Binne net 24 uur het haar lewe soos handomkeer verander. Op Vrouedag het sy nog met vlinders in haar maag opgestaan; onseker maar met ’n hart vol hoop op iets groots, iets sprokiesagtigs.

En sowaar, toe sy die volgende oggend haar oë oopmaak, het Zozibini Tunzi haar in ’n weelderige hotelsuite bevind as die vrou van die oomblik, met haar pragtige gesig wat pryk op al wat ’n koerant en nuuswebtuiste is.

Skielik was sy nie meer net nog ’n slim skoonheid met ’n mooi hart nie; sy was Mej. Suid-Afrika. Sy het ook oornag ’n internetsensasie geword.

“Om as Mej. Suid-Afrika wakker te word beteken om met 44 000 (nuwe) aanhangers op Instagram wakker te word.

“Dis waansinnig, maar ek veronderstel dit wys net hoe invloedryk die Mej. SA-kompetisie is,” sê die pasgekroonde skoonheidskoningin aan Huisgenoot vanuit haar suite in die Maslow-hotel in Time Square, Pretoria.

“Ek dink dit het my toe die eerste keer getref hoeveel my lewe verander het,” sê sy oor die oomblik toe sy dié getal sien.

Zozibini (25) is pas klaar gegrimeer en lyk lieflik in haar wit japon.

Sy het al om vyfuur vanoggend opgestaan om saam met haar span, onder wie die skoonheidskompetisieafrigter Werner Wessels, vir ’n dag propvol afsprake voor te berei.

Haar skoene van gisteraand se kompetisie lê oor die vloer gestrooi en sy teug aan ’n koppie tee, met ’n pragtige uitsig op Pretoria deur die vensters agter haar.

Sy het ’n lang pad gestap van die klein dorpie, Tsolo, waar sy grootgeword het, erken Zozi, soos haar vriende en familie haar noem.

“Dis vreemd. Ek is net ’n meisie van die Oos-Kaap. Ek het nie werklik gedink ek sal dit maak nie, maar ek het op ’n manier altyd geweet my lewe sal beter wees. Alles is eindelik besig om te gebeur.”

Die geluk was vanjaar aan Zozi se kant nadat sy in 2017 ook vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf het – die jaar toe Demi-Leigh Nel-Peters met die kroon weggestap het.

Zozi het dit destyds net tot die top-26 gemaak, maar pleks van moed verloor het sy dit beskou as ’n aanmoediging om weer te probeer. En dié keer was daar g’n keer aan haar nie.

Tamaryn Green, die uittredende Mej. Suid-Afrika, het die kroon op Zozi, in ’n silwer skepping deur die plaaslike ontwerper Anel Botha, se kop geplaas.

Die uittredende Mej. SA, Tamaryn Green, plaas die kroon op Zozi se kop. Foto: Lubabalo Lesolle

Maar iets aan Zozi se voorkoms was drasties anders as met haar vorige probeerslag vir die kroon: Pleks van ’n haarstuk dra, het sy dié keer haar kort, natuurlike kapsel trots vertoon.

Sy sê dis nou deel van wie sy is en sy gaan dit beslis nie verander nie.

“Toe ek dié keer inskryf, het my vriende my gevra of ek ’n haarstuk gaan dra. Maar dís my hare. Dis al die afgelope twee jaar so, en ek beplan om dit so te hou.

“Ek het met my natuurlike hare deelgeneem, want dit simboliseer my oortuiging dat ’n mens jouself moet wees,” sê sy.

“Toe ek van die vliegtuig afklim om die eerste groep finaliste te ontmoet, het twee my opgeval. Een het ’n kaalgeskeerde kop en die ander een rastalokke gehad.

“Ek het gedink ek gaan die vreemde een wees met my kort hare, maar dit was glad nie so nie. Almal het gevier wie hulle is. En toe het ek geweet die Mej. SA-kompetisie het verander – ten goede. Ons word nie verniet die reënboognasie genoem nie; dis omdat ons so uiteenlopend is.”

Zozi straal selfvertroue uit op die Mej-SA-verhoog. Sy vertel as kind was sy skugter en het geen maats gehad nie. Foto: Lubabalo Lesolle

Zozi se liefde vir die verhoog het as ’n jong meisie begin. Sy was net sewe toe sy aan haar eerste skoonheidskompetisie, Miss Tiny Tots, by haar Metodiste-gemeente op Tsolo deelgeneem het.

Sy sê sy was ’n skugter kind, maar op die verhoog kon sy dit regkry om oop te maak en haarself te wees.

“Wanneer ek sê ek was skaam, bedoel ek dit nie op ’n oulike manier nie. Ek het geen maats gehad nie, ek wou nie aan sport deelneem nie, ek was bang vir mense. En wanneer daar ’n skoonheidskompetisie by die kerk was, het my ma my soontoe geneem. Daar het ek begin vriende maak en uit my dop gekruip.”

Sy het ál meer selfvertroue begin kry, en as leerder aan die Hoërskool Butterworth het sy aan redenaarskompetisies deelgeneem en was sy ’n lid van die debatspan.

Ná skool het sy vir nog skoonheidskompetisies ingeskryf en in 2013 die titels Mej. Kaapse Skiereiland-universiteit vir Tegnologie en Mej. Mamelodi Sundowns gewen.

Haar ouers, ma Philiswa, ’n skoolhoof van Idutywa in die Oos-Kaap, en haar pa, Lungisa, wat vir die departement van hoër onderwys en opleiding in Pretoria werk, is haar grootste ondersteuners.

Zozi ná haar kroning saam met haar trotse ouers, ma Philiswa en pa Lungisa. Foto: Lubabalo Lesolle

Hulle is in 2011 uitmekaar, maar was aan hul dogter se sy by die kompetisie saam met Zozi se susters, Yanga (30), Sibabalwe (24) en Ayakha (13).

“Ek het nie woorde om dit te beskryf nie. Dis ongelooflik,” het Lungisa ná sy dogter se kroning gesê.

“Vir ’n plattelandse seun soos ek om ’n kind te hê wat Mej. Suid-Afrika is . . . Dis so ongelooflik. Ons het gebid vir hierdie oomblik, en hier het dit nou aangebreek.”

“Dis fantasties,” het Philiswa gesê.

“Ek dank God, want ons het dit nie op ons eie gedoen nie. Dis deur God se genade.”

Zozi het nie net ’n gesogte titel gewen nie; sy is R1 miljoen ryker en sal nog R2 miljoen in borgskappe en pryse ontvang, insluitend die jaar lange gebruik van ’n spogwoonstel in Sandton en ’n Mercedes-Benz Cabriolet.

View this post on Instagram

Home?? @centralsquaresandton @miabella_interiors

A post shared by Zozibini Tunzi (@zozitunzi) on

“Dis snaaks dat ek nou ’n motor het, maar nog nie ’n rybewys nie. Ek moet beslis iets aan die saak doen,” sê sy.

Sy beplan om haar studieskuld met van die wengeld te betaal. Voor die kompetisie het Zozi deeltyds vir haar B.Tech.-graad in openbare skakelwese aan die KSUT studeer en ook as vakleerling by ’n skakelwesemaatskappy gewerk.

In 2016 moes sy noodgedwonge haar voorgraadse studie laat vaar nadat sy nie finansiële hulp kon kry nie. Vanjaar het sy eindelik ’n beurs gekry en vir haar kursus geregistreer, en danksy haar oorwinning kan sy nou haar studieskuld betaal.

Zozi is opgewonde oor die jaar wat voorlê. Haar roetine om van nege tot vyf te werk en dan na aandklasse af te sit, word nou vir eers opsygeskuif.

Sy sien veral daarna uit om Suid-Afrika in Desember in die Mej. Heelal-kompetisie in Suid-Korea te verteenwoordig.

“Ek voel geseën, want my eerste keer oorsee sal as Mej. Suid-Afrika wees, en dis nie iets wat almal kan sê nie. Dis baie spesiaal. Suid-Afrika vaar goed in internasionale skoonheidskompetisies, en ek hoop ek kan dié neiging voortsit. Ek het vertroue in myself, en ek dink – nee, ek wéét – ek sal my uitstekend van my taak kwyt en my beste lewer.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Haar sprokiesaand is dalk nog ’n waas, maar oor een ding het Zozi duidelikheid: Sy beplan om haar kroningsjaar te gebruik om ander se lewens aan te raak.

“Ek het reeds as ’n jong meisie geweet ek moet ’n manier kry om positiewe verandering teweeg te bring; ek het net nie ’n duidelike idee gehad van hoe ek dit sou doen nie.

“Die kringloop is eindelik voltooi, en ek kan die beloftes nakom wat ek sedert my kinderjare maak.”