Die Proteas het nie ’n glorieryke Wêreldbeker agter die blad nie, en Rassie van der Dussen was een van die min uitblinkers.

Die Proteas se spel tydens die onlangse Wêreld­bekerkriekettoernooi is dalk iets waarvan plaaslike sportliefhebbers so gou moontlik wil vergeet, maar die prestasie van een besonderse kolwer sal met meer trots onthou word. 

Dit was dié van Rassie van der Dussen, een van die min spelers wat die Proteas op die kolfblaaie van Engeland en Wallis van volslae vernedering kon red. 

Die 30-jarige het in sy ses beurte in die toernooi 311 lopies vir ’n gemiddelde van 62,2 aangeteken. In sy uitblinkvertoning teen Australië in die Proteas se laaste wedstryd het hy ’n skitterende 95 lopiesgeslaan.

Al het hy net-net nie die eerste honderdtal van sy internasionale eendagloopbaan behaal nie, is sy plek as ’n opkomende ster toe bevestig. 

“Ek probeer altyd om die beste speler in die span te wees,” erken Rassie toe Huisgenoot inloer by die huis waar hy en sy vrou, Lara, in Centurion woon. Dit is kort nadat die Proteas van die Wêreldbekertoernooi teruggekeer het en Engeland Nieu-Seeland in ’n onvergeetlike eindstryd op Lord’s geklop het.

krieket,liefde
Rassie en Lara woon in ’n pragtige huis in Centurion en geniet dit baie om tyd saam deur te bring. Foto: Lubabalo Lesolle

Dit was nog altyd sy droom om die Groen-en-goud aan te trek, en Rassie is in sy noppies dat hy vir die toernooi gekies is – al was dit toe ’n wrede leer­kurwe. Suid-Afrika het net drie van hul nege wedstryde gewen en onder heelwat kritiek van aanhangers en kommentators deurgeloop.

Rassie verdui-delik van die Protea-spelers het pas voor die toernooi teruggekeer van ’n moordende ses weke in die Indiese Premierliga en was daarom “ ’n bietjie moeg”. 

“En ons het drie wedstryde in die eerste week gespeel; die skedule was dus ’n bietjie taai vir ons,” sê hy.Dan, terwyl hy jou reguit in die oë kyk, erken hy: “Maar daar is geen verskonings nie.”

“Ons het baie as ’n span geleer,” verduidelik hy. “Soms wanneer goed nie reg loop nie, is al wat jy daaruit kan vat om te leer wat gewerk het en wat nie en dan daardie kennis toe te pas om ’n beter speler en span te word.”

Hy het die ervaring ondanks die teleurstelling geniet.

“Dis net jammer ons het so sleg begin,” sê hy. “As ons een van daai eerste drie wedstryde gewen het, kon die toernooi heeltemal anders verloop het . . .”

En ondanks die feit dat sy span stert tussen die bene moes terugkeer, kan Rassie verklaar: “Ek is nie spyt oor enigiets wanneer ek terugkyk nie.”

Lara was vir ’n gedeelte van die toernooi in die Verenigde Koninkryk en kon haar man bystaan en troos toe die Proteas die wind van voor kry. Sy was ook op die paviljoen om hom toe te juig toe hy die bal in al die regte rigtings gestuur het.

Dit was lekker om haar man op die veld te sien presteer, sê sy, maar voeg by om ’n vrou of meisie van ’n speler te wees “is nie so glansryk soos wat dit op Instagram lyk nie”.

Sy is gewoond aan die lewe as ’n krieket­weduwee en ken ook self dié sportsoort soos die palm van haar hand. Sy het as ’n internasionale tellinghouer vir Krieket Suid-Afrika gewerk toe sy en Rassie mekaar in krieketkringe ontmoet het “en weet dus baie oor die sport”, verduidelik sy.

“Ek het geweet waarvoor ek my inlaat. Ek is ’n baie onafhanklike persoon. Trouens, om alleen te wees is iets wat ek geniet. Rassie speel al sedert ons nege jaar gelede begin uitgaan het krieket – ek is die hele pad aan sy sy; ek is gewoond daaraan,” vertel Lara, deesdae ’n gr. 8- en 9-onderwyser in wiskunde en natuurwetenskap aan die Redford House in Northcliff, Johannesburg.

‘Ek is nie spyt oor ­enigiets wanneer ek ­terugkyk nie’

Die twee is verlede jaar April getroud en woon al twee jaar in hul stylvolle huis. Teen die mure pryk foto’s van hul lewe saam, en die sitkamer se kabinet is stampvol van Rassie se kriekettrofeë. 

Hy het as laerskoollaaitie in Pretoria minikrieket begin speel, was toe ’n eerstespan-uitblinker aan die Hoërskool Menlopark en het daarna sy pad opgewerk tot op provinsiale vlak, waar hy ’n staatmaker vir die Leeus geword het. 

Ná sowat 10 jaar van provinsiale krieket het hy verlede jaar teen Zimbabwe sy T20-debuut vir die Proteas gemaak en in Januarie vanjaar sy eerste eendag-wedstryd teen Pakistan gespeel. 

“ ’n Mens hoop van kleintyd af jy kan eendag jou land verteenwoordig, en wanneer dit gebeur, is dit ’n droom wat waar word,” vertel hy breëbors. 

En toe kom die Wêreldbeker.

“Om saam met ouens soos Hashim Amla en Faf du Plessis te speel is baie besonders,” sê hy. “Dit beteken baie om die kleed-kamer en die veld met hulle te kan deel.” 

Kaptein Faf het erken hy kry “skaam” vir die Proteas se spel tydens die Wêreldbeker. “Ons is almal baie passievol daaroor om vir die Proteas te speel, so natuurlik maak dit seer as dinge nie volgens plan verloop nie, soos wat in die eerste sewe wedstryde gebeur het,” het Faf gesê.

Maar hy het bygevoeg hy hoop die oorwinning oor Australië kon ’n glimlag op aanhangers se gesigte sit. “’n Klein glimlag, maar ons sal dit vat.”

Faf het ’n honderdtal aangeteken in dié wedstryd, dieselfde een waarin Rassie sy 95 lopies gekry het. “Faf is ’n uitsonder­like leier – baie kalm en selfversekerd,” vertel Rassie.

“Hy is een van daardie ouens vir wie jy wil goed doen, want jy weet hy ondersteun jou. Jy wil hom op die veld daarvoor vergoed.”

Daar is ’n lekker gevoel van kameraadskap tussen die spanlede, vertel hy. Maar dis ook harde werk om op inter­nasionale vlak te speel.

“Ons sit met ons tegniese span en ontleed die opposisie,” verduidelik hy. “Elke keer dat jy op die veld stap, is daar baie trots en baie voorbereiding – geestelik en fisiek. Ons daag nie net op en speel nie.”

Omdat hy so dikwels weg is van die huis, is hy dankbaar dat die span vir hom soos ’n tweede familie is.“Ek dink al die ouens sien mekaar as vriende eerder as net spanmaats. Dis regtig spesiaal.”

Rassie se ma, Hester, is in 2003 oorlede, en hy is baie geheg aan die manne in sy gesin: pa Nico en sy drie broers, Adriaan (34), Nico (25) en CE (21). Sy broers speel net sosiale klubkrieket.

Nes Rassie se gesin het die skool­leerders in Lara se klas tydens die Wêreldbekertoernooi bankvas agter Rassie gestaan. “Dit was nogal moeilik om tydens die Wêreldbeker ’n gewone klas aan te bied,” erken sy met ’n laggie. 

Sy sal binnekort weer ’n krieket­weduwee wees wanneer Rassie na Kanada reis vir ’n internasionale T20-kompetisie, en hy hoop ook om later vanjaar vir die Proteas se toer na Indië gekies te word. En dan begin die plaaslike seisoen weer . . . 

Wanneer jy vra of daar ’n pienkvoet in die toekoms wag, sê Lara: “O, ons wil beslis kinders hê, maar die plan word voortdurend uitgestel. Ons sal sien hoe loop dinge. Dit sal baie moeilik wees om kinders te hê as Rassie letterlik nooit hier is nie.”

Wanneer Rassie ’n tydjie af het, geniet die twee dit om saam in die buitelug te wees; hulle is albei ywerige ­voëlkykers. “Die bos, natuur, buitelewe, om te stap – ek is mal oor daardie soort ding,” sê hy. “Dit kry my weg van die stadslewe.” 

Hy word deesdae af en toe by ’n winkelsentrum of die gim voorgekeer deur aanhangers wat ’n selfie of handtekening wil hê, maar Rassie probeer nog uitpluis waaroor die bohaai gaan.

“Ek is dieselfde mens as wat ek ’n jaar gelede was, of 10 jaar gelede,” verduidelik hy beskeie. “En ek wil graag glo ek sal dieselfde persoon bly, ongeag wat gebeur of waarheen ek in my loopbaan gaan.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.