Met sy passie vir die see, lang blonde hare en gespierde lyf het hy gou die bynaam Aquaman gekry op Survivor South Africa: Island of Secrets, wat op die eiland Samoa, sowat 3 000 km noordoos van Nieu-Seeland, verfilm is.

Terug op eie bodem bevind Danté de Villiers hom aan die Kaapse Weskus as’t ware op ’n andersoortige eiland – die historiese Bokkomlaan langs die Bergrivier wat by Velddrif verbyvloei.

Hier, tussen vissershuisies waar die blink lywe van bokkoms ingeryg hang, het hy ’n koffiekroeg begin wat gemaklik in Kaapstad se hipsterbuurt om Breëstraat sou aard.

Maar Danté (31) is geen stadsjapie nie.

“Solank ek saam met ander kinders van die wind iewers by die see is, is ek gelukkig,’’ sê die bruingebrande vlieërplankryer wat in 2017 ’n finalis in die Mnr. Suid-Afrika-­kompetisie was.

“Aquaman” vang gereeld vis vir sy stam. Foto: M-Ne
“Aquaman” vang gereeld vis vir sy stam. Foto: M-Net

Al sien ons hoe hy tans in die sewende seisoen van dié M-Net-reeks sy oor­lewingstreke en -strategieë voor die TV-kameras uithaal, beskryf hy homself as ’n introvert.

Nes die Mnr. SA-kompetisie het Sur­vivor SA hom ’n geleentheid gebied om homself uit te daag, “en ook om my ­lewenservaring en liefde vir die natuur in ’n mededingende omgewing te toets”, sê hy.

“Dis ’n unieke en anders manier om druk op myself uit te oefen.”

As ’n lid van die Ta’alo-stam was sy strategie eers om op die agtergrond te bly; hy het selfs agter bome weggekruip.

Kykers het gesien hoe hy die vuursteen gaps waarmee Robert Bentele (29), ’n videograaf van Richardsbaai, Kwa­Zulu-­Natal, vuur gemaak het. Rob is ’n sterk deel­nemer, en Danté wou hom uitskakel.

Toe die vuursteen wegraak, het Danté kamma saam met die res daarna gesoek.

“Dit was moeilik om ’n straight face te hou. Dis wat die eiland aan ’n mens doen. Om vuil te speel. Dis die tax wat jy betaal.

“ ’n Ou met ’n goeie hart soos Rocco (van Rooyen) is uitgestem. Dit was ’n stok in my wiel. Ek sou graag saam met hom verder wou gaan. Jy moet heeltyd jou waardes hernu. Jy moet jou strategie voortdurend verander om sterk te wees in hierdie sosiale game.

“Jy kan enigiets op die eiland wees. Ons het gedink Ting Ting (Wong) werk saam met haar ouers in ’n Cash & Carry, maar sy is eintlik ’n dokter. Ek is ’n introvert omring deur ekstroverte. Ek het myself dikwels weggevat om stilte en spasie te kry en weer energie op te bou.

“Dit gaan nie oor die R1 miljoen nie; dit gaan oor die titel. En dis waarvoor vanjaar se 21 deelnemers meegeding het. Ons het hard gespeel.”

Dis ’n grys en reënerige Kaapse winterdag – baie soos die weer wat hulle op die eiland beleef het, vertel Danté waar hy agter die toonbank van sy kroeg in ’n wolkie stoom uit die koffiemasjien staan. In die vertoonkas voor hom is suurdeegtoebroodjies met allerlei vulsels.

By sy staatmaker-­koffiemasjien. Foto: Misha Jorda
By sy staatmaker-­koffiemasjien. Foto: Misha Jordaan

Reeds kilometers ver van Velddrif verwelkom ’n oorrompelende reuk van vis en seebamboes jou.

“Mense vra altyd hoe ons die reuk kan uitstaan, maar vir baie mense op die dorp wat in die visbedryf werk, is dit hoe geld ruik,” gesels Danté.

Hy is ’n boorling van die Weskus en het op Melkbosstrand grootgeword. Ná skool het hy hotelbestuur studeer.

“Maar die baadjie, badge en netjiese hare was nie my ding nie.”

Hy is na Sodwana in KwaZulu-Natal waar hy leer duik het. “Ek is toe herbore.”

Daarna het hy in Thailand in ’n duikwinkel gaan werk en op die ou end in die suide van Israel beland waar hy elke dag sy passie vir vlieërplankry kon uitleef.

“Albei kom van Israel af,” stel hy sy meisie, Maayan Stern (29), en hul hond, Chai, voor. Chai is uit die strate van die stad Eilat aan die Rooisee gered.

Toe hy in Desember 2016 ná ses jaar in Israel na Suid-Afrika terugkeer, het Danté ’n plekkie gesoek waar hy met ’n eie ­onderneming kon begin.

Hy het langs die Weskus opgery tot by Velddrif, waar ’n vissershuisie staan wat in sy familie is ­sedert dit in die 1930’s gebou is. Oorspronklik is bokkoms daar gedroog, maar toe oupa Daan Visser in 1989 dood is, is die huisie aan die buurman uitverhuur.

“Ek het op die dorp rondgevra; daar was ’n behoefte aan goeie koffie,’’ sê Danté.

“Ek het deur die ruit van hierdie plekkie geloer en gesien baie werk was nodig om dit op te knap. Ek het drie maande lank gekap, gespyker en skoongemaak,” vertel hy trots oor sy Columbine Co.-koffierestaurant. Dis na ’n vuurtoring genoem.

“Toe ek ’n kind was, het my ma-hulle baie van kampeer gehou, gewoonlik by Tietiesbaai. Saans het die lig van die Kaap Columbine-vuurtoring my tent getref. Dit het my laat voel die toring beskerm almal, ongeag wie jy is, en dat hy trots is op wat hy doen,” deel hy die jeugherinnering wat die inspirasie vir sy winkel se naam en kenteken was.

“Alles wat jy sien, het hy met sy eie ­hande gemaak – van die houttafels hier buite tot die logo,” vertel Mayaan.

Danté saam met sy Israeliese meisie, Maayan Stern.
Danté saam met sy Israeliese meisie, Maayan Stern. Foto: Misha Jordaan

Nadat Danté uit Israel weg is, het hul paaie geskei, want sy wou toe saam met Chai in ’n woonwa deur Suid-Amerika toer. Maar verlede September het sy laat weet sy wil “huis toe kom”. En nou is die driemanskap weer saam.

Terwyl Danté buite langs die rivier kaalbolyf vir ’n foto saam met Chai poseer, roep Maayan so ewe van die koffiekroegstoep: “Chai, trek uit jou halsband!”

Sy is trots op Danté wat as Survivor-­deelnemer die uitdaging met albei hande aanpak.

“Op die oomblik leef ons vir Donderdagaande wanneer Survivor uitgesaai word. Natuurlik kyk ons,” sê sy.

Die WhatsApp-boodskappe vlieg dan ook rond tussen Danté en sy gesin, pa Div (64), ’n beplanner by die Koebergkragsentrale, ma Ileana (58), ’n tuiste­skepper, en sy jonger broer, Kristof (29), ’n elektrisiën op Bloubergstrand.

En ja, sedert Survivor begin het, herken mense hom oral.

“Hier op die dorp ken ons mekaar, maar wanneer ek vir sake in Kaapstad kom, sal ek tienuur soggens mense op straat hoor praat oor my op Survivor.

“As hulle wil uitvra oor wie volgende uitgestem gaan word, neem my girlfriend die gesprek oor. Daar was al mense wat foto’s van hul dogters na die restaurant gebring het,” voeg hy laggend by.

Al is hy ’n buitelugmens, was goeie higiëne nog altyd vir Danté baie belangrik.

“Ek gaan skiet so baie vis in Survivor nie net om die ander te beïndruk nie; ook om in die branders te bad,” verklap hy.

Danté (links) en Jacques Burger in een van die ree
Danté (links) en Jacques Burger in een van die reeks se uitdagings. Foto: M-Net

“Maar ek het daar geleer om vuil te word en nie om te gee nie.’’

Waaroor hy wel omgee, is om as wenner uit die oorlewingstryd op die verlate eiland te tree.

“Ek is baie mededingend en redelik straightforward. Daar is nie vir my grys nie. Ek raak gefrustreerd wanneer ek voel iemand speel nie die spel nie,” sê dié skaam Survivor-deelnemer.

Soos hy in een van die jongste episodes bewys het toe hy woedend by ’n uitstemsessie vir Geoffrey Cooke-Tenneson (33); ’n huis­leningskonsultant van Colenso, KwaZulu-­Natal, gesê het: “Het jy ’n drukkie nodig? Kom hier, dan gee ek vir jou ’n drukkie met my vuis.”

“Dit was ’n sirkus,” erken Danté nou. “Nietemin was dit nodig gewees om keel skoon te maak.”

“Met die merge is waar dinge interessant gaan raak en waar ek my nek heel moontlik gaan uitsteek.”

Hoe laat en op watter kanaal?
  • Survivor South Africa: Island of Secrets word Donderdae om 19:00 op M-Net uitgesaai.
  • Dis ook op DStv Catch­Up beskikbaar.

Vir nuus en gesprekke oor die reeks kan aanhangers die webtuiste mnet.tv/survivorsa en die ­Facebookblad “SurvivorSA” besoek of @Survivor_SA op Twitter volg.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.