Jennifer Garner
‘Sy is onbeskaamd opreg op ’n manier wat jy net nie meer sien nie’. Foto: Gallo Images/Getty Images

Is daar enigsins ’n bekende wat hul voete platter op die aarde het as Jennifer Garner? Geen glansryke uitrustings vir haar wanneer sy sommer net gaan inkopies doen nie.

Sy gaan gereeld kerk toe, is ’n toegewyde ma, ondersteun haar familie wanneer hulle haar nodig het – en nou het sy ruiterlik erken dat haar figuur ná die geboorte van drie kinders nog nooit weer dieselfde was nie.

“Ek kan baie hard werk en baie fiks wees, en ek sal steeds lyk soos ’n vrou wat drie babas gehad het; dit sal altyd so wees,” het Jennifer (48) in ’n podsending, Happy Mum, Happy Baby, aan die aanbieder Giovanna Fletcher gesê.

“Daar is party merkwaardige vroue wie se lyf eenvoudig na daardie slanke heupe en plat magie terugkeer, al het hulle hoeveel babas. Dis ongelooflik. Ek het soveel vriendinne met daardie soort lyf en ek’s bly om hul onthalwe. Ek is nie een van hulle nie.”

Dis musiek in menige ma se ore. Jen klink sowaar nes een van ons doodgewone sterflinge!

Hier is nog redes waarom die aktrise, wat tans in die Netflix-rolprent Yes Day te sien is, ’n ware Hollywood-liefling is en bly.

Sy is trots op haar herkoms

Saam met haar ouers, William en Patricia, in 2018
Saam met haar ouers, William en Patricia, in 2018 toe sy met ’n ster op die Hollywood Walk of Fame vereer is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Haar beskeie grootwordjare in Wes-Virginië in Amerika het haar in ’n groot mate die mens gemaak wat sy vandag is, sê Jen.

“Ek is nooit skaam daaroor dat ek arm grootgeword het nie. Ek is eerder verstom oor die grasie en waardigheid wat my ouers dwarsdeur my kinderjare gehad het.”

As jong kind het Jen, een van drie dogters, haar ma, Patricia Ann Garner, van haar eie kinderjare hoor vertel.

“My ma het brandarm op ’n plaas in Locust Grove in Oklahoma grootgeword. Dit is ongelooflik dat sy dit reggekry het om daar pad te gee,” het Jennifer verlede jaar in ’n onderhoud vertel.

Patricia het ’n leier geword vir die Amerikaanse Girl Scouts en was al met Jen se pa, William, getroud toe sy haar onderwysgraad verwerf het.

“Toe ek ná universiteit na New York getrek het, het my ma gesê: “Jennifer, maak nie saak wat jy doen nie, dit sal nooit so ’n groot ding wees as wat dit vir my was om van daardie plaas af weg te gaan nie,’ ” het die aktrise trots vertel.

Sy stel haar kinders eerste

Jennifer by al haar kinders.
‘Ek het my kinders lief. Hulle is pragtig, dierbaar en onskuldig’ Foto: Splash News/Great Stock

Sy lyk dikwels soos ’n doodgewone ma wanneer sy op uitstappies saam met haar en Ben Affleck se kinders, Violet (15), Seraphina (12) en Samuel (9), gaan.

Sy is uiters beskermend oor hul privaatheid en veiligheid. In 2013 het sy in ’n hofsaak in Kalifornië getuig om ’n wetsontwerp teen paparazzi aanvaar te kry.

“Ek het ’n lewe in die openbare oog gekies,” het sy gesê. “My drie kinders is privaat burgers. Ek het my kinders lief. Hulle is pragtig, dierbaar en onskuldig, en ek wil nie hê dat ’n bende skreeuende, bakleiende, wetsongehoorsame fotograwe wat ons elke dag agtervolg, voortgaan om my kinders te traumatiseer nie.”

Sy het geen slegte woord oor haar ekse nie

Jennifer by haar eks, Scott Foley.
Jennifer by haar eks, Scott Foley. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jennifer is in 2000 met Scott Foley, haar medester in Felicity, getroud, maar hulle is drie jaar later uitmekaar en in 2004 amptelik geskei. In dieselfde tyd het sy in die Marvel-rolprent Daredevil teenoor Ben Affleck gespeel, en hulle het kort daarna begin uitgaan.

Hulle is in 2005 getroud. Jen het nog nooit ’n slegte woord oor een van haar ekse te sê gehad nie – selfs nie toe Ben se stryd teen die bottel gereeld die nuusopskrifte gehaal het nie. Ná hul egskeiding in 2018 het Jennifer besluit om die pa van haar drie kinders te ondersteun en hom teen sy duiwels te help baklei.

Jennifer by haar eksman, Ben Affleck.
Jennifer by haar eksman, Ben Affleck. Foto: Gallo Images/Getty Images

Aanhangers was woedend oor gerugte dat hy haar met die kinders se oppasser, Christine Ouzounian, verkul het. “Mense verduur pyn en dan doen hulle dinge waaroor hulle later spyt is,” sê sy.

“Hulle kry skaam, en skaamte veroorsaak pyn. Niemand hoef hom namens my te haat nie. Ek haat hom nie. Ons hoef beslis nie die ou te skop terwyl hy lê nie.”

Sy’s ’n getroue kerkganger

Jennifer Garner
Jennifer as jong dogtertjie. Foto: Instagram/@jennifer.garner

Jennifer het in ’n streng, konserwatiewe huis grootgeword en elke Sondag saam met haar gesin kerk toe gegaan, iets wat sy steeds doen. Grimering en naellak was taboe.

“Die Garner-meisies het nie gaatjies in ons ore gekry nie,” het sy gesê. Tydens die inperking het sy besluit sy wil dit kry.

“Ek het my ouers gebel en gesê: ‘Ek gaan gaatjies in my ore laat skiet.’ ” Jennifer is die gesig van Once Upon a Farm, ’n vervaardiger van organiese babakos, waarvan sy in 2018 ’n medestigter was.

“Om die kinders te probeer balanseer met die loopbaan wat ek het, is verwarrend,” erken sy. “Sy is onbeskaamd opreg op ’n manier wat jy net nie meer sien nie,” sê die regisseur Jason Reitman.

“Dis asof daar ’n kompetisie is oor wie die minste kan omgee, maar Jennifer Garner gee om. Sy gee om vir haar gesin, vir toneelspeel, vir dans, vir kook – sy gee onbeskaamd om.”

Sy is net so . . . dierbaar

Jennifer, wat as die aksieheldin Sydney Bristow in Alias bekend geword het, speel nie graag donker, gewaagde rolle nie. Sy het trouens vir haar ’n loopbaan uitgekerf deur karakters in lighartige flieks te speel. Dis dié dat The Hollywood Reporter haar

“Queen of Nice” gedoop het ná die uitreiking van ’n rits flieks waaroor sy “goed gevoel het om aan die wêreld te wys”.

Maar daar was één uitsondering: haar donker rol teenoor Matthew McConaughey in Dallas Buyers Club. Sy het dit aanvaar nadat haar agent haar in 2013 voor ’n ultimatum gestel het.

“Hy het gesê: ‘Dit is ’n foonoproep wat oor een van twee dinge gaan wees: óf oor jou wat in die fliek gaan speel óf oor jou wat gaan aftree,’ ” vertel sy.

“Ek het al genoeg van my verteenwoordigers gevra wat hard gewerk het terwyl ek vir alles nee gesê en heeltyd swanger geraak het. Ek was oorweldig deur ’n derde kind, maar ek het geweet ek wil nie klaar wees met toneelspeel nie. Toe sê ek ja.”

Tog bly die aktrise, wat nog nooit in ’n skandaal betrokke was nie, bekend as die dierbaarheid self. 

BRONNE: ABCNEWS.GO.COM, PEOPLE.COM, HOLLYWOODREPORTER.COM, ETONLINE.COM, HUFFPOST.COM, VANITYFAIR.COM, USATODAY.COM
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe