Honderd dae kan maklik in ’n oogwink verbyvlieg. Maar dit is ’n ander storie as alle oë op jou gevestig is, elke beweging van jou dopgehou, ontleed en bespreek word en miljoene mense oor die wêreld heen kyk of jy die mas van jou nuwe status opkom. 

Vra maar vir enige nuutverkose president . . . of vir Meghan Markle.

In haar eerste 100 dae as prins Harry se vrou moes die voormalige Suits-aktrise nie net by die huwelikslewe aanpas nie, maar ook by ’n heel nuwe leefwyse vol moets en moenies.

Prins Harry en Meghan steel ’n soentjie ná ’n polowedstryd vir liefdadigheid in Julie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Binne ’n bietjie meer as drie maande het haar lewe handomkeer verander. 

Dis nou benewens die rits veranderings voor haar troudag in Mei toe sy sak en pak dwarsoor die Atlantiese Oseaan Engeland toe getrek, haar loopbaan laat vaar en van nasionaliteit en geloof ver­ander het.

Meghan (37) het alles opgeoffer om met Harry (34) te trou. Geen wonder die rooikopprins lyk die gelukkigste wat ons hom nog gesien het nie. 

Hier is ’n kykie na haar eerste 100 dae as die hertogin van Sussex – wat sy alles beleef, gedoen en gedra het. 

’n Babahondjie

Dis nou nie juis die nuwe toevoeging tot die gesin wat aanhangers van die koninklikes in gedagte gehad het nie, maar dis ’n stap in die regte rigting . . .

Die hondeliefhebber Harry tydens ’n besoek aan ’n welsynshondeskool in 2010. Foto: Gallo Images/Getty Images

In Nottingham Cottage, Harry en Meghan se knus liefdesnessie by Kensington­paleis, klink die getrippel van vier pootjies op, want hulle het ’n nuwe brakkie in hul huis en harte verwelkom.

Die paleis wou nie oor hul nuwe vierpootvriend kommentaar lewer nie, maar ingeligte bronne meen dis waarskynlik ’n hondjie wat ’n tuiste gesoek het, soos die twee honde wat Meghan uit ’n skuiling aangeneem het toe sy nog in Kanada gewoon en gewerk het.

Meghan en Bogart. Foto: Instagram

Bogart, haar herders­hond-labrador-kruis, was te oud om die reis na Brittanje aan te pak en moes by ’n vriend agterbly.

Maar Guy, haar beagle, het saamgetrek en is sekerlik nou in sy noppies met sy nuwe speelmaat.

“Die hond het hom reeds in hul kothuis tuisgemaak,” het ’n bron aan die dagblad Daily Mail gesê. “Hy het selfs ’n bollie­skoppie met ’n monogram daarop.’’

Hul plattelandse liefdesnessie

Wanneer hulle ’n blaaskans van Londen se gewoel wil neem, ontvlug die hertog en hertogin van Sussex na York Cottage op die Sandringham-landgoed in Norfolk.

Foto: Magazine Features

Die “kothuis” – eintlik ’n herehuis – was ’n trougeskenk van koningin Elizabeth (92) aan haar kleinseun. 

York Cottage, met sy mure wat pragtig met klimop toegerank is, is tot dusver as vakansieverblyf en ook as ekstra huisvesting vir Sandringham se personeellede gebruik. 

Dié bekoorlike huis herinner volgens The Telegraph aan “drie vrolike Engelse kroeë wat saamgevoeg is”.

Wanneer Harry en Meghan heeltemal uit die koninklike kollig wil wegkom, het hulle nog ’n opsie: die huis wat hulle kort ná hul troue in Great Tew, ’n prentjiemooi ­dorpie in Gloucestershire, gehuur het.

Vermoedelik is dit net ’n ­tydelike blyplek tot hul ­huis in Sandringham gereed is vir hulle om daar in te trek. 

Met dié dat die hertogin van Sussex uit Amerika kom, is die konsep van ’n monargie vir haar ’n bietjie vreemd. Daarom was dit ’n groot leerkurwe wat sy sonder sukkel baasgeraak en ongelooflik goed hanteer het
– Dickie Arbiter, koningin Elizabeth se voormalige woordvoerder

’n Laatsomervakansie

’n Groot ophef is gemaak toe koningin Elizabeth en Meghan in Junie saam vir amptelike verpligtings in die openbaar verskyn en duidelik goed oor die weg gekom het.

Meghan en die koningin tydens hul gesamentlike besoek aan Chester. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die monarg het omtrent ingenome gelyk met haar nuwe skoonkleindogter. 

Volgens ingeligte bronne wil sy nou graag vir Meghan ’n plek wys wat haar na aan die hart lê: Balmoralkasteel in Skotland. 

Die koningin kies altyd aan die einde van die Engelse somer daarheen koers.

Harry en Meghan is genooi om daar by “Granny” aan te sluit vir verfrissende wandelings in die hooglande en pieknieks op die landgoed in Aberdeenshire se golwende heuwels. 

Balmoralkasteel in Skotland. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit gaan vanjaar daar wemel van die koninklikes met prins William (36), Kate (36) en hul kinders, George (5) Charlotte (3) en die vyf maande oue Louis, wat ook daar gaan uitspan saam met prins Charles (69) en Ca­milla (71) asook prins Edward (54) en sy vrou, Sophie (53), en hul kinders, Louise (14) en James (10).

’n Kuier by die Clooneys

As kragpare waarvan die twee helftes uit verskillende wêrelde kom, het die Sussexe en die Clooneys baie gemeen.

Die Hollywoodster George Clooney (57) en sy vrou, Amal (40), ’n menseregte­prokureur, is meer as blote kennisse van die hertog en hertogin van Sussex; hulle is trouens huisvriende.

Amal en George Clooney. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit het duidelik geword toe die Clooneys vir Harry en Meghan vir ’n “mini-wittebrood” van drie nagte na hul weelderige huis, Villa Oleander, aan die Comomeer genooi het. 

Volgens die tydskrif Hello! het Meghan daar langs die swembad gelê en ook vir Amal met haar eenjarige tweeling, Ella en Alexander, gehelp.

Die mans het die tyd verwyl deur basketbal op die afgesonderde terrein te speel en George het sy motorfietsversameling vir die prins gewys. 

Die gasvrye Clooneys het ook ’n partytjie ter ere van hul koninklike gaste gehou en 15 hegte vriende op ’n soel Italiaanse aand onthaal.

Die twee egpare het mekaar glo deur die stilis Miguel Perez ontmoet. Hulle deel ’n passie vir liefdadigheidswerk.

Ná Harry en Meghan se troue het Amal gesê: “Ons dink hulle gaan saam groot dinge in die wêreld doen.’’

Ma se kind

Meghan se pa, Thomas Markle (74), en halfsuster, Samantha (53), spoel gereeld geniepsig mond uit teenoor wie ook al wil luister.

Maar haar ma, Doria Ragland (61), is ’n ware steun­pilaar vir haar dogter.

Doria Ragland. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die maatskaplike werker en joga-in­struktrise van Los Angeles oorweeg dit glo nou om Engeland toe te trek om nader aan Meghan te wees. 

“Sy maak reg om na Londen te verhuis,” het ’n vriend aan The Express gesê.

“Voor die troue het sy al vir my gesê sy mis haar Megs so baie dat sy enigiets sal doen om nader aan haar te wees, veral noudat Meghan met haar eie gesin wil begin.

“Doria is ontsettend lojaal aan Me­ghan en sal haar nooit verraai soos die res van hulle nie. Hulle is baie geheg aan mekaar,” sê die vriend. 

Anders as Meghan se vervreemde pa, Thomas, wat onlangs in ’n onderhoud laat hoor het Meghan sou niks sonder hóm gewees het nie, sit Doria geen voet verkeerd in die mynveld van koninklike protokol nie. 

Toe sy tydens haar dogter se sprokiestroue nie haar vreugdestrane kon keer nie, het Doria reeds koninklike aanhangers se guns gewen. 

Die toer op almal se lippe

In Oktober vertrek Meghan op haar eerste amptelike koninklike toer saam met Harry.

Op hul besoek aan Australië, Nieu-See­land, Fidji en Tonga word die verpligtings ingeryg. Hulle sal onder meer die Invictus-spele bywoon. 

Dié geesteskind van Harry, ’n sportbyeenkoms vir gestremde oudsoldate, word van 20 tot 27 Oktober in Sydney gehou.  

Volgens Dickie Arbier, die koningin se voormalige woordvoerder, sal die toer ’n vuurdoop vir Meghan wees.

“Dis ’n groot ding om alles onder die knie te kry wat met koninklike plig gepaardgaan,” het hy aan The Mirror gesê. 

“Sy het verlede jaar ’n voorsmaak in Toronto gekry, maar toe was sy Harry se meisie. Noudat sy sy vrou is, sal groter verwagtings aan haar gestel word.”

Nes skoonma Diana

Sy het nou wel nooit Harry se geliefde ma ontmoet nie, maar Meghan herinner aanhangers van die koninklikes gereeld aan wyle prinses Diana.

Elegant in ’n aandpakrok

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Op ’n geleentheid ten bate van die liefdadigheids­organisasie Sentebale, wat Harry ter ere van sy ma in Suider-Afrika gestig het, het Meghan ’n beroering veroorsaak toe sy in ’n “aandpak”-rok deur die Kanadese handelsnaam Judith & Charles verskyn. 

Dit het aan een van Diana se bekendste uitrustings herinner: ’n blinkertjiepak met wit mouboordjies, afgerond met ’n swart strik wat sy in 1991 na ’n opvoering van Die Huwelik van Figaro gedra het.

Droom in blou

Foto: Greatstock/Splash News
Foto: Gallo Images/Getty Images

Nie alle modekenners was gaande oor die blou-en-wit toile du jouy-blommerok deur Oscar de la Renta wat Meghan in Junie na ’n troue gedra het nie.

En tog was die ooreenkoms met ’n ­Catherine Walker­-pakkie wat Diana in 1986 tydens ’n besoek aan Saoedi-­Arabië gedra het, onmiskenbaar.

’n Jeans-en-T-hemp-meisie

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Al het sy gou by die rompe en kadotjies van die koninklike lewe aangepas, was Meghan nog altyd ’n jeans-­en-withemp-meisie.

Sy was juis so geklee toe sy saam met Harry by die Invictus-spele in Toronto verskyn het.

Dit was ook ’n voorkoms waarin Diana op haar tuisste gelyk het. 

Halternektreffers

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Op hul huweliksonthaal het ons Meghan die eerste keer met een van Diana se juweliersware gesien: ’n akwamarynring wat Harry vir haar gegee het.

Haar Stella McCartney-­halternekrok het erkenning gegee aan ’n bekende Diana-aandrok wat sy in 1992 na ’n gala gedra het.

’n Pak wil sy dra

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Wie’t gesê adellike dames mag net rompe dra? Dit is iets wat ons die ­koningin en selfs Kate selde sien dra, maar Meghan, soos Diana destyds, hou van ’n snyersbroekpak. 

Die prinses het in 1986 die koppe laat draai in ’n Jasper Conran-broekpak by ’n wit valletjiesbloes.

En 30 jaar later het Meghan die gewaagde voorkoms na die volgende vlak gevoer met ’n Alexander McQueen-broekpak saam met ’n Tuxe-lyfkous wat sy in Februarie na die Endeavor Fund-prysaand gedra het.

Pragtig in pienk

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Magazine Features

Meghan se ligpienk ­Carolina Herrera-rok waarin sy vanjaar die eerste keer die Vaandelparade bygewoon het, was ’n treffer. 

Die gewaagde halslyn het aan die rok herinner wat Diana in 1987 na ’n optrede van die Koninklike Balletgeselskap in Duitsland ­gedra het.

Die sterre voorspel

Sou Diana van Meghan as skoondogter gehou het? 

Huisgenoot het dié vraag, waaroor menige aanhanger van die koninklikes wonder, aan Penny Thornton, ’n Britse astroloog en vertroueling van prinses Diana, gestel toe sy Suid-Afrika onlangs besoek het.

Foto: Jacques Stander

“Ek dink Diana sou van Meghan gehou het,” was haar antwoord. “Maar eintlik sou sy lief gewees het vir enigiemand vir wie Harry lief is.”

En wat dink sy self as astroloog van Harry se keuse? Sal hul huwelik die toets van die tyd deurstaan of soos albei ouerpare s’n in die skeihof beland?

Hul huwelik sal hoogte- en laagtepunte hê, maar dit beteken nie dit sal misluk nie, sê Penny, wat haar nuwe boek, The Zodiac Cooks, in Suid-Afrika kom bemark het.

Sy meen Harry en Meghan sal vasbyt en deurdruk. “Hulle lyk asof hulle regtig vir mekaar lief is.” Tog verskil die twee hemelsbreed. 

“Astrologies gesproke kyk ons na twee heeltemal verskillende elemente: vuur en aarde.’’ Meghan, ’n Leeu, het ’n vuurteken, terwyl Harry onder die aardteken van die Maagd gebore is.

“Vuur is die ene geesdrif, gesellig en spontaan, terwyl ’n aardteken veel versigtiger en nadenkender is.”

Wat hou die toekoms vir hulle in? 

Ons moet die onverwagte van Harry en Meghan verwag, voorspel Penny. Anders as Kate en William kom hulle uit “heeltemal verskillende wêrelde".

“Hulle gaan so onafhanklik moontlik van die koninklike manier van doen wees. Hulle gaan tyd buite die land deurbring om humanitêre werk te doen.”

Gelukkig sal hulle groter vryheid as William en Kate geniet, want Harry is net die sesde aanspraakmaker op die troon, teenoor sy ouboet wat tweede is.

As aktrise het Meghan reeds haar staal gewys. “Dit kan ’n probleem word,’’ reken Penny. 

“Meghan sal baie bewus van haar beeld wees en dit self wil bepaal. Ek dink sy kan die establishment daarmee die harnas injaag.”

In die nabye toekoms, reken Penny, kan ons die getrippel van klein voetjies in die koninklike paartjie se kothuise hoor.

Ons kan skaars wag . . .