Sy het Suid-Afrika op die wêreldverhoog verteenwoordig, by die Verenigde Nasies gepraat en ’n veldtog wat haar na aan die hart lê van stapel gestuur.

En wanneer sy die kroon op haar opvolger se kop plaas, sal sy een belangrike ding vir haar sê: “Dié jaar gaan groter wees as wat jy jou ooit kon indink!”

Tamaryn Green, ons uittredende Mej. Suid-Afrika, erken die invloed wat saam met dié titel kom, het haar verras.

“Dis moeilik om te begryp presies hoe groot die Mej. Suid-Afrika-platform is en watter geleenthede dit bied,” sê die 24-jarige donkerkopskoonheid.

“Ek was in ’n posisie waar my stem gehoor is, en dít was fantasties. Maar daarmee saam kom ’n groot verantwoordelikheid, want die druk is op jou om soveel mense as wat jy kan te help. Jy moet die geleentheid aangryp en laat waai daarmee.”

Mej SA deelnemers
Van die voormalige titelhouers: Ntandoyenkosi (Mej. SA 2016), Bokang (Mej. SA 2010), Tamaryn (Mej. SA 2018), Liesl (Mej. SA 2015) en Rolene (Mej. SA 2014). Foto: Paul Samuels

In Tamaryn se geval is dié geleentheid haar TB-bewusmakingsveldtog, #breakthestigma. Sy het dié siekte oorwin nadat dit in 2015 by haar gediagnoseer is en vertel haar storie om ander aan te moedig om so gou moontlik behandeling te kry en die stigma af te breek wat steeds aan ’n TB-diagnose kleef.

Om te sien hoe haar veldtog vlerke kry het die kroon gespan op ’n jaar van hoogtepunte, sê sy. Nog iets wat Tamaryn veral bybly, is haar band met haar mede-deelnemers, en hoe sy vorige Mej. Suid-Afrika-wenners in die aanloop tot die 2018-kompetisie ontmoet het.

Die kompetisie het verlede jaar sy 60ste jaar gevier, en vorige wenners het tydens die kroningsaand in Mei by 2018 se finaliste aangesluit om dié mylpaal te vier.

“Ek het hierdie besonderse groep susters ontdek – dis werklik soos ’n familie,” sê Tamaryn. Sy het ook “geëerd” gevoel om Suid-Afrika verlede jaar in Desember op die wêreldverhoog in die Mej. Heelal-kompetisie in Bangkok, Thailand, te verteenwoordig.

En om voor die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering oor haar TB-veldtog te praat was net so ’n groot oomblik. “Maar die belangrikste was die liefde en ondersteuning wat ek van gewone Suid-Afrikaners gekry het.

“Ons fokus soms so op die negatiewe dat ons nie besef hoeveel wonderlike mense daar in hierdie land is nie.” Die moeilikste deel van die kompetisie is dat jy jou familie en vriende mis, sê Tamaryn.

Daar is baie harde werk wat vir die nuwe kroondraer voorlê en dis “beslis nie net glansryk nie”, maar die belonings is meer as die uitdagings.

“Ek was aan die begin bekommerd die media sou my nie uitbeeld soos ek is nie, maar hulle was toe ongelooflik ondersteunend en gaaf en het my gehelp om my TB-verhaal te vertel.”

Haar tyd as Mej. Suid-Afrika was spesiaal, sê sy, en noem die afgelope jaar ’n “seën van God”.

“Dit was ’n ongelooflike geleentheid om ’n verskil te maak in my eie lewe en dié van die mense wat ek gelukkig genoeg was om in my tyd as Mej. Suid-Afrika te ontmoet.

“Hierdie ervaring het my ’n ander kant van die lewe gewys waaraan ek nie voorheen blootgestel is nie, en dis goud werd.”

Haar raad aan die deelnemers aan vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie is hulle moet “dit regtig wil hê”.

Mej SA
Ntandoyenkosi Kunene-Mthethwa, Bokang Montjane-Tshabalala, Tamaryn Green, Liesl Laurie en Rolene Strauss. Foto’s: Gallo Images/Frennie Shivambu, Gallo Images/Foto24/Lucky Maibi, Gallo Images/Sowetan/Bafana Mahlanga, Frennie Shivambu/Gallo Images

“Mej. Suid-Afrika moet dryfkrag en passie hê. Sy moet ook ’n omgeehart hê, mense moet by haar kan aanklank vind, en sy moet vrygewig en passievol oor die bemagtiging van vroue en meisies wees. Sy moet gaaf en liefdevol, nederig en saggeaard wees, bereid om te leer en oorgehaal om altyd goeie dade na te streef.”

Tamaryn voltooi vanjaar haar finale jaar as mediese student aan die Universiteit van Kaapstad – sy het haar studie onderbreek terwyl sy Mej. SA was, maar was in April vanjaar weer terug in haar wit jas, met ’n stetoskoop om die nek. Sy sal haar werk met haar #breakthestigma-TB-veldtog voortsit, sê sy.

“Ek wil so lank ek kan, voortgaan om so te lewe dat ek ’n voorbeeld is.”

Huisgenoot help soek ons nuwe Mej. SA

Huisgenoot is vanjaar ’n amptelike mediavennoot van die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie, en ons help soek na die volgende beeldskone, ambisieuse vrou wat haar talente en omgeehart wil inspan om ander te help.

Vanjaar se kompetisie gaan groter as ooit wees, met 16 finaliste pleks van 12, en pryse van R3 miljoen – ’n rekordbedrag.

Die wenner kry onder meer R1 miljoen, die naaswenner R250 000, en die res van die top-16 vat elkeen R25 000 huis toe.

Toe die inskrywings vir die 61ste Mej. SA verlede maand geopen het, is die veldtog Miss South Africa Light Up Your Dreams geloods – met die “Groot Vyf” van die land se skoonheidskompetisiebedryf: die voormalige titelhouers Rolene Strauss, Bokang Montjane-Tshabalala, Ntandoyenkosi Kunene-Mthethwa, Liesl Laurie en Tamaryn Green.

As amptelike mediavennoot van die kompetisie sal Huisgenoot oor die opwinding en hoogtepunte in die aanloop tot die groot aand verslag doen en daar wees wanneer ons nuwe Mej. SA op Vrouedag, 9 Augustus, in die Sun Arena in Times Square in Pretoria aangewys word.

Ons sal ook oor haar termyn berig en ons lesers wys wat tydens haar spesiale jaar agter die skerms gebeur.

Inskrywings het op 10 Junie gesluit, en die top-16 word op 11 Julie aangekondig. Volgens die organiseerder, Stephanie Weil, het honderde vroue uit alle uithoeke van die land ingeskryf.

Die kompetisie probeer homself elke jaar vernuwe om relevant te bly, sê sy. “Dit het drasties verander sedert Norma Voster in 1956 die eerste Mej. SA geword het.

Sosiale media speel ’n belangrike rol in hoe Mej. SA met haar gehoor kommunikeer. Sy kan nou op ’n verskeidenheid platforms direk met die publiek gesels, wat haar toegankliker maak.”

Maar die uitgangspunt van die kompetisie bly dieselfde, benadruk Stephanie.

“Die Mej. SA-kompetisie ondersteun steeds dapper, slim, selfversekerde en pragtige jong vroue wat die mag het om ’n nasie te inspireer en ’n verskil te maak. Mej. SA is ’n vrou met haar eie doelwitte en sterk idees oor haar rol in die samelewing. Dié ideale word beklemtoon deur liefdadigheidsprojekte wat baat vind by Mej. SA se ondersteuning.”

Die kompetisie omarm wat dit beteken om ’n trotse vrou van Afrika te wees en verander nie net die wenner se lewe nie; dit verander ook dié van die finaliste.

“Dis bemagtigend, inspirerend en iets om na te streef,” sê Stephanie.

“Die kompetisie is ’n viering van jong vroue wat hard werk en daaraan toegewy is om ander te help.”