Op die kassie lyk die veld rondom boer Damian se plaashuis vaal en kurkdroog, maar vandag is dit lowergroen so ver as wat die oog kan sien. 

“Dit het twee weke gelede 40 mm gereën,” sê hy, duidelik dankbaar vir enige boer se grootste geskenk hier kort voor die feestyd.

“Dit is my happy place,” sê Damian (38) en kry sy sit op die stoep wat uitkyk op die skaap-en-beesplaas hier naby Bapsfontein, sowat 40 km oos van Johannesburg en Pretoria. 

Hy het ’n denim­kortbroek en netjiese kortmouhemp aan. Keps op die kop; vellies aan die voete.

Langs ons op die stoep lê sy drie swart boerboele, Skye, Jack en Charka. En kort-kort spring Peanuts, sy piepklein miniatuurpinscher en getroue skaduwee, op sy skoot. 

“Dit het twee weke gelede 40 mm gereën,” sê hy, duidelik dankbaar vir enige boer se grootste geskenk hier kort voor die feestyd.

’n Entjie van die plaashuis af kom ’n groep Boesmanlanderskape op ’n streep aangestap om hul dors by die waterkrip te les. 

Dís die hartland van hom wat kykers leer ken met Damian se deelname aan vanjaar se seisoen van Boer soek ’n vrou, die 12de van dié gewilde maatsoek­program op kykNET. 

Damian het vanjaar die meeste briewe in die reeks ontvang, en hy is ’n baanbreker onder die televisieboere – die eerste gay deelnemer wat voor die kameras na liefde soek.

Hy is ’n besige man en regte entrepreneur – pal doenig met sy boerdery en die eise van sy onderneming wat plaastoerusting landwyd versprei. Wanneer hy ’n los uurtjie het, hou hy van musiekmaak en sing.

“Kom kyk,” sê hy. In die sitkamer staan sy trots: ’n Bernhard Steiner-vleuel­klavier, ’n Hammond C3-orrel én ’n trekklavier.

boer damian,boer soek ’n vrou,hond
Die klein Peanuts is altyd aan ­Damian se sy. Foto: Lubabalo Lesolle

Nee, keer hy gou, hy het geen musiek­opleiding gehad nie. “Ek speel alles op gehoor; ek kan mos glad nie note lees nie.”

Maar toe hy agter die vleuel inskuif, vlieg sy vingers indrukwekkend oor die klawers. Die note van “Praat ek mense eng’le tale” spoel deur die plaashuis. 

Dis sy gunsteling-aanbiddingslied, sê hy. Dan haak hy die trekklavier oor sy skouers en tower die wysie van die FAK-liedjie op: “Daar’s ’n hoender wat ’n eier nie kan lê...” 

Buite op die stoep tjank die honde saam in ’n koor. “Hulle is darem nie mal nie, hoor!” maak hul baas verskoning en lag.

Oor naweke daag sy vriende hier op vir aande van kuier en musiekmaak, vertel hy. Dan neem hulle van hierdie geestelike instrumentale en sangitems sommer met ’n selfoon op en plaas die video’s op sy Facebookblad, Pinkster Musiek. 

Damian het vanjaar die meeste briewe in die reeks ontvang, en hy is ’n baanbreker onder die televisieboere – die eerste gay deelnemer wat voor die kameras na liefde soek.

Hy kén van perform, dié boer, en het destyds al as ’n seuntjie van vyf saam met sy ma, Irene, tot ’n country-en-gospel-musiekgroep behoort. 

“Ons het optredes dwarsoor die land gehou: ’n country-show op die Saterdag­aand en dan ’n gewyde sangdiens in die plaaslike Pinksterkerk die Sondagoggend. 

“Ek het gesing en kitaar en tromme gespeel, maar die lekkerste was al daardie stoppe langs die pad wanneer die kosmandjies uitgehaal is!”

Dit was eintlik so half sy vriende se skuld dat hy in­geskryf het vir Boer soek ’n vrou, verklap Damian terwyl sy blougrys oë ondeund glinster. 

“Daar is mos in die gay gemeenskap so ’n spottery dat ons moet briewe skryf wanneer daar eendag ’n gay boer deelneem. Toe dink ek vroeër vanjaar: Dan gaan ék maar inskryf en deelneem!” 

boer damian,boer soek ’n vrou,musiek
Hy het as klein seuntjie tot die SALT Country and Gospel-­groep behoort wat vertonings dwarsoor die land gehou het. Foto: Lubabalo Lesolle

Toe die vervaardigers van die program in Mei vanjaar die top-10 bekendmaak, het dit gegons oor die eerste gay boer se deelname aan die reeks, maar Damian het hom nie van stryk laat bring nie. 

“Ek het vooraf geweet daar sou – nes in al die vorige reekse – positiewe én negatiewe kommentaar op al die boere wees.

“Ek wou inskryf om liefde te vind. Almal gebruik verskillende platforms om liefde te vind, en omdat ek ’n boer is, was die program die logiese keuse vir my.”

Hy sê hy was aanvanklik nie seker of hy aan die reeks kan deelneem nie en het eers vir die vervaardigers ’n teksboodskap gestuur. Kan ’n gay persoon inskryf, wou hy weet. Ja, enigiemand wat op ’n plaas werk of woon, kan inskryf, was die antwoord. 

Hy het nie gedink hy gaan deurdring nie, wat nog te sê die topvyf haal, vertel hy. 

“Ek wou inskryf om liefde te vind. Almal gebruik verskillende platforms om liefde te vind, en omdat ek ’n boer is, was die program die logiese keuse vir my.”

“Toe gebeur daardie dag wat hulle die briewe op die plaas kom aflewer. Výf sakke vol! En toe hoor ek ook nog ek is die boer wat die meeste briewe gekry het. Ek was stomgeslaan!”

Die afgelope ruk kom hy agter ál meer mense herken hom op straat.

“Daar was hierdie week weer ’n tannie in ’n koffiekroeg. Sy het nader gestaan en wou versigtig weet of ek dalk die boer van die TV-program is. Toe ek ja sê, was sy baie opgewonde en wou sy net foto’s saam met my neem. Ek gesels graag met sulke mense; dit pla my glad nie.”

Maar die verfilming van die reeks was ’n bietjie van ’n uitdaging, erken hy. 

“Veral daardie tyd op die plaas met mense permanent om jou. Hulle verfilm iets soos 12 uur per dag, maar tussendeur probeer jy nog boer en die fort hou.”

boer damian,boer soek ’n vrou,plaas
Damian het (van links) Andrew, Arno en Ivan genooi om by hom op die plaas te kom kuier. Foto: kykNET

Kykers het reeds gesien hoe hy die deelnemers Arno, Ivan en Andrew plaas toe nooi – en hoe hy vir Arno, ’n pas afgestudeerde onderwyser en op 28 die oudste van die drie, huis toe stuur. Arno was in trane.

Dié keuses was vir hom moeilik, sê Damian. “As jy iemand vra om te gaan, kan die persoon dit so maklik as verwerping ervaar. Daarom het ek vooraf aan almal gesê: ‘Ek gaan jou nie wegjaag nie; ek dink net ons kan beter doen as vriende eerder as pasmaats...’ ” 

Hy kan nog nie verklap of hy teen die einde van die reeks liefde vind of nie, maar sê hy is bly hy het deelgeneem. “Ek dink ek het as ’n beter mens hier uitgestap.” 

Dit is vir hom belangrik dat die man in sy lewe – saam met sy eie ambisies en drome – ook die plaas sal liefhê.

“Hy moet bereid wees om sy kar so nou en dan vol stof te maak! En, omdat boerdery so ’n groot geloofsaak is, iemand wat Christelike waardes het.”

Dit is vir hom belangrik dat die man in sy lewe – saam met sy eie ambisies en drome – ook die plaas sal liefhê.

Toe Damian vyf jaar gelede die geleentheid kry om die plaas hier buite Bapsfontein te huur, was dit die kans om ’n droom te bewaarheid. 

Al het hy nie op ’n plaas grootgeword nie, het hy baie tyd op plase van familie en vriende van sy ouers deurgebring en ’n liefde vir die landbou gekweek. Hy het toe al geweet: Al wat hy eendag wil doen, is om te boer. 

Damian se pa, Tom, was ’n staatsamptenaar wat op Kerkplein in Pretoria gewerk het, terwyl ma Irene ’n huisvrou was. Hy is heelwat jonger as sy drie susters, Colleen, Ursula en Desiree.

“Ek het soms as kind gewonder hoe dit sou voel om ’n boetie te kon hê, maar dit het my nie eintlik veel gepla nie – dit was vir my normaal.” 

Nadat hy in 1999 aan die Hoërskool Akasia in Pretoria gematrikuleer het, het Damian onder meer ’n onderneming begin wat tydelike staalhuisies op bou­terreine opgerig het. Hy het sy onderneming wat plaastoerusting versprei sowat 15 jaar gelede begin, en dít het hom ál meer oor boerdery geleer. 

Damian se liefde vir musiek is duidelik en hy kan enige instrument met klawers, soos ’n trekklavier, bespeel sonder om note te kan lees. Foto: Lubabalo Lesolle

Toe hy eindelik die kans kry om op sy eie stukkie grond te boer, was die prentjie voltooi. Tom is twee jaar gelede oorlede en ­Irene bly steeds in Pretoria. Sy ondersteun sy boerdery, sê Damian. 

“Dit is maar enige ouer se wens dat hul kinders se toekomsdrome waar word.” 

Twee van sy plaaswerkers kom van die kraal af aangestap en vertel daar lê ’n bees wat nie kan opstaan nie. Moet lamsiekte wees, dink Damian hardop. 

Hy sal die bees moet gaan inspuit en vitamiene ingee en daarna ophelp en na ’n koelteplek verskuif sodat hy kan herstel.

“Om te boer is ’n voltydse job; ons het nie kantoorure nie,” maak hy verskoning toe hy opstaan en groet. 

“Ek is maar nog ’n klein boer, maar een met groot drome.” En een van daardie drome is om liefde te vind...

  • Boer soek ’n vrou word Donderdag­aande om 20:00 op kykNET uitgesaai.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.