Met 27 vyfpunters agter sy naam is die sewesrugbyster Siviwe Soyizwapi, ofte­wel Shakes, tot dusver verreweg die Blits­bokke se voorste driedrukker in vanjaar se Wêreldsewesreeks.

Onlangs is sy bydrae tot Suid-Afrika se sewessukses boonop met ’n pluimpie van sy breier beloon toe hy in die beseerde Philip Snyman se plek as kaptein aan­gewys is. 

Philip se harsingskuddingsterugslag in Maart tydens die Vancouver-toernooi in Kanada “het spesiale geleenthede vir Shakes geskep; hy is nog voor die begin van die seisoen as ’n toekomstige leier geïdentifiseer en het die span uitmuntend in die laaste twee wedstryde in Vancouver gelei”, het die afrigter, Neil ­Powell, gesê toe hy Siviwe voor die daaropvolgende Hongkong-toernooi as kaptein aanstel.

Dit was ’n “groot voorreg” om ’n kans as kaptein te kry, vertel die 26-jarige Oos-Kapenaar toe Huisgenoot hom op Stellenbosch ontmoet pas ná die Blitse se triomfantelike terugkeer van die onlangse Singapoer-toernooi, waar hulle hul tweede toernooititel in die Wêreldreeks gewen het. 

Maar met leiersfigure soos Justin Geduld, Branco du Preez en Werner Kok in die span voeg hy gou by: “Eintlik hoef jy nie baie as kaptein te sê nie; die ouens is elkeen ’n kaptein in hul posisie.”

Dan verduidelik hy: “Ek het dus die jonger nuwelinge hoofsaaklik deur my voorbeeld op die veld probeer lei.”

rugby,triomf,sukses,kaptein
In die kleedkamer met van die Blitsbokke se 2018-buit. Foto: Instagram/ shakeymilkshake

Siviwe het op laerskool op Maclear net noord van Mthatha in die Oos-Kaap sy talent begin toon in enige sportsoort wat spoed of vernuftige voetwerk vereis. 

Hy was ’n wafferse naelloper en het op nege ook rugby begin speel, maar eers heelwat later ernstig daaroor geraak. “Omdat ek in ’n familie van sokker­liefhebbers grootgeword het, was rugby aanvanklik vir my net ’n buitemuurse aktiwiteit,” vertel hy.

Pa Zukisa was ’n sokkerafrigter vir die Mthatha Bucks en die Mthatha Cosmos en sy spelers het klein Shakes juis sy bynaam gegee: Hulle het gesien hoe mal die knaap was oor Supa Strikas, ’n strokiesboek met dié sokkerspelerkarakter.

pa,rugby,kaptein
Saam met sy geliefde pa. Wyle Zukisa, ’n sokkerafrigter, het ’n groot rol in sy lewe gespeel. Foto: Verskaf

Op hoërskool aan Dale-kollege op King William’s Town het Shakes sy “liefde en passie” vir rugby ontwikkel omdat dié skool so ernstig oor die sport en boonop bekend vir hul hardlooprugby was.

Hy het eers skrumskakel gespeel voor sy destydse eerstespanafrigter, Grant Griffith, hom heelagter toe geskuif het. Hy het ook af en toe vleuel gespeel. 

Mense soos Grant “het baie tot my rugby­loopbaan bygedra”, sê Shakes. “Hy het in my geglo wanneer ek soms nie vertroue in myself gehad het nie.”

As kind het hy nie rugbyhelde gehad nie, “maar later, op hoërskool, het ek dit geniet om na Bryan Habana te kyk.

“Toe ek in 2011 in matriek was, was hy aan die brand. Ek het ook graag na All Blacks soos Israel Dagg gekyk, en in sewes na ouens soos Cecil Afrika – wat ’n legende van die spel!”

Shakes was skaars 21 toe hy sy eerste Superrugby-kans by die Southern Kings kry. Hy vertel met ’n tikkie heimwee hoe die Kings se tuisveld, die Nelson Man­delabaai-­stadion, destyds volgeloop het. “Die mense van die Oos-Kaap was baie opgewonde daaroor om ’n plaaslike span te ondersteun.”

Maar teen daardie tyd het die sewesgogga hom eintlik reeds gebyt, vertel hy. 

“Toe ek 18 was, het Gavin Jones, my provinsiale akademie-afrigter, al gesê my manier van speel wys sewes is eintlik my spel en ek behoort ’n loopbaan daarin na te jaag. Ek het dit altyd in my agterkop gehad,” onthou Siviwe.

Gavin het later sy agent geword, en in 2014 het hy hom op sewes begin toespits. Teen einde 2015 het hy ’n kontrak met die Blitsbokke onderteken, en in 2016 het hy sy Blits­bokdebuut in Hongkong gemaak.

Met minder as die helfte spelers as in gewone rugby moet sewesspelers meer veld dek en elke speler moet superfiks, -vaardig en -veelsydig wees, maar Shakes verklaar dis juis wat hom na die sport toe aantrek: “Ek’s mal oor die vryheid, die ruimte van sewes en die harde werk. 

“Coach Neil sê mos altyd vir ons: Sukses is iets wat niemand jou gaan gee nie; dis iets wat jy net met harde werk sal behaal.”

Hy sê die spel se ontwikkelingstelsel “verander jou as mens wat volkome fokus en toewyding betref”. Boonop kon Suid-­Afrika danksy dié stelsel al genoeg talent ontgin om hulle drie Wêreldsewesreeks-titels in die sak te bring. Die Blitse beskou waardes as belangrik.

“Een van ons slagspreuke is: ‘Beter mense maak beter spelers.’ Ons bestuur gee ook om oor watter soort mans, wederhelftes en pa’s ons ná rugby sal wees.’’

Siviwe raak ’n oomblik stil voor hy van ’n groot hartseer vertel: Hy kon nie sy sewes­vreugdes van die afgelope twee jaar met sy pa deel nie.

“Hy is in 2017 in ’n motorongeluk dood. Ons was in Vancouver toe dit gebeur.” 

Met dié pynlike herinnering nog vlak in sy gemoed was sy terugkeer na Kanada verlede jaar vir hom ’n somber, moeilike ervaring. Tog het die toer goed afgeloop.

“Ek’s mal oor die vryheid, die ruimte van sewes en die harde werk."

As sy pa vandag hier was, sou hy “regtig trots gewees het” op sy seun, nou die Blitse se topdriedrukmasjien en ’n leier van ’n wêreldkampioenspan.

Met sy vrolike geaardheid en humorsin sou sy pa seker eers ’n bietjie geskerts het: “Hy sou waarskynlik iets sê soos: ‘Sien jy nou, wat het ek jou altyd gesê!’

“Ons was baie na aan mekaar, en omdat ek al seun in die huis was, het ek nogal met baie weggekom,” grinnik Siviwe. 

Sy pa het ook baie tot sy sukses by­gedra. “As afrigter het hy al die uitdagings geken waardeur spelers in die gesig gestaar word en daardie kennis en ervaring met my gedeel. ‘Mentor’ is die perfekte beskrywing vir hom.”

Vandag is ma Funeka en sy drie susters, Sinazo, Kolosa en Andisa, sy grootste ondersteuners.

En hy geniet ook die spesiale ondersteuning van ’n sekere Witsstudent . . .

Hy en Zenande Makina het mekaar al in 2009 ontmoet toe sy ’n leerder aan Dale-­kollege se susterskool, die Hoër Meisieskool Kingsridge, was en hulle gaan sedert 2013 uit.

meisie,rugby,see,pret
Siviwe span ’n bietjie uit op die strand saam met sy meisie, Zenande Makina. Foto: Instagram/ @shakeymilkshake

Hy reken haar bedagsaamheid en teruggetrokkenheid het hom aangetrek: “Sy’s taamlik privaat; nie out there nie.”

Die mooi 24-jarige werk aan ’n B.Com.-graad en hy vertel laggend Zenande is deesdae ’n sewesbekeerde. “Sy hou van die spel, want dis vinnig, die reëls maak vir haar sin en dis gou afgehandel!”

Dis swaar om gereeld ver van mekaar te wees, maar hulle kuier soveel moontlik en sy wag hom in wanneer hy ná ’n toernooi op die lughawe land.

Hy droom al sedert sy hoërskooldae daarvan om vir die vyftienman-Springbokspan te speel en wil sy land graag in albei rugbykodes verteenwoordig.

“Maar waar ek op die oomblik met die sewes-Springbokke is, is ek baie gelukkig. Dis vir my ’n vreugde om daar te wees.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!