Thato Mosehle, Shudufhadzo Musida en Natasha Joube
Thato Mosehle, Shudufhadzo Musida en Natasha Joubert tydens vanjaar se kroningsaand. Foto: Instagram (@official_misssa)

Die Mej. SA-organisasie het die nuus op hul amptelike Instagram-platform bekendgemaak. 

View this post on Instagram

A post shared by Miss South Africa (@official_misssa)

Shudufhadzo Musida

Shudufhadzo Musida (24), wat op 24 Oktober met die Mej. SA-kroon weggestap het, sal die land by die Mej. Wêreld-kompetisie verteenwoordig. Suid-Afrika het al drie wenners in dié skoonheidswedstryd opgelewer: Penelope Coelen in 1958, Anneline Kriel in 1974 en meer onlangs Rolene Strauss, wat in 2014 in Londen as Mej. Wêreld aangewys is.

Shudufhadzo Musida van Limpopo dra vanjaar die ges
Shudufhadzo Musida van Limpopo dra vanjaar die gesogte Mej. Suid-Afrika-kroon. Foto: Jacques Stander

Shudufhadzo kom oorspronklik van Ha-Masia in Limpopo en het onlangs haar BA-honneursgraad in internasionale betrekkinge aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi. 

Die 70ste Mej. Wêreld-kompetisie is weens die coronaviruspandemie na 2021 uitgestel. Daar is nog geen inligting beskikbaar oor waar en presies wanneer dit sal plaasvind nie.

Shudufhadzo het self ook die nuus gedeel in die sosiale media. 

“Mej. Wêreld Suid-Afrika 2020. Wat ’n ongelooflike eer,” het Shudufhadzo op haar eie Instagram-profiel geskryf. 

Natasha Joubert

Die 23-jarige Natasha Joubert, wat die derde plek behaal het in die onlangse Mej. SA-kompetisie, is as die land se verteenwoordiger vir die Mej. Heelal-stryd aangewys en sal probeer om in die voetspore van Zozibini Tunzi te volg, wat in 2019 as Mej. Heelal aangewys is.

Natasha is ’n skakelbeampte by ’n prokureursfirma en kom oorspronklik van Centurion in Gauteng. 

Foto: Instagram (@natasha_joubert)
Foto: Instagram (@natasha_joubert)

Natasha het ook op haar eie Instagram-profiel ’n boodskap gedeel. “Ek voel baie geeërd en nederig om in die voetspore van die vroue wat voor my gekom het te stap. Hulle het ’n duidelike pad oopgelos om aan enige Suid-Afrikaanse vrou te wys dat daar geen hoogte is wat sy nie van kan droom om te bereik in haar lewe nie. 

“Hulle lig het my regdeur hierdie reis aangevuur en ek is so dankbaar. Ek stap na vore met grasie, en ek glo dat my verteenwoordiging op daardie platform gaan wys dat ons toekoms meer vrugbaar as ons verlede kan wees.

“Reg om die heelal te oorwin,” het Natasha laat hoor. 

Suid-Afrika het al drie Mej. Heelals opgelewer: Margaret Gardiner in 1978, Demi-Leigh Nel-Peters in 2017 en Zozi is twee jaar later, in 2019, as Mej. Heelal aangewys. 

Die Mej. Heelal-kompetisie is ook weens die voortslepende pandemie uitgestel en sal na verwagting in die eerste paar maande van 2021 plaasvind.   

Thato Mosehle

In 2021 sal Suid-Afrika ook vir die eerste keer ’n verteenwoordiger na Mej. Supranasionaal stuur en dié eer val die naaswenner van Mej. SA, Thato Mosehle (25), te beurt. Die wedstryd word deur die World Beauty Association bestuur en is in 2009 vir die eerste keer in Pole aangebied.

Foto: Instagram (@thato_mosehle)
Foto: Instagram (@thato_mosehle)

Suid-Afrika het al voorheen deelnemers na die kompetisie gestuur, maar nie onder die amptelike vaandel van die Mej. SA-organisasie nie. Thato, ’n mediese dokter van Klerksdorp in die Noordwes, sal dus geskiedenis maak wanneer sy in 2021 aan dié kompetisie deelneem. 

Sy het ook haar opgewondheid in die sosiale media gedeel. 

“Mej. Supranasionaal Suid-Afrika 2020. Wat ’n eer om die eerste verteenwoordiger van die Mej. Suid-Afrika-organisasie te wees!

“Toe ek vir Mej. SA ingeskryf het, het ek myself belowe dat ek getrou sou bly aan myself en vir die wêreld sal wys wie ek is. Om opreg, eerlik en oorspronklik te bly en om te streef daarna om die beste weergawe van myself te wees terwyl ek ander inspireer om dieselfde te doen. Vandag maak ek daardie selfde belofte, nie net as Thato Mosehle nie, maar as Mej. Supranasionaal Suid-Afrika.

“Dankie aan @official_misssa vir hierdie eens-in-’n-leeftyd geleentheid. Pole, hier kom ons.” 

BRONNE: Instagram News24, ,IndiaTimes Facebook