HAAR STER BLINK

Die 24-jarige danser Danielle-Marie Jones is al lankal ’n aanhanger van die wetenskapsfiksiereeks Black Mirror. 

Nou is sy in die derde episode van die vyfde seisoen van dié reeks te sien – en dit teenoor die sangeres Miley Cyrus (26). 

Haar agent het haar vroeg in November 2018 vertel van oudisies vir ’n danstoneel in Black Mirror wat in Kaapstad gehou word, en sy’t dadelik die geleentheid aangegryp. 

Sy en die 30 ander vroue wat ’n oudisie afgelê het, het nie geweet hulle gaan saam met Miley dans nie. 

“Ek kon nie glo dat dit vir Black Mirror was nie. Ek het geskree van opgewondenheid, want ek is ’n groot aanhanger,” vertel Danielle-Marie.

miley cyrus,sangeres
Miley met haar mededansers in Black Mirror. Foto: Verskaf

In die laaste ronde van die oudisie moes die vroue ’n dansroetine op die maat van Ariana Grande se liedjie Focus binne ’n oogwink bemeester. 

Dié uitdaging het Danielle-Marie nie afgeskrik nie. 

“Ek het my alles gegee. Ek het heel voor gestaan en gedink ek gaan nou oorneem. En my hare is so groot; hulle moes my opgemerk het!”

En toe sy die goeie nuus ontvang dat sy die rol gekry het, was sy “totaal oorweldig en opgewonde”. 

GROOTWORDJARE 

Sy het in Kaapstad grootgeword as die jongste van vier. 

Sy het ’n ouer suster, Cindy (34), en twee ouer broers, Gino (37) en Rikki Solomon (38). 

View this post on Instagram

wow Glen happy 60th ???????????? you are the greatest ?

A post shared by Danielle-Marie Jones (@danny_mjones) on

Danielle-Marie oftewel Danny, het op vier begin dans toe haar ouers, Daniel (57) en Glenda (60), haar by ’n dansskool ingeskryf het. 

“En toe ek vyf was, het my ma haar eie dansgroep, Afrika Ablaze, begin. Hier is ek aan ’n groot verskeidenheid bewegings blootgestel. Ek het my formele balletopleiding ontvang en kwaito, hip-hop en pantsula gedoen.”

’N HOOGTEPUNT  

“Dit was een van die opwindendste oomblikke van my dansloopbaan,” vertel Danny oor haar ervaring as een van Miley se ses Suid-Afrikaanse mededansers in Black Mirror. Die tonele is in Kaapstad geskiet. 

“Ons was op ons gemak toe ons Miley ontmoet het. Sy’s snaaks, en sy was net haarself. Sy het ons op geen manier geïntimideer nie.” 

Danny het wel ’n blaps gehad op die stel, maar Miley het haar gerus gestel. 

“Ek het per ongeluk teen haar gestamp, en ek het paniekerig geraak, maar sy het uitgebars van die lag en gesê dis fine.” 

DRAMASTUDENT 

So tussendeur haar optredes saam met internasionale bekendes en choreografie vir haar ma se dansgroep, ruim Danielle-Marie ook tyd in vir haar studie. 

Die krulkop is tans ingeskryf as ’n meestersgraadstudent in teater en optrede aan die Universiteit van Kaapstad. 

“ ’n Groot tesisproduksie wat aan die einde van November plaasvind, maak die grootste deel van my studie uit.” 

En waarmee hou sy haarself besig wanneer sy nie op die dansvloer of agter die boeke is nie? 

“Ek geniet dit vreeslik om te gaan fliek. Dis my gunstelingstokperdjie in die wêreld.” 

“Ek hou veral van rolprente soos Chicago en Moulin Rouge. Selfs Fight Club!”

DANSER, AKTRISE ÉN SANGER 

Danny het van 2007 tot 2011 ’n beurs by die Waterfront Theater College ontvang om deeltyds in te skryf vir ballet, moderne dans, klopdans en drama. 

“Dis hier waar ek my vaardighede geslyp het, want ek het blootstelling gekry aan musiekteater en drama. 

“Ek het ’n all-round performer geword. Ek het gesing, toneelgespeel en gedans.”

Sy het in 2012 aan die Hoër Meisieskool Wynberg gematrikuleer.

danielle-marie jones,danser
Foto: Günther Schubert

Daarna het sy aan die Universiteit van Kaapstad kontemporêre en moderne Afrika-dans studeer en op dié style verlief geraak. 

“Dit het net gevoel asof dit is waar ek hoort. Ek het heeltemal die Afrika-danspassies en die flamenkostyl ingeneem, juis omdat dit so ekspressief is.” 

Danielle-Marie en die Afrika Ablaze-dansgroep hou die afge­lope ses jaar ’n jaarlikse optrede by die Baxterteater in Kaapstad. 

DAPPER MEISIE 

Black Mirror is nie die eerste keer dat Danny in ’n internasionale produksie te sien is nie. 

Die Kapenaar het in 2017 gewys sy is meer as net ’n mooi gesig toe sy die Suid-Afrikaanse aktrise Pearl Thusi se waaghals in die fliek The Scorpion King: Book of Souls was. 

danielle-marie jones,danser
Danny in die fliek The Scorpion King: Book of Souls. Foto: Verskaf

“Dit was toe die opwindendste uitdaging wat ek al aangepak het,” vertel sy. 

HAAR GROOSTE ONDERSTEUNERS 

Danny kom uit ’n ambisieuse gesin wat haar ondersteun en nederig hou. 

“Al drie my sibbes het ewe opwindende loopbane en ervaar soortgelyke lof vir dit wat hulle doen.”

Haar ouer suster, Cindy, besit haar eie bakkery, terwyl haar broers, Gino en Rikki, onderskeidelik ’n digitale reklame­agentskap en ’n tennisakademie beman.

Haar ouers het ook “suksesvolle loopbane”. Soos haar ma, Glenda, se dansgroep. 

Haar pa, Daniel, sit op sy beurt skouer aan die wiel as die algemene bestuurder van Westelike Provinsie Rugby. 

“Hulle erken dus my suksesse en ondersteun die reis waarop ek is.”