Hy's een van die geluk­kiges. Van die plaas­opstal kan jy sien hoe sowat 600 beeste op 'n lappie lowergroen veld wei, en die kweekgras voor die stoep groei welig. Stap jy deur die lande, spuit die spilpunte water uit.

Maar anderkant die hek van boer ­Graham (27) se plaas hier buite Cradock in die Oos-Kaap is dit 'n ander storie.

Ry jy met die N10-snelweg, is daar min mooi in die dorre, vaal veld met die son wat fel neerbrand. 'n Knellende droogte het die Oos-Kaap in sy wurggreep, en plek-plek het dit jare laas gereën. Die mense kry swaar; die gemeenskap is op sy knieë. 

Dis danksy die Visrivier wat deur die plaas vloei dat dit anders lyk hier by boer Graham, een van die deelnemers aan die huidige seisoen van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek 'n vrou. 

Pedro Kruger is agter die klawers. Saam met Graham
Pedro Kruger is agter die klawers. Saam met Graham is die vyf vroue wat hy in Kaapstad ontmoet het: (van links) Anchen, Bernice, Nikola, Elrene en Ilne. Foto: kykNET

Hy boer saam met sy pa, Erik, met beeste en hulle bedryf ook 'n melkery. 

“Gelukkig vloei die rivier nog,” sê hy oor die bietjie genade wat sy gesin hier op die plaas help. “Boere wat langs die rivier boer, is in 'n mate nog oukei, want ons besproei die lande uit die rivier. Maar die ander trek swaar. Die mense is op hul knieë en in trane.”

Daar is nie meer weiding oor op baie van die plase nie, en die boere moet hul vee aan die lewe hou met voer wat geskenk of aangekoop word – iets “wat onbekostigbaar raak”, vertel Graham.

Sy oom en neef boer ook in die Cradockdistrik, maar omdat hulle nie naby die rivier is nie, moet hulle ook voer aanry, sê Graham. “Dit is nie ’n mooi prentjie nie; dit is lelik . . .”

Dit het in Februarie laas hier gereën, maar die droogte gedy eintlik al vier jaar lank. Kort voor ons besoek het die vragmotors van Boere Droogtehulp SA juis in die distrik aangekom met onder meer 400 ton voer, 60 000 liter water en kruideniersware wat kort voor die Kerstyd 'n bietjie verligting vir die boere in die streek gebring het.

Graham in die melkstal op die plaas; hy en sy pa,
Graham in die melkstal op die plaas; hy en sy pa, Erik, boer met beeste. Hy is die derde geslag boer op hul plaas. Hoewel die droogte die gemeenskap in ’n wurggreep het, is hulle van die gelukkiges wie se plaas deur die Visrivier gevoed word. Foto: Fani Mahuntsi

Almal se grootste wens vir die nuwe jaar is dat die hemele sal oopgaan – al is dit net vir 'n rukkie. “As ons net so twee duim reën kan kry, kan dit weer 'n begin wees,” sê Graham. 

“Baie boere is op breekpunt. Almal praat dieselfde ding: Wanneer kom die reën dan? Almal wonder: Hoe lank sal ons nog kan uithou?”

En tog bring hierdie hartseer sy gemeenskap bymekaar, sê die jong TV-boer wat nou op die kassie na die liefde soek. “Wat vir my mooi is, is hoe die boere mekaar bystaan. Wanneer die een dalk 'n sak mielies het wat hy kan afstaan, gee hy dit vir ’n ander wat niks het nie.” 

En intussen hoop Graham die liefde sal ook blom – 'n stukkie mooi soos die groen oase hier op die plaas.

Selfs hier waar ons op die plaasopstal se ruim stoep sit, tap die sweet jou af. Vandag is dit wéér warm – nog 'n dag sonder 'n druppel reën.

“Op dié stuk gras het ek as kind gespeel, en voor dit het my pa as tiener hier gespeel,” beduie die jong boer. “Ek is nou die derde geslag hier. My oupa Toy het die plaas in die vroeë 1980’s gekoop.”

Ondanks die uitdagings wat die droogte bied, is dit vir Graham heerlik om ná agt jaar terug op sy geboortegrond te wees. 

Hy het aan die Hoër Landbouskool Marlow net buite Cradock skoolgegaan – nes sy oupa – en in matriek in 2010 was hy die hoofseun. 

Ná skool wou hy sommer dadelik plaas toe kom om saam met Erik te kom boer, vertel hy. 

“Maar toe sê my pa nee, ek moet eers iets gaan studeer wat niks met boerdery uit te waai het nie. As 'n soort backup. My neef het toe reeds sy inge­nieurstudie op Stellenbosch klaargemaak; ek het dus iets van die rigting geweet en gedink ek sal daarvan hou. Toe gaan doen ek dit!”

Hy het in 2016 sy graad in siviele ingenieurswese behaal en daarna twee jaar lank as 'n struktuuringenieur by 'n maat­skappy in Kaapstad gewerk. 

Maar tydens verlede jaar se Kersvakansie het hy en Erik ernstig oor sy toekoms gepraat.

Saam met sy suster, Mart-Marié, ma, Celest, en pa,
Saam met sy suster, Mart-Marié, ma, Celest, en pa, Erik. Foto: Verskaf

“Ons het besluit die tyd is nou reg dat ek plaas toe moet kom. Dit was tyd om vars asem met kennis en ervaring te kombineer,” sê die jong boer.

“My pa het 'n vriend wat saam met sy seun geboer het. Maar daardie voorreg kon hulle net 'n jaar lank hê, toe is die seun weens 'n fratsongeluk met 'n buffel oorlede. Dit het ons laat dink: Hoekom moet ons uitstel?”

Van die begin van die jaar werk pa en seun skouer aan skouer op die plaas en woon Graham weer saam met sy ouers in die plaashuis waarin hy grootgeword het.

“In my hart is ek 'n plattelandse ou wat die groot stad van Stellenbosch aangepak het met die doel om in ‘vrouvang’ te slaag. Dit het nie gewerk nie, toe moes ek maar vir 'n ingenieursgraad settle,” vertel hy met die humorsin en vonkel in die oog wat kykers week ná week op die kassie sien.

Sy Boer soek 'n vrou-inskrywing was eintlik vanweë 'n poets wat van sy Kaapse vriende op hom gebak het.

“Omdat ek nog nooit eintlik 'n ernstige langtermynverhouding gehad het nie, het my vriende my altyd geterg dat hulle my nog eendag gaan inskryf. Maar alles soos 'n grap om die braaivleisvuur, iets waaroor jy maar lag.” 

En toe kry hy in Maart vanjaar uit die bloute daardie oproep van die vervaardigers met die standaardvraag of dit hy is wat self ingeskryf het.

“Ek het uitgebars van die lag, want ek het dadelik geweet dit was my pelle wat my 'n streep getrek het.”

Toe hy antwoord dat dit nie hy was nie, wou die vervaardigers weet of hy dalk wel wil deelneem. Graham – die platjie wat hy is – antwoord toe ewe: “Wil julle hê ek moet?”

Waarna hy moes hoor: “Ons gaan niemand lek nie.”

“Ek besluit toe: Hoekom nie? Ek sal nie sê die hoofrede was om tot elke prys ’n trouvrou te ontmoet nie – ek het dit eerder gesien as die ideale geleentheid om my horisonne te verbreed. Natuurlik moes ek toe eers self inskryf om dit amptelik te maak.”

Sy gesin – pa Erik, ma Celest en sy jonger suster, Mart-Marié (26) – het die besluit heelhartig ondersteun. Die volgende was vier sakke briewe, wat hom omtrent laat bloos het.

“Dis nou nie asof ek regtig skaam is nie,” sê hy vinnig. “Maar ek bloos vinnig as iemand vir my iets moois sê of iets ouliks vir my doen. Ek is eintlik erg beskeie, dan weet ek gewoonlik nie hoe om te reageer nie.”

Aangesien Stellenbosch nie vir hom 'n vrou kon oplewer nie, sal Boer soek ’n vrou dit regkry? Hy lag die vraag weg. “Ek weet nie. Ons sal maar wag en sien.”Graham het vir Elrene, Ilne en Nikola plaas toe, met Elrene wat later eerste haar tassies moes pak en huis toe gaan.

Dis vir hom moeilik om te sê watter eienskappe sy droomvrou moet hê. “Ek dink nie daar is net een soort meisie vir my nie,” antwoord hy filosofies.

“Daar is wel sekere eienskappe wat belangrik is. Sy moet nes ek baie kan lag en ’n bok vir sports wees. Christenskap is belangrik. Onafhanklikheid ook, met haar eie sienings en drome.”

In sy geestesoog droom Graham ook, erken hy. Van reënwolke wat bo die distrik saampak en eindelik verligting vir die streek en sy mense bring.

Van 'n vrou hier langs hom op die stoep. En dalk, eendag, 'n laaitie wat hiér op die grasperk voor die huis sal speel nes hy en sy pa voor hom. Die vierde geslag op die plaas . . . 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.