“Dis vir my vreeslik lekker hoe sy nou groter word en in my maag rondbeweeg,” sê Ciske, wat nou 31 weke swanger is.

“Ek probeer die heeltyd vas stel waar haar kopie, boude, armpies, dit of dat lê.”

Sy en haar man, Kristof Kruger, het reeds ’n tweejarige dogter, Klara. Ciske het ook ’n tienjarige dogter, Amelie (uit haar huwelik met die akteur Ivan Botha).

Die klein lyfie behoort haar opwagting enkele dae ná Klara se derde verjaarsdag op 4 Maart te maak. “Ek wil graag net soos met Amelie en Klara normaal kraam,” sê Ciske, wat veral bekend is vir haar rolle in Bakgat! en Getroud met Rugby.

Foto: Verskaf.

Die twee sussies is baie opgewonde oor die koms van nog ’n kleinding. “Amelie is ’n vreeslike oulike klein moederhen met Klara. Nou gaan sy seker net nog meer wees. Albei my dogters het baie sagte en liefdevolle geaardhede. Hulle reageer baie opgewonde teenoor my maag.”

Sy en manlief het baie gebid oor die nuwe kleinding se naam en besluit hulle gaan haar Elisa, soos die Bybelse profeet, noem.

“Dit beteken God is my redding en dat ek toegewy is aan Hom.”