NATASHA JOUBERT (23)

Op pad na: Mej. Heelal

Dié skoonheid van Centurion in Gauteng het in Oktober die derde plek in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie behaal. Natasha is ’n skakelbeampte by ’n prokureursfirma.

Sy gaan nou die land in die Mej. Heelal-kompetisie in die Viëtnamese stad Nha Trang verteenwoordig in die hoop om die vierde Suid-Afrikaner te word wat dié kroon wen. Die vorige Suid-Afrikaanse wenners was Margaret Gardiner in 1978, Demi-Leigh Nel-Peters in 2017 en Zozibini Tunzi in 2019.

“Ek onthou hoe ek die oggend na Zozibini Tunzi gekyk het by die Mej. Heelal-kompetisie in 2019. Ek het nooit gedink ek sal die volgende een wees wat die land verteenwoordig nie,” vertel Natasha opgewonde.

Sy is reeds hard besig om voor te berei vir die kompetisie, wat nog nie ’n datum het nie. Nie net sweet sy in die gimnasium nie; sy berei haar ook emosioneel en geestelik voor.

“Ek doen ook tans lewensafrigting net om seker te maak dat ek geestelik gereed is om hierdie verantwoordelikheid aan te neem en Suid-Afrika so goed moontlik te verteenwoordig.”

HONDEMA

Natasha span uit saam met haar hondekind Bailey langs die swembad. Natasha se honde, Bailey en Cody, het selfs hul eie Instagramblad!

natasha joubert,mej.heelal,hondjie
Foto: Instagram/@natasha_joubert

BIKINILYF

Oe-la-la! Natasha smeul in ’n sexy bikini.

natasha joubert,mej.heelel,bikini
Foto: Instagram/@natasha_joubert

MODEPOP

Mooi én stylvol. Is daar iets waarin dié skoonheid nie goed lyk nie?

natasha joubert,mej.heelal,mode
Foto: Miss SA Organisation

MEJ. FIKS

natasha joubert,seepunt,promenade
Foto: Instagram/@natasha_joubert

Op die Seepuntpromenade in Kaapstad.

Natasha deel gereeld video’s op Instagram waarop sy oefen. Sy beoefen onder meer pilates om haar lyf eksieperfeksie te hou.

5 vrae aan Natasha

1. Noem drie dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

My selfoon, my Maltese hondjies en my familie.

2. Watter voormalige Mejj. SA inspireer jou?

Rolene Strauss, Zozibini Tunzi, Suzette van der Merwe en Demi-Leigh Tebow.

3. Noem drie dinge wat mense verbaas sal wees om van jou te weet.

Ek was in my grootwordjare eintlik ’n tomboy. Ek kan nie dans om my lewe te red nie. Ek hou daarvan om my hande vuil te maak. 

4. Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek is avontuurlustig en gaan voetslaan of stap saam met my hondjies, kampeer of bring ’n naweek saam met my gesin deur.

5. Wat is die beste raad wat jy al gekry het?

Dis eintlik ’n aanhaling, en ek het dit my lewensfilosofie gemaak. “Moet nooit ’n produk van jou omstandighede wees nie; wees ’n produk van jou keuses en besluite.”

THATO MOSEHLE (25) 

Op pad na: Mej. Supranasionaal

Dié Mej. Suid-Afrika-naaswenner is die eerste plaaslike skoonheid wat die land in die Mej. Supranasionaal-kompetisie in Pole gaan verteenwoordig. 

Thato is ’n mediese dokter wat tans haar internskap by die Tsheponghospitaal in Klerksdorp voltooi. Sy wil eindelik ’n narkotiseur word. Thato is op die Vrystaatse myndorp Virginia gebore en woon deesdae op Stilfontein buite Klerksdorp.

“Ek sien daarna uit om my stempel internasionaal af te druk en om iets te bereik wat altyd onthou sal word deur diegene wat ek teëkom en dié wat ná my sal kom,” sê Thato.

Haar voorbereiding vir die kompetisie was tot dusver meestal geestelik en spiritueel. “Ek bestudeer die Mej. Supranasionaalhandelsnaam, en ek sien dis baie in lyn met die vrou wat ek is: iemand wat ambisieus is, ander wil inspireer, ’n omgeehart het en goeie dinge doen, maar nie omgee om glansryk te lyk terwyl sy dit doen nie.”

BIKINILYF

Al pryk sy in ’n swembroek, kan sy nie swem nie, verklap Thato. 

thato mosehle,mej.supranasionaal,bikini
Foto: Miss SA Organisation

MEJ. STYL

Bene vir Afrika! Thato sit altyd haar beste modevoet voor. Hier pryk sy in ’n goue lyfpak van TracyB Swimwear wat met ’n Warrick Gautier-skepping afgerond is.

thato mosehle,mej.supranasionaal,mode
Foto: Miss SA Organisation

FIKSHEID BO

Thato sweet gereeld in die gimnasium om vir die Mej. Supranasionaalkompetisie voor te berei. 

thato mosehle,gimnasium
Foto: Instagram/@thato_mosehle

DR. MOSEHLE

Dit bring haar die meeste vreugde wanneer ’n pasiënt vir haar dankie sê of net dankbaarheid betoon, sê Thato. 

thato mosehle,dokter
Foto: Instagram/@thato_mosehle
5 vrae aan Thato

1. Noem drie dinge wat mense verbaas sal wees om van jou te weet.

As jy my in ’n swembroek sien, moet jy net weet dat ek nie geswem het nie, want ek kan nie. Ek het voorheen my naels gebyt. En ek kan baie lekker kook as ek wil.

2. Noem drie van jou vroue-rolmodelle.

My ma, Lesego, ’n polisievrou. Haar etiek is ongeëwenaard. Die Amerikaanse visepresident, Kamala Harris. Haar onlangse leierskapsposisie is inspirerend. En Oprah Winfrey. Die manier waarop sy haar sukses met ander deel, is wat ek wil doen.

3. Het jy ’n skoonheidsroetine?

Nie regtig nie. Elke dag is nie dieselfde nie en soms is ek saans by die hospitaal. Die enigste konsekwentheid wat ek het, is om water te drink.

4. Watter item in jou klerekas dra jy die meeste?

My hospitaalklere.

5. Wat is op jou emmerskoplys?

Ek wil in China rekspring. Hulle spog met die hoogste reksprongligging ter wêreld. 


Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe