D’Niel en Rolene het onlangs hul vyfde huweliksher
D’Niel en Rolene het onlangs hul vyfde huweliksherdenking gevier. Hulle meen hulle is meer verlief as die dag toe hulle getrou het. Foto: Suzanne Swart

En daarvan is die Strauss-egpaar ’n immer sprankelende voorbeeld.

Die beeldskone Rolene (28) het geen bekendstelling nodig nie: Sy is in 2014 as Mej. Suid-Afrika aangewys, en in 2015 het sy die land trots gemaak toe sy as ons eerste Mej. Wêreld in baie jare aangewys is.

In ’n japtrap het sy nog groot treë gegee: Sy het haar mediese graad behaal, twee keer ma geword en ’n sentrum vir holistiese gesondheid help begin. Nie sleg vir iemand wat nog nie eens dertig is nie.

Maar jy sal straks verby haar man, D’Niel, stap sonder om te besef watter groot rol hy agter die skerms gespeel het.

D’Niel (38) vertel hy het destyds hard gewerk om Rolene, toe nog sy meisie, met haar voorbereiding vir die twee gesogte skoonheidskompetisies te help.

Hulle het haar Engels gepoets en ure lank gesprekke oor ingewikkelde onderwerpe gevoer sodat Rolene die beoordelaars se taai vrae sal kan beantwoord.

“Ons het aspekte geïdentifiseer om vas te stel wát maak ’n goeie Mej. Wêreld, en toe het ons van ’n kant af vir haar gehelp om dit te implementeer sodat sy die beste weergawe van haarself kan wees,” verduidelik D’Niel in die kantoor van Rolene en haar skoonsus se gesondheidsentrum, RevitaHealth, op die Val de Vie-landgoed naby die Paarl, waar die Strausse ook woon.

“Dit het daaroor gegaan om ’n vergrootglas te sit op dít wat sy reeds is,” verduidelik hy trots.

Rolene, in ’n helderpienk somerrok met haar hare in ’n bolla saamgetrek, knik instemmend. “Ek dink die een ding wat hy my geleer het, en die een ding van my denkwyse wat hy verander het, is dat enigiets moontlik is.

Ek was altyd die klein meisietjie wat geglo het ek kan my drome en doelwitte bereik, maar ek was altyd te bang om te vra – ek kon nooit iemand iets vra nie,” erken sy. “Ek sou byvoorbeeld nooit in die klas opstaan om my juffrou iets te gaan vra nie”.

Dan voeg D’Niel op sy rustige manier by: “En as jy nie vra nie, is die antwoord klaar nee . . . Ons glo regtig enigiets is moontlik. En as ons iets nie regkry nie, dan probeer ons net weer.”

Dié dat die bedryfsingenieur en vennoot in ’n beleggingsonderneming op Stellenbosch hom nie laat afskrik het toe sy idee vir “nog ’n finansiële beplanningsboek” aanvanklik deur ’n uitgewer afgekeur is nie. “Toe is ek net soos: ‘Maar waarvan praat julle?’ ”

Hy het die uitgewer summier gaan sien. “Toe verduidelik ek aan hulle hoekom dit nié ’n finansiële beplanningsboek is nie, maar eerder ’n denkwyse-boek.”

Dit was net meer as ’n jaar gelede, en nou sien daardie boek, Dink soos ’n miljardêr, vandeesmaand landwyd die lig. 

Dink soos 'n miljardêr deur Daniel Strauss word ui
Dink soos 'n miljardêr deur Daniel Strauss word uitgegee deur Tafelberg en is teen R290 beskikbaar by Takealot.com.

Moenie deur die skrywersnaam Daniel Strauss op die voorblad verwar word nie, vertel hy met ’n glimlag. Daniel is sy doopnaam, maar kleintyd op Keimoes het sy ma hom D’Niel genoem en hy het dit ook so geskryf. Deesdae gebruik hy die amptelike spelling op sy loopbaanverwante sosialemediaprofiele, en dit is ook die naam waaronder hy nou skryf.

“Ek het gehoop om my besigheidsnaam Daniel te maak en my persoonlike naam D’Niel sodat mense nie net Miss World en verlowingsartikels kry wanneer hulle my google nie,” terg hy.

Dan, laggend: “Ek probeer die twee skei, maar dit lyk my dis ’n onbegonne taak!”

Hy het reeds deeltyds by die Universiteit Stellenbosch se sakeskool klas gegee toe hy oor sy boek begin droom het. In dié boek deel hy lesse wat hy self as ’n opkomende ondernemer en belegger geleer het. 

Die doel van sy boek?

“Beleggers en entrepreneurs in Suid-Afrika dink anders as in ontwikkelde lande. Ek het besef as ons die denkwyse van mense kan verander, kan die ekonomie regtig vinnig groei,” antwoord hy. En dís wanneer die rande kan begin inrol, glo hy.

“Die eerste deel van hoe ’n miljardêr dink, is: ‘Enigiets is moontlik.’ Benewens dit weet hy ook hoe om dit te doen en daar uit te kom.”

Is hy dan self ’n miljardêr?

“Nee, maar ons is op pad,” antwoord hy en lag. “Hierdie is nie ’n get-rich-quick scheme nie, maar dit verhoog jou waarskynlikheid om oor ’n tydperk ryk te word.” 

Rolene, duidelik net so betrokke by sy boek soos wat hy by haar skoonheidskompetisies was, verduidelik: “Hy sê altyd, ‘Success is not to be pursued; it is to be attracted by the person you become.’ Hierdie boek gaan jou nie noodwendig ’n miljardêr maak nie, maar dit sal jou denkwyse verander sodat jy die persoon word wat sukses aantrek.”

D’Niel vertel hy het met ’n skryfkonsultant saam gewerk om moeilike begrippe op ’n verstaanbare manier vir lesers toeganklik te maak. “Ek het letterlik vir hom by my huis klas gegee. Ek het ure en ure lank die goed aan hom verduidelik,” vertel hy oor die wisselwerking.

Rolene het weer seker gemaak die staaltjies wat hy in die boek oor hulle twee vertel, is reg, en sy het hom geleer hoe om die gebruik van die sosiale media baas te raak.

“As dit nie vir haar was nie, sou ek seker geen Instagram-volgelinge gehad het nie,” lag D’Niel.

En ja, vertel albei, natuurlik het hy deur die skryfproses ook met die pajamadril gehelp nadat hul tweede seuntjie op 10 Februarie verlede jaar gebore is.

“Op Saterdae slaap hy laat, dan kyk ek na die kinders. Sondae slaap ek weer laat, en dan kyk hy na die kinders,” verduidelik Rolene.

“Hy is ’n baie liefdevolle seuntjie,” vertel D’Niel oor die nuutste lid van die gesin.

Rolene koer: “Hy laat my baie aan D’Niel dink. Hy lyk op ’n druppel soos sy pa. Hy is so sag en gee heeltyd drukkies en lag altyd.”

Hul oudste, nou vier jaar oud, is ’n trotse ouboet. “Hy het ’n sterk wil, maar hy is ’n liewe kindjie,” vertel D’Niel trots. “Hy sal in die middel van die dag na sy boetie se klassie toe stap, so vertel die juffrouens, en vir hom ’n drukkie en soentjie gee. Dan stap hy terug na sy klassie toe.”

Die ouerpaar maak seker albei hul seuns kry genoeg van hul tyd en aandag.

“As enigiemand inkom en oor die kleintjie ’n bohaai maak, sal ons weer moeite doen en sê: ‘Maar het julle gesien hierdie ene . . .” vertel D’Niel.

Hulle deel nie hul kinders se name in die media nie.

Die prentjiemooi Strauss-gesin. Rolene, D’Niel en
Die prentjiemooi Strauss-gesin. Rolene, D’Niel en hul twee spruite sien uit na ’n bedrywige 2021. Foto: Suzanne Swart

In 2020 het dinge aanvanklik druk gegaan, erken D’Niel, maar hulle het ook in dié tyd besluit om na geleenthede in die nuwe werklikheid te soek.

“In ’n stadium het ons sit en gesels oor mense wat sê hoe verveeld hulle is, hoe hulle Netflix kyk en allerhande dinge doen. Maar ek en Rolene was so besig om iets te probeer doen om te vergoed vir dít wat ons verloor het,” verduidelik D’Niel.

Rolene, wat deesdae vir ’n meestersgraad in sakeafrigting studeer, kon nie met haar motiveringspraatjies voortgaan nie. Ook haar werk by RevitaHealth het aanvanklik weens die inperking tot ’n stilstand geknars.

Maar toe het sy begin om elke Dinsdag op Instagram ’n praatjie, Time Out Tuesday, aan te bied, sy het onlangs haar reeks dagbeplanners bekendgestel en boonop self aan ’n nuwe boek begin werk.

“Daar was toe níks tyd vir kaste regpak nie,” lag sy. “Ek dink 2020 was die begin van baie nuwe dinge.”

Dit verg beplanning om al hul balle in die lug te hou, want albei werk heeltyds. Rolene meestal by haar kantoor op die Val de Vie-landgoed en D’Niel op Stellenbosch of in hul gedeelde tuiskantoor.

“Nou met ons jongste is dit vir ons moeilik om ’n vaste oggendroetine te hê,” erken Rolene.

Soms oefen hulle saam voor hulle die kinders by die skooltjie op die landgoed gaan aflaai, ander dae gaan hulle saam gimnasium toe, waarna hulle elkeen hul eie werkdag aanpak.

Die twee maak beurte om die kinders smiddae by die skool op te laai.

“Ons oudste sê in die oggend wie hom by die skool moet gaan haal; Rolene is beslis die gewildste,” sê D’Niel droogweg.

Saans tussen halfsewe en halfagt is dit bad- en slaaptyd. “En dan het ons twee tyd vir mekaar,” sê Rolene. Tyd vir nog drome, nog planne en sommer net vir man en vrou wees.

Ingenome vertel D’Niel: “Ons is nou meer verlief as toe ons getrou het.”

Want selfs vir ’n aspirantmiljardêr bly liefde die grootste skat. 

Luister na Daniel Strauss
  • Skakel Donderdag 4 Maart om 20:00 in op Netwerk24 se webtuiste om te luister na die finansiële raadgewer Theo Vorster in gesprek met Daniel Strauss oor sy nuwe boek, Dink soos ’n miljardêr, uitgegee deur Tafelberg, wat reeds op die rakke van alle goeie boekwinkels beskikbaar is.
  • Dis gratis vir intekenare. Teken hier in op die webtuiste of laai die app af.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe