Hulle het baie slapelose nagte agter die rug. Honderde doeke en net soveel bottels. Maar hier sit hulle. “Ons het dit oorleef, maar dit was so hittete,” sê Ian Roberts met daardie bekende geamuseerde glimlag.

Ses maande gelede het die 68-jarige akteur en Francoisnette le Roux (37) se lewe soos handomkeer verander toe twee piepklein lyfies hul eerste asemteue in die wêreld gee.

Nie net het hulle nou ’n tweeling wat teen dié tyd wil-wil begin sit nie; Ian het ook by Francoisnette en haar dogter uit ’n vorige verhouding, Ava (8), ingetrek.

Ian, Fran en die tweeling
Ian, met Lynn-Sophie op sy skoot, Ava, Francoisnette se dogter, en Francoisnette, met klein Ian-Keith op haar skoot, is ’n gelukkige gesin. Foto: Onkgopotse Koloti

En dit op Lydenburg, byna 400 km van Johannesburg, die stad wat hy dekades lank huis genoem het. Soveel aspekte van sy lewe het op die rype ouderdom van byna 70 verander.

Maar die mense wat dalk skepties was oor die groot ouderdomsverskil en pa-word in die goue jare, sal nou maar moet stilbly – want hier sit Sloet, soos TV-kykers hom drie dekades gelede in die dramareeks Arende leer ken het, en hy en Francoisnette kyk met oë vol liefde na mekaar en maak nog eenstryk deur grappe.

“Maar dit was rof, hoor. Dis nou nog soms rof, maar ek het ’n ander kant van Ian gesien en hy het my regtig verbaas,” sê Francoisnette en loer na Ian langs haar.

“In daai drie weke dat die babas in die hospitaal was, het ek gedink hy gaan die hasepad kies of net nooit sy goed pak en hierheen trek nie. Maar toe kom hy wragtig. Sak en pak.”

Die twee kleingoed, Ian-Keith en Lynn-Sophie, is nou ses maande oud. Nes hul ma en pa het hulle potblou oë. Lynn-Sophie, so klein en fyn soos ’n porseleinpoppie, het haar pa se neus. Ian-Keith, wat duidelik soos sy ma lyk, raak vinnig opstroppelis toe ons foto’s neem en vryf sy ogies.

“Lynn-Sophie wil net om mense wees. Ian-Keith check almal net so uit. Hy’s rustig en kalm,” sê Ian.

Elke keer dat Lynn-Sophie haar pa sien, word haar ogies groot, sy glimlag en begin babbel. Wanneer die babas nie in ousus Ava se arms is nie, tel ouma Francis, Francoisnette se ma, hulle op en koer te lekker.

Lina Mohlala (43), hul oppasser, vee kwyl af, en toe sy die twee begin voer, gaan die mondjies soos dié van voëltjies oop, al wagtend op die volgende hap.

“Lina is ons redder. Sy is die baby whisperer. As een van ons nie meer weet wat om te doen om hulle rustig te kry nie, dan kom sy net,” sê Francoisnette.

Ian vertel hy en Francoisnette “cope” deur die humor in situasies te sien.

“Daar was een aand . . . middernagtelike ure. Albei babas skreeu. Ek en sy het vir mekaar gekyk, toe sê ek vir haar: ‘Jy is krank en ek is sinnig; môre ruil ons weer rolle om, maar ons doen dit saam,’ ” sê hy.

Die gesin woon nou in ’n huis op dieselfde eiendom waar ouma Francis ’n gastehuis het. Die De Ark-gastehuis is juis die plek waar Ian en Fran, soos vriende Francoisnette noem, mekaar ses jaar gelede ontmoet het toe Ian en sy musiekgroep, die Radio Kalahari Orkes, hier opgetree het.

Maar Francoisnette het eintlik al toe sy agt jaar oud was en Ian in Arende gesien het vir haar ma gesê sy gaan met dié “oom” trou.

“Hier is baie hande en almal help ons uit. Ek is maar baie op die pad met die orkes, en dan moet Francoisnette alleen regkom. Ek dink ek besef eers noudat ek ouer is hoe powerful ’n ma is. Julle is sterk wesens, hoor,” sê Ian.

“Wel, dit het nie gekeer dat ek by tye my goed wou pak en Mexiko toe vlug nie,” spot Francoisnette. Ava, wat nou in gr. 2 is, het kort ná haar sus en boet se aankoms haar tasse gepak en “weggehardloop”.

“Sy het vir 10 dae by ’n maatjie gaan bly en gesê sy kom nie weer huis toe nie. Ek dink dit was net overwhelming vir haar. Ek het haar gelos dat sy dit self uit-figure, en toe bel ek haar en sê ons kan nie die show run sonder haar nie. Sy het toe ingestem met: ‘Oukei, ek sal maar moet huis toe kom as julle my nodig het,’ ” vertel Francoisnette.

“Ons huis is beautiful chaos,” sê Ian. “Ons lag baie. Almal is happy. Maar ek moet bieg, toe die twee so drie maande oud was, was dit pure ellende. Hulle wou nie slaap nie. Ek en Francoisnette het beurte gemaak, maar ons het net twee uur per aand geslaap.”

Ian, Fran en die tweeling
Ian en sy naamgenoot, volgens hom ’n diep denkertjie. Foto: Onkgopotse Koloti

Francoisnette vertel van ’n dag toe sy gedaan was en Ian ingestem het om na die kinders te kyk sodat sy ’n slapie kon vat. “Toe ek wakker word, was dit tjoepstil in die huis. Ek dog dis die wegraping!

“Toe ek in die kombuis kom, staan Ian daar . . . geen kind in sig nie. Toe het hy die twee in die kombi gaan sit, al skreeuende.”

Ian las by dit was net vir ’n oomblik, want hy het gesien as Francoisnette nie nóú slaap nie, gaan sy mal raak. Hy het probeer sus en sjuut, maar niks wou werk nie. “Toe ons daai twee uithaal, toe is hulle moeg gehuil, en tjoef, toe pass hulle uit,” sê sy en lag kopskuddend.

Ná die vorige Huisgenoot-artikel waarin die tweeling aan die wêreld bekendgestel is, word die gesin oral in winkelsentrums en op die dorp voorgekeer.

“Ek probeer nog vriendelik wees, maar as iemand te ver in die pram inleun, dan stoot Ian hulle sommer weg en sê: ‘Dis nou genoeg,’ ” sê Fran en klap Ian op sy been. “Man, die ou vroue wat so aan die kinders wil vat. Ek weet nie waar mense se hande was nie.

“Ek het al ’n vrou met ’n snotneus huis toe gestuur wat hier by die kinders aangekom het,” vertel Ian. Francoisnette skater van die lag. Ian het ’n kruiedoepa wat hy aan die tweeling se muskietbyte smeer. “Bitters en nog iets . . . Dit laat dit minder jeuk, maar hel, dit vlek ook hul vel so rooibruin.

“Ek het nou oral muskietnette in die huis en ek spuit Doom. Ek’s te flippen bang hy kom met die doepa. Dit lyk of ons kinders melaats is!”

Ian se lyf ruk soos hy lag en hy trek sy skouers weer op, maar dan raak hy ernstig. “Daar was tye in die hospitaal dat ek bang was.

Met al daai pype aan hul lyfies en die hartkloppies wat so vinnig raak en dan skielik stadig. Ek het dan engele geroep. Gabriël. Hy is die engel van kinders. En die hartkloppe het weer egalig geraak.”

Francoisnette luister aandagtig terwyl Ian een van talle stories uit sy verlede vertel. Nee, sy het nog nie almal gehoor nie. Hy is die mens saam met wie sy op ’n eiland gestrand sou wou wees.

“Hy is my person,” sê sy. “Maar sy het my nie nodig nie. Ek sê mos altyd as iemand nie sonder die ander een kan leef nie, skort daar iets,” voeg Ian by.

En die ouderdomsverskil? Ian sê iets in Xhosa, die taal wat hy as kind op hul plaas naby Fort Beaufort leer praat het.

“Ek steur my nie aan wat mense sê nie.” Francoisnette knik instemmend. “Ek kan môre doodgaan. Enigiets kan gebeur. Aan diegene wat sê Ian kan nie eendag saam met hulle bal skop nie, vra ek: Ken jy vir Ian? Hoe weet jy?”

Sy vertel Ian speel gereeld vir die kinders kitaar, en dan daal ’n saligheid oor hul huisie neer.

“Ek is soms bang ek vermaak nie die kinders nie. Ek is soos ’n ou stukkie kurk . . . maar dan besef ek al wat hulle nodig het, is om by jou te wees,” bieg Ian.

“Ja, en Ian se hartjie is so klein. Hy is so ’n goeie pa. Ek sou dié saam met niemand anders wou doen nie,” sê Fran beslis.

Ian tel sy naamgenoot op en sus hom terwyl hy ’n fopspeen in sy mond druk. “Toemaar, mannetjie, I know. Jy’s moeg. Ons sal jou nou in die bed sit,” sê hy.

Dan gee hy die kaal koppie ’n soen en kyk liefdevol in sy seuntjie se oë. Presies dieselfde kleur blou as sy eie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.