Noot vir Noot
Emo en Johan gesels. Foto: Onkgopotse Koloti

Só vertel Johan Stemmet aan Huisgenoot vanuit Johannesburg, waar hulle besig is om te skiet aan ’n episode van die musiekspeletjieprogram Musiek Roulette.

“Slegs ’n stilstaande dam water kan stagneer. ’n Vloeiende rivier sal nie. Dalk die beste les wat die coronaviruspandemie my geleer het.”

Johan het onlangs verskoning gevra aan sy 43 000 Facebook-vriende omdat hy so “stillerig was”. Dit was bloot te wyte aan ’n nuwe fase in sy lewe wat hy ingaan, skryf hy verder op sy blad. “Semigrasie,” noem hy dit. 

“Ek is gebore langs die Weskus, skoolgegaan in die Kaap, Stellenbosch studeer, Rondebosch Boys High onderwys gegee. Kapenaar vir 28 jaar van my lewe,” verduidelik hy verder in sy Facebook-inskrywing.

“Vanaf 1980 tot nou was ek Johannesburger, 40 jaar in die Goudstad. Gelukkige jare, produktiewe jare, geseënde jare . . .”

Aan Huisgenoot verklap hy: “Ek het so pas die laaste jaar van my sestigerjare gevier, en my hele wese skree net dat dit nou tyd is om die pylvak vorentoe in my geboorte- en hartswyk aan te pak.

“Die Weskussand sit maar al die jare nog tussen my tone vas, sy oggendmis steeds in my longe en sy soutlug op my tong. Sy mense is my mense, en dit is tyd om huis toe te gaan."

"Dis ’n feit dat tegnologie dit nou moontlik gemaak het om vanaf jou huis te kan werk en per slot van rekening is ‘jou huis waar jou hart is'; dus was Langebaan as nuwe kantoor ’n baie maklike, natuurlike en sinvolle besluit.”

Die herinneringe wat hy later vanjaar in Johannesburg gaan agterlaat, sal hom altyd bybly.

Johan Stemmet
Foto: Verskaf.

“Herinneringe aan my kinders se grootword, my vrou se jare as hoërskoolhoof in die Goudstad, die musiek wat ek hier geskryf het, die televisieprogramme wat ek hier vervaardig het, elke Noot vir noot-program wat ons in die SAUK-televisieateljees opgeneem het en al die drome . . . die wat vervul is asook die onvervuldes.

“My seun Carl werk steeds saam met my en ons spannetjie as kreatiewe regisseur en is oorkoepelend verantwoordelik vir die programvervaardigingsproses,” vertel hy verder.

Benewens Musiek Roulette waarmee hulle op die oomblik met opnames vir reeks sewe doenig is, skud hulle ook vere reg vir die volgende seisoen van die ikoniese musiekspeletjiereeks Noot vir noot met Emo Adams as aanbieder en DJ Shelly as platejoggie.

“Ons is ook besig met die ontwikkeling van ’n nuwe werklikheidsmusiekprogram vir nuwe sangers en het so pas klaar geredigeer aan ’n heerlike nuwe interaktiewe gesinspeletjie, Klop die kunstenaar.

Johan Stemmet
Met sy sêgoed en vrolike persoonlikheid het hy diep in kykers se hart ingekruip – om van sy onderbaadjies nie eens te praat nie! Foto: Verskaf.

“Ná die hele ontwrigting van die ‘normaal’ in ons lewens, het ek besef dat ’n mens maar gedurig op vernuwing en verandering in jou lewe gesteld moet wees.

“As alles om jou gemaklike lewe skielik halt roep en jy ook nie meer aangewese kan wees op normale interaksie met mense om jou nie, dan moet jy jou denke aanpas en vernuwe.

“Dit het ’n vreemde manier om jou kreatiewe denke geweldig te stimuleer.”