KATINKA OOSTHUIZEN

katinka oosthuizen en braam weyers
Katinka en Braam is alreeds vyf maande getroud. Foto: Katinka Productions

Dié internetster en voormalige Survivor-deelnemer – eens bekend as Katinka die Kat – en haar verloofde, Braam Weyers, sou op 9 Mei in ’n intieme seremonie getrou het, maar weens die inperking was dit nie moontlik nie.

Katinka het toe met die idee vorendag gekom dat sy en Braam vir mekaar ’n brief moet skryf.

Hulle sou dit dan aan mekaar voorlees op die dag wat veronderstel was om hul troudag te wees.

Twee maande later het hulle op Wildernis afgehaak voor internetgaste wat toegangsgeld moes betaal. 

“Gister was die heel beste dag van my lewe. Feite. Ons het een geword!” het Katinka ná hul troue op Instagram laat hoor. 

CHRISTIA VISSER 

christia en thomas saam met familie en vriende
Christia en Thomas saam met familie en vriende op hul troudag. Foto: Instagram/@christia_visser

Christia en Thomas Webb sou in April op ’n vrugteplaas by Robertson in die Wes-Kaap afgehaak het, maar weens die inperking was dit nie moontlik nie.

Thomas het Christia in September met ’n klein, intieme troue in Kaapstad verras.

Die aktrise en sangeres het later ’n foto gedeel van haar, Thomas, en van hul gaste op hul troudag en daarby geskryf: “Ek stel aan julle voor – my gunstelingfoto ooit.”

TRACEY LANGE

tracey en avukile op hul troudag
Tracey en Avukile se groot dag het al hul verwagtinge oortref. Foto: Tracey Baard Photography

Tracey en haar jarelange kêrel, Avukile Mabombo, se planne vir hul groot dag is ook weens die pandemie deurmekaargekrap.

“Uit jare se ondervinding weet en vertrou ek alles werk altyd uit soos dit moet. As ek nog altyd dinge forseer het, het dit nooit goed uitgedraai nie. So dit het my regtig nie gepla nie en ek het absolute vertroue gehad dat God alles in Sy hande het, ” sê Tracey. 

Die paartjie het toe op 1 Oktober by die Old Foundry Hotel in Kaapstad afgehaak.

“Die troudag was 20 keer beter as wat ek ooit kon dink. Dit was ’n dag wat God duidelik eenkant gesit het vir my. ’n Dag vol lag, liefde en almal wat net die beste vir ons wou hê,” onthou die TV- en radiopersoonlikheid.

“As gevolg van my werk, kan baie foto's net soos werk voel, maar hierdie dag omdat ons dit so uitgelê met amper geen posed foto's nie, was dit net pret,” voeg sy by.  

KATE ROOTHMAN 

kate en willie op hul troudag
Kate en Willie op hul troudag. Foto: Chené Smit

Die gewese Getroud met rugby-aktrise en Willie Oberholster was 11 jaar ’n paartjie voor hulle op 6 Maart verloof geraak het.  

Hulle sou aanvanklik in Oktober getrou het, en wou eers die troue tot volgende jaar uitstel, maar die gewag was te lank en hulle het toe wel in Oktober op ’n plaas op Muldersdrift in Gauteng voor 55 gaste afgehaak. 

“Wat ek in my hart voel as ek aan daardie oomblikke dink, is warm en enig in sy soort.”

“Die opgewondenheid, die liefde vir almal wat hierdie dag so spesiaal gemaak het, die pret, die lag, die perfekte weer, omring deur familie en vriende, alles het net absoluut natuurlik gevloei,” onthou die aktrise. 

“Nooit het ek gedink ons sou in die middel van ’n pandemie trou nie, maar dis ons silwer randjie vir 2020,” sê Kate.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe