Kan dit wees? Die arms swaai, die heupe wikkel en die tone punt nes dié van ’n beroepsdanser. Dis pure Fred Astaire, of selfs Saturday Night Fever.

Maar nee, die man op die dansvloer is nie John Travolta nie. Dis sowaar ons eie Frank Opperman, die akteur wat ’n kwarteeu gelede in Suid-Afrikaners se hart ingekruip het as die karakter Ouboet, oftewel Neels van Tonder, in die gewilde sitkom Orkney Snork Nie.

Frank is Sondagaande in die M-Net-werklikheidsreeks Dancing with the Stars te sien. Hy is die oudste deelnemer aan dié kompetisie wat jou fiksheid tot die uiterste beproef, ’n hele 15 jaar ouer as die naasoudste deelnemer.

Maar Ouboet laat hom nie onderkry nie. “Pasop. Die trappe hier is steil,” waarsku hy terwyl ons saam met hom die trap na die dansateljee op die tweede vloer uitdraf. Hier word nie gestap nie.

“Ek probeer fiks word,” vertel hy. Vir Frank, wat dikwels komiese karakters vertolk, is dié dansery g’n grap nie.

“Ek het al 4 kg afgeskud sedert die program begin het. Ek het ook die sigarette weggegooi,” sê Frank.

Hy rook al van st. 9 (gr. 11) af, hou op en begin weer. Dan trek hy los oor die marteling waardeur hy sy 57-jarige lyf sit om vir die weeklikse optredes voor te berei.

Hy dans nou al ses weke lank daagliks agt uur; vier daarvan hier by die Fred Astaire-dansateljee in Northcliff, waar ons vandag met hom gesels.

“Ek kon aan die begin skaars my lyf beweeg,” vertel hy oor die eerste week van die kompetisie.

Die vloekwoorde vloei terwyl hy sy pyne en skete afrits. ’n Mens het simpatie met die akteur; die man is immers al ’n oupa. Frank se seun uit sy vorige huwelik, Frankie (29), en sy vrou, Debré, het in Januarie ’n babaseuntjie in die wêreld verwelkom.

There’s a new man in the house!

A post shared by Frankie Opperman (@frankieopperman) on

Frank buk af en kyk ons reguit in die oë. “Kom ek sê vir julle, dié is nie f***** speletjies nie. Dit is hardcore,” sê hy.

“Dit (die program) het my laat ophou rook en suip. Ek móés ophou. Om elke dag so te oefen was net te veel vir my.”

Vandeesweek pak hy en sy dansmaat, Jeanné Swart (38), die jive aan.

Frank se hande swaai in die lug en hy spring op en af om die bewegings te illustreer. “Wag, hier is iets wat julle moet sien,” sê hy en haal ’n deurtrekkertjie uit ’n sak.

Dan staan hy op en gaan haal ’n paar mansdansskoene in die kleedkamer; die hakke is sowat 4 cm hoog. “Kyk net die k*k. Ek noem dit die Dancing with the Stars-starter pack.”

Dra hy die skrapse stukkie onderklere? Hy antwoord met ’n trek van die gesig en hou die deurtrekkertjie met sy vingerpunte vas, ver van sy lyf af: “Nee, ek weier om daardie ding te dra.”

Frank se dansmaat aanvaar nie nee vir ’n antwoord nie en hy durf nie die slanke donkerkop teëgaan nie. Met hul eerste ontmoeting het Jeanné, die eienaar van ’n sosialemedia-maatskappy, hom opgekommandeer met: “Komaan, Frank, sê dit, sê dit, sê dit.”

“Sê wat?” wou hy weet.

Jeanné, ’n groot Frank Opperman-bewonderaar, wou Ouboet van Orkney Snork Nie se bekende rympie teenoor sy vroulief, Yolanda (destyds gespeel deur Sally Campher), uit die perd se bek hoor.

“Poeksie Woeksie se Woepsie Wapsie Worsie is vreeslik lief vir hom,” herhaal Frank nou weer die woorde wat hom meer as 25 jaar gelede ’n bekende naam in die Afrikaanse vermaakbedryf gemaak het. Dis wat Jeanné wou hoor. Dis duidelik sy dra die broek in dié dansverhouding, want wanneer sy sê spring, spring Frank.

“Sy’s ’n regte slawedrywer,” kla Frank oor sy dansmaat, wat al 34 jaar dans.

“Hy noem my ’n heks,” kap Jeanné terug. “Soms as ek hom druk, kan ek in sy gesigsuitdrukking sien hoe hy my vloek en wens ek verdwyn in ’n woestyn of so iets,” skerts sy.

Hulle klink soos ougetroudes. Die Engelssprekende Jeanné bieg sy het nooit voorheen baie lelik gepraat nie, maar nou vloek sy in Afrikaans. Voor die kompetisie het Frank glad nie gedans nie.

“Nee wat; ek is ’n roker en ek dans nie. Behalwe as ek ’n dance enhancer in het,” sê hy en lag. Maar hy reken hy was 40 jaar gelede, toe hy in die weermag was, laas so fiks soos nou.

Deesdae begin Frank se dag soggens teen tienuur met ’n vier uur lange repetisie by die dansateljee. Ná middagete gaan hulle na die Ticketpro Dome in Randburg, waar hulle verder oefen. Dis waar die program opgeneem word.

“Wanneer ek saans by die huis kom, is ek wasted. Dans, rus, dans, rus. Dis soos ’n Olimpiese sport. Ek sweer.”

Sy idee van oefening was altyd om met sy twee honde, die bostonterriërs Tako en Emma, te gaan stap. Hy het nie juis vooraf vir die kompetisie voorberei nie. “Ek het so ’n bietjie gaan draf. So te sê 5 km, maar met baie f***** moeite.”

Dis g’n wonder Frank kla oor ’n stywe lyf nie. Kyk net hoe wikkel hy daardie lyf en punt die tone om hom vir die strawwe weeklikse danskompetisie voor te berei. Foto: Dino Codevilla

Hy volg nie ’n spesiale eetplan nie, maar moet nou meer eet en aanvullings neem. Ná al die oefen kan hy darem nou ten minste sê hy het ’n gunstelingdans: die wals.

Gryp hy soms spontaan sy lewensmaat, Esmarie Meyer (45), in die kombuis vir ’n wals? “Nee, sy is nie daai soort nie. Sy doen koeng foe en joga.”

Nogtans is Esmarie en hul 11-jarige dogter, Ena, sy grootste ondersteuners met die dansery. Ena help hom soms om sy nuwe bewegings te oefen. Esmarie, al sowat 15 jaar Frank se lewensmaat, het ’n klerewinkel in Melville wat unieke plaaslike klere verkoop.

Sy borg Frank se oefenklere en het vir hom gemaklike onderbroeke “van organiese katoen gegee” om in te dans.

Frank geniet die dansery omdat dit so ver uit sy gemaksone is, vertel hy. Hy is ’n gesoute akteur, voor die TV-kameras in reekse soos Die Vierde Kabinet en Pandjieswinkel, en ook op die verhoog in onder meer Die Uwe Pottie Potgieter en die eenmanvertoning Die Klaagliedere van Ds. Tienie Benade.

En as sanger en kitaarspeler het hy al twee CD’s die lig laag sien. Maar die dansery is vir hom so nuut en vreemd dat hy glo dis net sy akteurstalent wat hom hierdeur gaan dra.

“Ek het gou besef hier (op die dansvloer) kan ek my naam weggooi,” vertel hy. Hy kry vlinders in sy maag elke keer voor hy op die dansvloer gaan, maar ruk hom gou reg met: “Ek is mos ’n ou performer, ek.”

Ná die opname van sy eerste dans het hy aan ’n beoordelaar gesê: “Ek kan nie glo ek is so ’n goeie kulkunstenaar nie.”

Frank erken hy kan nie met die ander deelnemers meeding wat die helfte van sy ouderdom is nie. Hy en Jeanné weet hulle gaan nie hul mededingers met spoed of selfs stamina klop nie, maar eerder met kreatiwiteit.

“Ons speelplan is eenvoudig: elegante en dramatiese storievertelling,” sê Frank.

Drama en storievertelling is Frank se sterk punt, soos sy suksesvolle akteursloopbaan bewys.

Sy dagboek bly propvol. Hy speel in die kykNET-reeks Ouboet en Wors, wat einde verlede jaar begin het, en sal later vanjaar op die silwerdoek ’n draai maak in Dominee Tienie en ’n Ander Mens.

Ons gesels word onderbreek. “Frank, trek onmiddellik jou skoene aan. Dis tyd om te dans!” beveel Jeanné kwaai.

Hy sug hard en slaan sy hande saam: “En hier gaan ons al weer.”