Die hertogin, wat haar eerste baba by prins Harry verwag, het van Londen na New York gevlieg vir ’n rojale ooievaarspartytjie saam met haar Hollywood-vriende, onder andere Serena Williams, George en Amal Clooney, en haar boesemvriendin, Jessica Mulroney, berig Daily Mail

Maar haar skoonsuster, hertogin Kate, was merkbaar van die vierings afwesig. 

Meghan
Meghan, die hertogin van Sussex. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die hertogin van Cambridge het glo besluit om die ooievaarspartytjie mis te loop om tyd saam met haar man, prins William, en hul kinders – prins George, prinses Charlotte en prins Louis – deur te bring. Die kleingoed het dié week skoolvakansie gehad.

’n Bron het aan The Sun gesê Kate en haar gesin het op ’n geheime skivakansie na hul gunstelingoord, Courchevel in Les Trois Vallées, Frankryk, gegaan.

Die ooievaarspartytjie, wat in die dakwoonstelsuite van die peperduur hotel The Mark in Manhattan, New York, gehou is, het glo R4,2 miljoen gekos en baie A-lysglansmense was op die gastelys. 

“Die reis was ’n lieflike kans om met vriende op die hoogte te kom en tyd deur te bring in ’n stad waarvoor sy lief is,” sê iemand in die binnekring. 

Meghan
Amal Clooney. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Dit sal die laaste keer wees dat baie van hulle Meg sal sien tot ná die baba gebore is; dus is dit lekker om kosbare oomblikke te deel.” 

“Dit was ’n ontspanne besoek. Niks oortref gesigtyd saam met jou vriende nie. Meg sal verfris en ontspanne – en met baie nuwe babaklere – huis toe vlieg.” 

Meghan
Jessica Mulroney. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die dakwoonstel was glo met pragtige lenteblomme versier, berig Elle. 

Meghan sal Saterdag saam met prins Harry na Marokko vlieg vir ’n drie dag lange koninklike besoek aan dié land. 

Bronne: Daily Mail, The Sun, Elle