Donderdag het hy weens ’n hartaanval gesterf. Hy was 82 jaar oud.

Sy eksvrou Loni Anderson (73), wat die ouer garde sal onthou as die welbedeelde bottelblondine Jennifer Marlowe in die sitkom WKRP in Cincinnati, en haar seun, Quinton, het gesê hulle sal hom en sy aansteeklike lag mis. Burt en Loni het Quinton aangeneem ná hul troue.

Burt en Loni Anderson in Los Angeles. Foto: Gallo Images/Getty Images.

"Hy was 12 jaar lank ’n groot deel van my lewe en Quinton se pa vir 30 jaar. Hy was ’n wonderlike akteur en regisseur," lui die verklaring wat sy uitgereik het.

Burt Reynolds in sewe fasette

1. Van paroolbeampte tot ster

’n Ernstige kniebesering en ’n motorongeluk daarna, het Burt se drome van beroepsvoetbal in die wiele gery. Hy het sy pa se raad gevolg en ’n paroolbeampte geword toe hy voetbal moes opgee. Maar die ambisieuse Burt wou groter dinge bereik.

Toe kies hy koers na toneelspel en maak sy verskyning in talle televisiereekse. Sy grootse deurbraak was in 1972 toe hy in die riller Deliverance op die groot skerm saam met Jon Voight speel. Die fliek het $46,1 miljoen by die loket laat inrol.

Vanaf 1973 tot 1984 was hy op die Quigley-lysie van die top-10-sterre wat die meeste geld verdien het.

Burt Reynolds in 1980. Foto: Gallo Images/Getty Images.

2. Blapse

Maar hy het nie altyd slim besluite oor potensiële groot rolle gemaak nie, en het nee gesê vir onder meer die volgende:

  • James Bond (1969) is een van die rolle wat hy nie aanvaar het nie, maar waaroor hy baie spyt was. Burt het gevoel ’n Amerikaner kan nie James Bond wees nie. “Dit kan net nie gedoen word nie.”
  • Michael Corleone in The Godfather (1972). Skynbaar was Marlon Brando nie gelukkig met die idee van Burt Reynolds op die stel nie en Al Pacino het die rol gekry nadat Burt dit van die hand gewys het.
  • Randle Patrick "Mac" McMurphy in One Flew Over the Cuckoo’s Nest (1975) wat toe deur Jack Nicholson vertolk is;
  • Han Solo in Star Wars (1977), wat Harrison Ford wêreldbekend gemaak het;
  • Terms of Endearment (1983) is glo die rol waaroor hy die grootste berou gehad het. Die rol van Garrett Breedlove is spesiaal vir hom geskryf, maar hy het ’n mondelingse ooreenkoms vir die fliek Stroker Ace aangegaan. Jack Nicholson het die rol gekry en Burt het later oor homself gesê: "Daar is geen toekennings in Hollywood vir iemand wat ’n stommerik is nie.”
  • John McClane in Die Hard (1988), waarvan daar reeds ’n sesde fliek in die pyplyn is met Bruce Willis as dié kanniedood-karakter. Oor dié rol het Burt aan Piers Morgan gesê hy is glad nie spyt dat hy 'nee' gesê het vir enige rol wat later deur Bruce Willis vertolk is, nie.
  • Die ryk sakeman Edward Lewis in Pretty Woman (1990), wat toe deur Richard Gere teenoor Julia Roberts vertolk is.

3. Die snor

Oor Marlon se teësin in hom het Burt gesê hy het gevlei gevoel dat Marlon ontsteld was. In ’n ironiese kinkel is Burt verskeie kere oorgesien omdat hy te veel soos Marlon gelyk het, en dit het tot sy kenmerkende snor gelei!

Hy het glo ook nie veel ooghare vir Marlon gehad nie. Altwee was immers besonders aantreklik.

Maar Burt het die laaste woord ingekry: “Ek sê nou vir jou, ek gaan nie plastiese chirurgie kry omdat jy nie hou van hoe ek lyk nie, maar ek belowe ek gaan nooit so vet word soos jy nie.

“Ek het in alle waarskynlikheid daardie aand nog my snor begin groei.”

4. Kaler jonker en countrymusiek

’n Gewaagde naakfoto in 1972 in die tydskrif Cosmo, waar Burt niks behalwe sy snor en ’n sigaar in die mond aanhet nie, het kort voor die uitreiking van Deliverance verskyn.

Burt was glo verleë oor die foto, maar Cosmo het gejuig. Die hele oplaag van 1,6 miljoen tydskrifte het uitverkoop.

In 1973 waag Burt dit boonop om agter die mikrofoon in te skuif en reik hy sy enigste countryalbum uit. Maar Ask Me What I Am was nie die sleutel tot sangsukses nie.

5. Vrouejagter van formaat

Burt was die verpersoonliking van ’n vrouejagter en ongure bewerings oor affairs, aanrandings en dwelmmisbruik het sporadies die lig gesien. Een van sy opspraakwekkendste verhoudings was met die Amerikaanse tennisster Chris Evert, wat vertel het hoe goed Burt jou behandel as hy regtig van jou hou.

Burt, pres. George Bush snr. Barbara Bush en Chris Evert, 1994. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Burt het in 1963 met die Britse aktrise Judy Carne getrou. Twee jaar later het hul huwelik op die rotse geloop.

Hy het in 1970 ’n verhouding met een van Hollywood se “goue meisies” aangeknoop: die sangeres en aktrise Dinah Shore. Sy was 20 jaar ouer as hy en hulle het vier jaar lank uitgegaan. Die verhouding het verbrokkel omdat Dinah nie kinders aan hom kon gee nie.

Burt en Dinah Shore in 1974. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Een van sy grootste liefdes was egter die aktrise Sally Field. Hulle het in 1977 op die stel van Smokey And The Bandit ontmoet en hulle was vyf jaar lank ’n paartjie. Hy het haar onlangs nog beskryf as “die groot een wat weggekom het” en gesê dat sy die liefde van sy lewe was.

In 1981 het Burt aan die fliek The Cannonball Run gewerk en hopeloos verlief geraak op sy medester Farrah Fawcett. Dié twee het ’n verhouding aangeknoop, maar net soos met talle voor en ná haar, het dit nie baie lank gehou nie.

The Cannonball Run-akteurs (1981): Agter: Alfie Wise, Jack Elam (verskuild), onbekend, Joe Klecko, Jamie Farr, Mel Tillis, Bert Convy, Adrienne Barbeau, Michael Hui, Rick Aviles, en Warren Berlinger. Middel (in oranje) Dom DeLuise. Front row, left to right: Tara Buckman, Dean Martin, Farrah Fawcett, Burt Reynolds, Roger Moore, Jackie Chan en Sammy Davis, Jr. Foto: Gallo Images/Getty Images

6. Voetbal

Burt het van 1982 tot 1986 sy eie professionele Amerikaanse voetbalspan besit wat aan die nasionale voetballiga deelgeneem het: Smokey and the Bandit en laasgenoemde was ook die span se gelukbringer.

Terloops, ook Donald Trump, die huidige Amerikaanse president, het in daardie jare ’n voetbalspan in die liga besit. Hy het die New Jersey Generals in 1983 vir $6 miljoen gekoop.

Die standaardprys vir ’n span in die liga was toe $80 miljoen. Trump het $22 miljoen op sy span verloor.

7. Dis nie die einde nie

Burt sal vanjaar en in 2019 in nog drie flieks verskyn: Defining Moments, wat in Desember uitgereik word, as George Spahn wat die plaas aan kultleier Charles Manson verhuur het in Quentin Tarantino se Once Upon a Time in Hollywood en The French Cowboy, wat in die klassieke styl van ou Hollywood Westerns vervaardig is.

Bewonderaars en bekendes reageer















Bronne: beardbrand.com, foxnews.com, imdb.com, westadventurefilms.com, heavy.com, mentalfloss.com, variety.com, twentytwowords.com, kiwirereport.com, metv.com, washingtonpost.com