Die meeste getroude paartjies weet hoe uitdagend dit soms is om ’n huwelik te laat werk, laat staan nog in moeilike tye soos die afgelope jaar.

Selfs in gewone tye is trou nie perdekoop nie, en dís nou vir ons gewone sterflinge wat huismoles agter die skerms kan blus. Maar hoe moeilik moet dit dan nie wees om ’n glanspaartjie te wees wie se romantiese lewe gedurig onder die kritiese soeklig van die nuuskierige publiek is nie? Gelukkig is daar tog uitsonderings.

Glansverhoudings wat die soet en suur van ’n langtermynverhouding al dekades lank saam verduur en wie se liefde steeds sterk staan ten spyte van die uitdagings.

Michael Douglas en Catherine Zeta-Jones

Catherine Zeta en Michael Douglas
Foto: Gallo Images/Getty Images

Jare saam: 20

Kinders: Dylan (20) en Carys (17)

So het hulle mekaar ontmoet

Bitterbekke het gesê dit sou nooit hou nie, en die paartjie het soms self gedink die ouderdomsverskil van 25 jaar is te groot. Maar Michael (76) en Catherine (51) het almal verkeerd bewys.

Hy het destyds gereël dat hy haar by ’n rolprentfees ontmoet nadat haar spel in The Mask of Zorro hom betower het.

“Ek gaan die pa van jou kinders wees,” het hy toe al vir haar gesê.

Die geheim tot hul lang verhouding

Hulle staan deur dik en dun saam – Michael se kankerstryd en Catherine se bipolêre gemoedsteuring. Die geheim, sê hulle, is om goedhartig met mekaar te wees en die humor in hul verhouding te hou.

Michelle Pfeiffer en David E. Kelley

Michelle Pheifer
Foto: Gallo Images/Getty Images

Jare saam: 27

Kinders: Claudia Rose (27) en John Henry (26)

So het hulle mekaar ontmoet

Michelle (62) en David (64) het mekaar op ’n toe-oë-afspraak ontmoet en is 10 maande later getroud. Sy was toe reeds besig om Claudia en John aan te neem en vertel kitsouerskap het haar ’n ander kant van David leer ken.

Die geheim tot hul lang verhouding

Om twee kleingoed so vroeg in hul huwelik te moes versorg het “die druk van ons as ’n paartjie afgehaal”, sê Michelle. En volgens David bring ’n bietjie respek jou ver.

‘Ek aanvaar hom nooit as vanselfsprekend nie’ – Michelle

“Ons het mekaar lief en respekteer mekaar – en hou baie hande vas.”

LaTanya Richardson Jackson en Samuel L. Jackson

Samuel L. Jackson
Foto: Gallo Images/Getty Images

Jare saam: 40

Kinders: Zoe (38)

So het hulle mekaar ontmoet

Die twee (albei 71) het mekaar in 1970 ontmoet toe hulle albei dramastudente in Atlanta was. Die akteur is dalk ’n geharde aksieheld wat nie doekies omdraai nie, maar wat LaTanya betref, vermurwe hy.

‘Maak nie saak wat nie, moenie toelaat dat die son op jul woede sak nie’ – Latanya

“Jy is my rots en die rede waarom ek elke dag opstaan en daaraan werk om vir jou die beste te gee wat ek moontlik kan,” sê hy. “Dankie vir alles wat jy is! Jy is liefde, stap, gesels, uitdagend en oneindig! Ek het jou lief met alles wat ek is.”

Die geheim tot hul lang verhouding

Samuel loof LaTanya daarvoor dat sy hom gehelp het om sy verslawing aan crack-kokaïen te oorwin, maar LaTanya sê hulle sou nie daardeur gekom het sonder geloof nie.

“Jy kan dit nie doen sonder die Here nie,” vertel sy. “Jy gaan jou tot iemand, iets, moet wend, want mans is anders. Hulle is van ander stoffasie gemaak.”

Hugh Jackman en Deborra-Lee Furness

Hugh Jackman
Foto: Gallo Images/Getty Images

Jare saam: 24

Kinders: Oscar Maximilian (20) en Ava Eliot (15)

So het hulle mekaar ontmoet

Toe Hugh (52) en Deborra (65) mekaar in 1995 op die stel van die drama Corelli ontmoet het, het hy geweet hy gaan met haar trou. En 10 maande later was dit so.

‘Jy moet jouself wees, selfs die stukkies waarvan jy nie hou nie, die stukkies waaroor jy skaam is of die dinge wat jy verkeerd gedoen het’ – Hugh

Hugh het later wêreldwye roem verwerf en sê Deborra hou sy voete plat op die aarde.

“Dit help dat ons saam was voor die roem,” sê hy.

Die geheim tot hul lang verhouding

Twee reëls: Moenie meer as twee weke weg van mekaar wees nie, en moenie gaan slaap terwyl julle nog eintlik aan die stry is nie. 

Pauletta en Denzel Washington

Denzil Washington
Foto: Gallo Images/Getty Images

Jare saam: 37

Kinders: John David (36), Katia (33) en die tweeling Malcolm en Olivia (29)

So het hulle mekaar ontmoet

Hulle het verlief geraak toe hulle mekaar in 1977 op die stel van die rolprent Wilma ontmoet het. Al is Denzel (65) die superster, is Pauletta (70) ewe talentvol.

‘ ’n Spirituele grondslag help vir alles – die huwelik, werk, gemoedsrus’ – Denzel

Sy het aan die befaamde Juilliard-kunsskool studeer en is ook ’n kranige sangeres en klassiek opgeleide pianis.

Die egpaar se oudste seun, John David Washington (wat in BlacKkKlansman gespeel het), sê dikwels dis sy ma se invloed wat hom ’n loopbaan in die vermaakbedryf laat kies het.

Die geheim van hul lang verhouding

Denzel het Pauletta drie keer gevra om met hom te trou voor sy eindelik ja gesê het. Hy spot en sê die geheim tot hul gelukkige huwelik is dat hy doen wat hy gesê word.

Kurt Russell en Goldie Hawn

Goldie Hawn
Foto: Gallo Images/Getty Images

Jare saam: 37

Kinders: Wyatt (34)

So het hulle mekaar ontmoet

Goldie was 21 en Kurt 16 toe hulle mekaar in 1966 op die stel van ’n Disney-rolprent ontmoet het. Hulle het eers in 1983 begin uitgaan.

Kurt (69) is van sy vrou, Season Hubley, geskei en Goldie (75) het twee kinders, Kate (41) en Oliver Hudson (44), saam met haar eksman, Bill Hudson, gehad.

‘Ek sou lankal geskei gewees het as ek getroud was’ – Goldie

Sy sê sy het verlief geraak op Kurt se aantreklikheid en hoe hy haar kinders behandel het.

Die geheim tot hul lang verhouding

Nie elke verhouding vereis ’n ring om dit te laat werk nie. “Die huwelik het nie vir een van ons gewerk nie,” sê Goldie.

“Ek sê nie dit sou nie weer werk nie, maar ek het nie gedink dat ons hoef te trou nie.” 

Rita Wilson en Tom Hanks

Tom Hanks
Foto: Gallo Images/Getty Images

Jare saam: 32

Kinders: Chet (30) en Truman (24)

So het hulle mekaar ontmoet

Tom en Rita het mekaar op die stel van die sitkom Bosom Buddies ontmoet, waar Tom se vermoë om stories te vertel haar beïndruk het. “Ek is mal daaroor. Hy laat my heeltyd lag,” sê Rita (64).

‘My geheim tot ’n gelukkige huwelik is net om met die regte vrou getroud te wees’ – Tom

Drie dekades later is hulle steeds mekaar se grootste aanhangers. “Sy is my beste vriendin, benewens dat sy my minnares is,” sê Tom (ook 64). “Dit was van die begin af so.”

Die geheim tot hul lang verhouding

Hulle doen hul belofte gestand om mekaar in siekte en gesondheid lief te hê. In 2015 het Rita borskanker oorwin en vanjaar het hulle albei covid-19 oorleef. En dit blyk lag is vir hulle die beste medisyne.

“Hou julself aan die lag, selfs in ’n rusie,” beveel Rita aan. “Probeer ’n bietjie humor in iets vind sodat julle dit kan lig hou.”

Bronne: Peoplemagazine.com, dailymail.com, thesun.co.uk, oprah.com, eonline.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe