Sy maak haar gereed vir ’n lieflike chaos, want met drie woelige seuntjies in een huis kan dit mos nie anders nie. “Ek het altyd ’n prentjie van vier seuns in my kop gehad,” vertel Riana Nel, en die donkerkopsangeres straal van afwagting.

“Ek het om die een of ander rede gedink dit sal lekker wees om deur soveel manne omring te word.” Die kleinding in haar groeiende babamagie is nóg ’n seun, haar derde, deel sy die groot nuus eksklusief met Huisgenoot.

Riana (38) en haar man, Cornel de Beer (36), is reeds die trotse ouers van twee woelwaters, Tristian (4) en Sebastian (2). En hul kleinboet sal na verwagting in Maart sy opwagting maak.

“Ek dink ek het nou my vier seuntjies,” sê Riana. Dan lig sy vir die eerste keer die sluier oor die hartseer wat sy stil-stil verwerk het toe sy in 2018 ’n miskraam op ses weke gehad het.

Dit was kort voor die begin van die verfilming van The Voice South Africa, M-Net se gewilde werklikheidsreeks waarin sy verlede jaar as afrigter te sien was.

Sy glo dié babatjie is die ander seuntjie wat altyd in haar gedagtes was – en nou altyd daarin opgesluit sal bly. Waar sy vandag 37 weke swanger en grasieus vir ’n fotosessie vir Huisgenoot poseer, getuig haar spontane glimlag van ’n ma wat diep dankbaar is – haar welige bos roetswart hare blink en haar skitterende groen oë en babamagie rond die mooi prentjie af.

Riana Nel
Die sangeres straal van blye afwagting oor haar kleinding wat op pad is. Haar twee oudste spruite, Tristian en Sebastian, is ook baie opgewonde oor hul kleinboet se koms. Foto: Willem Botha

Toe sy en Cornel verlede jaar die vreugdevolle nuus kry dat hulle met nog ’n klein mensie geseën gaan word, het hulle aanvanklik gedink hulle sal tussen die karretjies en seunsdinge vir poppe en meisiegoed moet plek maak.

Met Riana se eerste twee besoeke aan haar ginekoloog het dit op die sonarfoto’s gelyk of ’n dogtertjie op pad is. Maar op 16 weke kon hulle duidelik sien dis wel ’n seuntjie.

“Ek is een van drie susters, en die gedagte van ’n dogtertjie het my opgewonde gemaak – die idee om eendag grimering te doen, die haarstrikkies en die oulike dogtertjieklere in die winkels. Maar toe ons uitvind dis ’n seuntjie, was my hart heimlik verlig,” erken die trotse seuntjie-mamma.

“Ek ken seuns en verstaan hulle so ’n klein bietjie,” lag sy.

“Ek was nie die grootste girly girl op skool nie en het altyd ’n klomp seunspelle gehad. Daar is darem baie snaakse stories oor hoe ’n mens ’n kind se geslag kan probeer manipuleer, maar my leuse is altyd: Laat U wil geskied,” sê die diepgelowige sangeres.

“Ek prys die Here vir my seuns. Ek is oortuig daarvan dat Hy die geslag kies.”

Riana gaan haar bes doen om haar seuns so groot te maak dat hulle eendag die soort mans sal wees met wie sy graag self sou wou trou, sê Riana.

“Die wêreld het goeie mans nodig,” meen sy. Hiermee bedoel sy ’n man wat kan leiding neem, ’n gentleman, sê sy. Die soort ou wat ná ’n romantiese afspraak nog agter ’n meisie aan huis toe ry “net om seker te maak sy kom veilig tuis”.

Dié soort gentleman is dan ook die held in Vergeet my nie, Huisgenoot, kykNET en The Film Factory se nuwe romantiese fliek waarin Riana se liedjie “Ewigheid” as temalied opklink.

vergeet my nie
Die musiekvideo vir “Ewigheid”, die temalied in Vergeet my nie, is op die dak van ’n hotel in Pretoria verfilm. Foto: Verskaf

Die musiekvideo daarvoor is onlangs uitgereik en binne net twee weke meer as 300 000 keer op Facebook gekyk. Die lirieke se boodskap is dat dit belangrik is om vir die regte mens in jou lewe te wag, “al voel dit soms soos ’n ewigheid”, vertel Riana.

“Goeie dinge kom met tyd.” Sy praat uit ervaring, want dit het destyds vir haar gevoel of sy ’n ewigheid vir haar trouman wag. “Maar toe ons mekaar ontmoet, was daar geen onsekerheid nie,” vertel sy oor hul blitsromanse. Riana was 30 toe sy en Cornel, ’n rekenaarprogrammeringsingenieur, mekaar in 2012 op die Innibos-kunstefees ontmoet het.

Hulle is minder as ’n jaar later in April 2013 getroud. Sy het gevoel “Ewigheid”, ’n snit op haar jongste CD, Sterker, is “die perfekte liedjie” vir die klankbaan.

“In die fliek wik en weeg die paartjie so ’n bietjie voor die liefde eindelik alles oorwin,” sê sy. Vergeet my nie is deur die ware liefdesverhaal van die Huisgenoot-lesers Hugo en Mardaleen Derks van Gobabis, Namibië, geïnspireer.

Hul liefdespad loop met ’n wye draai van hul eerste ontmoeting in Potchefstroom via Londen tot by ’n plaas in Namibië, toevallig ook Riana se geboorteland.

Die Alles Malan-ster Sean-Marco Vorster en Marguerite van Eeden, wat die hoofrol in die fliek Vaselinetjie vertolk het, is in die hoofrolle te sien.

Nie net maak Riana se liedjie deel uit van die klankbaan nie; sy het ook deur haar Namibiese kontakte die fliekspan gehelp om die ideale plek te kry om die plaastonele in Namibië te skiet – op die plaas Eisgaubib in die Khomas-hoogland naby Windhoek.

Riana se kinderspore lê in daardie hoogland. Sy het in Windhoek grootgeword, maar as kind dikwels vir naweke en vakansies by familievriende, Christie en Marietjie Engels, op hul plaas, Sonder water, gekuier.

Daar het die gewilde sangeres vroeg al haar sangstem geoefen – met die bokke as gehoor. Nes Heidi in die animasiereeks het sy vir die bokke gesing. “Ek het daar so vry gevoel,” onthou sy.

“Ek was mal oor die dorre, droë wêreld en die Kuisebrivier wat omtrent nooit loop nie. Ek het eendag erg in die veld sonbrand opgedoen, en toe ons by die plaashuis kom, het my pa die laag room bo-op ’n emmer melk wat vars uitgemelk was met sy vingers aan my wange gesmeer. Dit het wonders verrig. Dit was my en my pa se ding: om plaas toe te gaan en langs die Kuisebrivier uit te kamp. Ons het potjiekos gemaak en na die naggeluide geluister. Dis een van my gunstelingherinnerings uit my kinderdae.”

Riana se boesemvriendin, Mariana van der Merwe, is met ’n boer, Stefanus, getroud wie se ouers, Adriaan en Debbie, ’n plaas in dieselfde omgewing het. En dis op daardie plaas waar van Vergeet my nie se mooiste tonele verfilm is.

“Ons het al ’n paar Desembervakansies daar deurgebring,” vertel Riana oor die plaas wat fliekgangers nou op die silwerdoek sien.

“Ons slaap dan buite onder die sterre omdat dit te warm is in die huis. Gedurende ons kuiers het ek al in die middel van die nag opgestaan vir ’n bok wat blêr, want ek het gedink dis my baba wat melk soek,” vertel sy laggend.

“Mariana en Stefanus laat my aan Mardaleen en Hugo in die fliek dink. Stefanus is nes Hugo ’n saggeaarde beesboer en Mariana het ’n liefde vir skryf, maar sy was darem meer gewillig as Mardaleen om die stadslewe vir die plaas te verruil.”

Riana gryp elke kans aan om in haar geboorteland te gaan kuier. Haar pa, Flip (76), is deesdae ’n Johannesburger, maar haar en haar sangeressuster, Nianell (48), se ander suster, Erika van Schalkwyk (46), woon steeds in Namibië, in Mariental.

“Daar raas die stilte soms hard. Jy kan meestal kilometers die verte instaar en elke paar kilometer verander die landskap. Die plek kruip onder ’n mens se vel in.”

Maar haar hart is waar haar huis is, daar waar sy en Cornel in die ooste van Pretoria nesgeskop het en die jillende kinderstemme van kaalvoet woelwaters haar verwelkom. Haar twee oudste spruite sien baie uit na hul kleinboet se koms.

“As hulle enige baba sien, roep hulle uit: ‘Babatjie!’ ” vertel Riana. Sy moet net gedurig keer wanneer hulle aan haar maag vat. “Hulle weet nog nie so mooi van saggies raak nie.”

Sy het aan die begin van haar swangerskap ’n groot lus vir mayonnaise en gekookte eiers gehad, “maar nou is ek net dors”, lag Riana. “Elke swangerskap is anders,” sê sy.

Riana Nel
Riana Nel se beker loop oor. Sy was teen druktyd 37 weke swanger met haar derde seuntjie. Foto: Willem Botha

“Met dié een voel ek asof ek soveel van myself leer; oor hoe ek praat, dink en wat ek sê. Noudat ek ouer is, neem ek myself in sekere opsigte minder ernstig op en in ander opsigte weer ’n klein bietjie meer.”

Sy en Cornel hou vir eers hul nuwe kleinding se naam ’n geheim, maar Riana verklap dit beteken “ ’n man wat goeie getuienis lewer, keuses met geloof maak en glo dat God oorwin”.

Dis vir haar ongelooflik om te sien hoe elkeen van haar kinders ’n eie persoonlikheid ontwikkel. “Tristian is ons geselser. Hy praat met almal en is luidrugtig oral waar ons gaan.

Hy het ’n sterk verbeelding en dink op die oomblik hy’s ’n visarend. Sebastian sê alles sagter as sy ouboet en op net twee jaar vorm hy sy woorde so mooi.

Maar moenie sy stil geaardheid onderskat wanneer hy jou aandag wil hê nie,” waarsku sy en voeg by: “Hy smelt my hart met sy sin vir humor en rooi hare.”

Tussen die twee boeties is ’n hegte band. “Hulle speel baie lekker saam en deel gereeld drukkies.”

Op die oomblik is swem, helikopters en arende die spilpunt waarom alles vir hulle draai. Is haar seuns so musikaal soos hul ma?

“Dis nog ’n bietjie vroeg om te sê. Hulle sing wel al liedjies soos ‘Hou die hemel oop’, ‘Jingle Bells’ en die temaliedjie van die Airwolf-televisiereeks.”

Tristian en Sebastian is hul pa uitgeknip, sê Riana.

“My man het vir seker die sterker gene gekry. Hopelik trek die volgende een ’n bietjie meer na my. Maar as hy ook soos Pappa lyk, sal dit my goed pas – my man bly die mooiste man wat ek ken,” koer sy.

Sy hoop om eendag soveel moontlik van haar man se eienskappe in haar seuns te sien.

“Hy’s die soort pa wat enige kind verdien. Hy stel homself nooit eerste nie.”

Sy bewonder veral haar man se “werketiek en onwrikbare geloof”. “Sy insig, kalmte en hoe hy altyd konstant bly,” ryg sy nog van Cornel se mooi eienskappe in. Dit pla haar nie dat sy die enigste vrou in die huis is nie.

“Mans kan soms vreemde dinge aanvang en dan lag ek net lekker vir al hul geite. Ek los Cornel in beheer van die rowwe spelery.” Met soveel mans in die huis wonder ’n mens of sy ooit tyd vir haarself kry.

“Ek het ’n ongelooflike man wat graag tyd saam met ons kinders deurbring; so dis nie moeilik om weg te glip nie,” sê sy.

“En party oggende as die seuns by die skool is, werk ek sulke goedjies in tussen my werk deur. Ek sal sommer my hare laat doen terwyl ek ’n liedjie skryf. Kinders leer jou om te multitask.”

Riana ken al die chaos van ’n lewe vol seuntjies: speelgoed wat gestrooi lê en teddiebere wat in waterpoele beland.

“Daar is alewig ’n kompetisie of uitdaging, hulle eet altyd my kos en nooit hul eie nie, hulle wil van alles afspring, en tog moet hulle vreeslik getroos word as hulle seerkry,” vertel Riana oor haar kroos wat met hul streke en spelery haar lewe voller as ooit maak.

“Kinders vang ’n mens onkant met die oulike dingetjies wat hulle sê en doen. Dis altyd opwindend.” Maar ouerskap het ook sy uitdagings soos sy al goed weet – min slaap, loopneusies, geite . . .

“Ek is nie ’n mens wat alles reg doen nie en ek vra maklik hulp. Ek kies ook om baie vriendinne te hê wat in die buiteland bly sodat ek hulle in die middel van die nag kan bel vir raad en perspektief.”

Die goeie oomblikke vergoed ruimskoots vir die moeilike dae, maar Riana erken dis nie altyd maklik om met ’n huis vol woelwaters alles raakgevat te kry nie. So lief soos sy haar seuntjies het, weet sy ma-wees is nie Instagram waar alles prentjiemooi en perfek is nie.

Riana Nel
‘Ek besef dat iets soos ’n perfekte ma nie bestaan nie’ Foto: Willem Botha

“Tog is ek gemaklik met my nieperfekte manier van ma-wees. Ek dink ek besef dat iets soos ’n perfekte ma nie bestaan nie. Ek is iemand wat nogal hard op myself is, maar is verbasend rustig hieroor.

“Ek besef dat God by my staan, al is ek op ’n dag ’n 90%-ma of ’n 10%-ma – nes Hy vir my genoeg ma-figure gestuur het die dag toe my eie ma oorlede is.”

Riana se ma, Heletjé, is in 2012 twee dae ná ’n rugoperasie oorlede. “Ek is op 37 meer ontspanne en dit maak als lekkerder,” sê sy.

“Ek vergelyk my ook nie met ander ma’s nie; ek probeer eerder leer deur hulle baie vrae te vra.

“Ek kry wenke oor hoe om lekker Rice Krispie-koekies te maak al lyk dit glad nie soos op die prentjie nie. Ek vergeet gereeld belangrike dinge, maar sal dan vinnig ’n alternatiewe plan maak. Ek is nie skaam om te leen nie en bewonder die mammas wat sulke ongelooflike idees en uitstappies vir hul kinders bedink.”

Haar kinders leer haar om nie haar eie vermoëns te onderskat nie. “Ek groei elke dag. Dis ongelooflik wat jy kan vermag as jy op die regte manier dink.”

Hoe hanteer sy dit as sy wel die dag oorweldig voel?

“Ek huil maklik en gereeld,” erken sy. “Ek maak dagboekinskrywings en praat baie.” Met haar swangerskap neem sy vir eers ’n blaaskans van haar musiekoptredes. Sy kies haar optredes ook die afgelope paar jaar meer deurdag sodat sy meer tyd saam met haar gesin kan deurbring.

Sy bly deesdae veral besig met liedjieskryf, ook vir kunstenaars soos Ruhan du Toit, Jay du Plessis, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Theuns Jordaan, Lianie May, Karlien en Bobby van Jaarsveld.

Die jongste liedjie uit haar pen, “As ek jou lewe kon red”, gaan daaroor om jou kind aan God se genade oor te gee, sê Riana oor die liedjie wat nog nie opgeneem is nie. Dis iets wat sy elke dag self probeer regkry.

“Die wêreld is soms ’n scary plek. Ekself moet elke dag kies dat God saam met my as ouer is.”

Haar wens is dat haar kinders altyd die Here eerste sal stel. “Ek wil hê hulle moet weet wie hulle in God is en doelgerig lewe.” En sal sy haar kinders ooit aanmoedig om ’n loopbaan in die musiekbedryf te volg?

Die stralende mamma lag uitbundig. Dan antwoord sy: “Soos Scarlett O’Hara sê in die slottoneel van die rolprent Gone with the Wind: ‘I won't think about that now. I'll think about that tomorrow.’ ”

  • Die romantiese fliek Vergeet my nie het kort voor sakdag met sy openingsnaweek meer as R1,2 miljoen by die loket laat inrol en is tans landwyd te sien.