nie en spaar om boumateriaal te koop sodat hulle dit in ’n huis kan omskep. Foto: Papi Morake

“Iwan het onlangs ’n werk gekry om swembaddens skoon te maak. Ons wil nou spaar om boumateriaal te koop.”

As sy terughunker na die dae toe sy met die klap van ’n afsitpistool weg­gespring het en met vlerke aan haar voete die een medalje ná die ander verower het, wys sy dit nie.

Sy tuur net voor haar uit en word stil wanneer ’n mens oor atletiek praat. Haar drome wentel nou om haar kinders se toekoms.

“Ek is ’n huisvrou. My droom is vir my kinders om skool toe te gaan en skool klaar te maak. Hulle moet dan oorsee gaan. Hier is niks vir hulle nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.