SY STER BLINK

Shameik Moore (23) se naam is op almal se lippe nadat hy die stem verskaf het vir die Brooklyn-tiener Miles Morales, oftewel Spider-Man, in Spider-Man: Into the Spider-Verse. Die fliek is onlangs met ’n Golden Globe as beste animasiefliek bekroon. ‘Ek voel geëer om die eerste swart Spider-Man in ’n fliek te wees,’ sê hy.

DROOM AL LANK OOR SPIDEY-ROL

Hy wou nog altyd Spider-Man speel en het jare gelede ’n oudisie afgelê om dié superheld en sy alter ego, Peter Parker, op die groot doek te speel. Tom Holland (22) het toe die rol losgeslaan.

TROTS OP SY WORTELS

Hy het sy kortspeler van 2015 die titel 30058 gegee. Dit is die poskode van die streek in Atlanta, Georgia, waar hy grootgeword het.

DANSER

Shameik, wat van Jamaikaanse afkoms is, het aanvanklik op die internet as danser naam gemaak nadat hy video’s van hom wat sing en dans op YouTube gedeel het. Hy’t onder meer in Soulja Boy se musiekvideo Crank That (Soulja Boy) gedans.

EERSTE ROL

Hy het op 16 sy eerste rol in die sitkom Reed Between the Lines losgeslaan; enkele maande nadat onderwysers aan sy hoërskool gesê het hy sal nooit ’n akteur word nie. Hy het volhard om vir ander kinders te wys ‘enigiets is moontlik’ as jy hard daarvoor werk.

UITHOUVERMOË

Hy het 100 oudisievideo’s in 365 dae uitgestuur, toe kry hy ’n oudisie om die bleeksieltiener Malcolm in die fliek Dope (2015) te speel. Die akteur, wat ’n musikant is nes sy pa, Errol, het oorspronklike musiek saam met die sanger Pharrell Williams vir die fliek se klankbaan opgeneem.