Dit het Donderdag aan die lig gekom dat nog ’n klag teen dié veelbekroonde akteur aangebring is, het die Independent berig. Dit beteken daar is nou reeds meer as 30 klagtes teen hom gelê. 

Spacey se jongste fliek, Billionare Boys Club, wat die afgelope naweek in net agt teaters in Amerika vertoon is, het ook in sy openingsnaweek net R1 815 uit kaartjieverkope gemaak. Die fliek het sowat R222 miljoen gekos om te maak. 

Spacey se vorige fliek, Baby Driver, het nog verlede jaar sowat R1,4 miljard gemaak.

Die akteur se val kom nadat sowat 16 mans en tienerseuns hom verlede jaar van seksuele teistering en aanranding beskuldig het. Een van die slagoffers is Anthony Rapp, 'n akteur wat in Star Trek: Discovery gespeel het, wat beweer Spacey (59) het hom seksueel geteister toe hy 14 was. 

Intussen lyk dit of Hollywood Spacey die rug toegekeer het.  

Netflix was eerste om hom af te dank as die hoofakteur in die bekroonde en gewilde politieke riller, House of Cards. Die reeks se sesde en laaste seisoen word einde van die jaar uitgereik en Robin Wright (52) sal nou alleen die hoofrol vertolk. Robin vertolk die rol van Claire, wat getroud is met Spacey se karakter, Francis Underwood. 

Dié reeks sluit vanjaar af sonder Kevin in die hoofrol. Foto: Instagram

Verskeie mans op die stel van House of Cards het ook beweer Spacey het hulle oor die afgelope jare seksueel geteister. 

Netflix sou ook ’n biografiese fliek oor die ontslape Amerikaanse skrywer Gore Vidal maak, met Spacey in die hoofrol, maar dié projek is intussen gekanselleer.

Nie net het Billionare Boys Club swak by die loket gevaar nie, kritici het dit 'n 13% uit 100% op die TV-en-fliekgraderingswebwerf Rotten Tomatoes gegee. 

Vertical Entertainment, wat die fliek versprei, het in Junie in ’n verklaring gesê die besluit om die fliek uit te reik, was “nie ’n maklike of ’n onsensitiewe besluit nie”.

“Ons hoop die ontstellende bewerings wat verband hou met een mens se gedrag - wat nie bekend was toe die rolprent amper twee en 'n half jaar gelede gemaak is nie en van iemand wat 'n klein ondersteunende rol in Billionaire Boys Club het – sal nie die fliek se uitreiking verwoes nie,” het die verklaring gelees.

Nadat Netflix hom afgedank het en sy jongste fliek superswak gevaar het, is hy ook uit die fliek All the Money in the World verwyder. Spacey het ’n rol in dié fliek gehad en is daarna deur die regisseur, Ridley Scott, met die akteur Christopher Plummer vervang.

Dit is nadat hy reeds al sy tonele vir die fliek verfilm het. Dié tonele is sewe weke voor die fliek in Desember 2017 uitgereik is, oor geskiet. 

Spacey het sedert die bewerings aan die lig gekom het, uit die kollig beweeg en woon nie meer sosiale geleenthede in Hollywood by nie.  

In Brittanje is reeds ses aanklagte van seksuele teistering teen die akteur aanhangig gemaak.

Bronne: CNBC, Washington Post, Vanity FairIndependent