Die musikant, skrywer en akteur Beer Adriaanse (33) en sy meisie, die aktrise Mila Guy (26), skep hier in die noorde van Johannesburg saam met hul vriende en medeakteurs Bennie Fourie, Bouwer Bosch, Schalk Bezuidenhout en Barbara Brasington die produksie Die Inter­missie, wat hulle die eerste keer in Maart op die Woordfees op Stellenbosch gaan aanbied en waarin hulle almal ook speel.

Die produksie bestaan uit ’n paar losstaande sketse, verduidelik Beer, mees­tal humoristiese uitbeeldings van Suid-­Afrika en sy mense.

Dit sal sy eerste verskyning op die planke wees, en hy erken dit gee hom nag­merries.

Al was Beer op sy gemak voor die kameras in die onlangse kyk­NET-reekse Hotel en Fynskrif en die flieks Wonderlus en Kanarie, is die teater anders.

Hier kan jy sien hoe die gehoor jou dophou terwyl jy toneelspeel.

Hy droom byna elke aand hy staan kaal op die verhoog en niemand lag vir hom nie, vertel hy en lig sy wenkbroue.

“Maar dis seker oukei, want ek het tot onlangs toe nog gedroom ek moet my matriek gaan herskryf. Dis veel erger.”

Hy sien homself nie as ’n bekende nie, maar sê hy beland dikwels in on­gemaklike situasies wanneer mense sy gesig in die winkel herken.

“Mense doen gewoonlik daai ding waar hulle hul vingers klap en in die lug opkyk en dink,” vertel hy met ’n glimlag op sy gesig.

“Maar dan besef hulle ek is nie Neels van Jaarsveld nie – ek is maar net die ou wat langs hom in Fynskrif gestaan het.”

Hy verkies dit eintlik so, want 10 jaar lank, van 2003 tot 2013, was hy die tromspeler in die musiekgroep Zinkplaat – toe het hy dikwels gedink hy is beroemd, net om met ’n groot skok agter te kom niemand weet eintlik wie hy is nie. 

Dit was eers as Boer Giel in die Boer Soek ’n Ou-video wat in November 2014 landwyd soos ’n veldbrand versprei het, dat Beer besef het hy kan toneelspeel.

In dié video, wat met die maatsoekreeks Boer Soek ’n Vrou gekskeer, was Beer ’n stoere boer wat desperaat man soek. Sy vertolking was so oortuigend dat sy ouma gewonder het of Beer dalk regtig uit die kas geklim het. 

Sy het natuurlik die Beer van kleintyd onthou, die seuntjie wat so skaam en teruggetrokke was dat sy ma, die skrywer Wilna Adriaanse (59), hom na ’n kinderterapeut toe geneem het sodat hy kan leer om uit sy dop te kruip.

Sy ma en pa, Deon (61), ’n sakeman, woon deesdae in Botswana.

Hy het twee jonger broers, Jaco (31), ’n wetenskapsfiksieskrywer van Kaapstad wat besig is met sy doktorsgraad in Engels, en Johann (28), hoofbedryfs­beampte by ’n internasionale mynboueksplorasiemaatskappy in Gaborone, Botswana.

Maar sy boeties was nie kleintyd so skaam soos Beer nie.

“Ek en my ma praat baie daaroor. Ons kan nie agterkom hoe dit gebeur het dat ek van ’n teruggetrokke kind in ’n uit­gelate akteur verander het nie.”

Hy lag, neem ’n groot sluk water en dink hard: “Dis seker soos Asterix en Obelix.

Obelix het mos in ’n towerdrankie geval en toe is hy die res van sy lewe sterk. Dalk het die kinderterapeut my so iets ingevoer, want ek was eers bang vir mense, en toe ek weer sien, is ek verslaaf aan hulle.” 

En deesdae is dit presies waar hy hom bevind: omsingel deur mense en op mense se TV-skerms. Sy loopbaan as akteur is nie iets wat hy gekies het nie.

Ná skool was die plan eintlik om joernalis te word; daarom het hy in 2007 ’n joernalistiekgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal.

beer adriaanse,hotel
Beer saam met Germandt Geldenhuys (links) en Schalk in die fliek Kanarie. Foto: kykNET

Hy het eers daarna ’n meestersgraad in film- en mediastudie aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. 

Hy weet nie mooi hoe dit gebeur het nie, maar hy weet drama het hom gekies.

Ná sy filmstudie het hy as skrywer en regisseur aan kykNET se aktuele program Vrydag Nag Laat gewerk. Hier het hy en die digter en joernalis Bibi Slippers – toe ook ’n skrywer en regisseur van dié program – een aand met die idee vorendag gekom om Boer Soek ’n Ou te skiet.

Toe Beer weer sien, het hy ook in sketse in Vrydag Nag Laat verskyn en is sy loopbaan as akteur gebore. Hy was daarna ook die skepper en skrywer van die 2015-kykNET-reeks Buurtwag.

Met ’n frons vertel hy die kunste het nogal ’n slegte reputasie; dis kwan­suis vol divas.

Hy raak ’n oomblik filosofies en beskryf die vermaakbedryf as ’n oseaan waar die gety dikwels eb en jou hoog en droog in ’n toestand van paniek op die strand laat, maar tog kom die golwe weer in.

Dit leer ’n mens om soos die mier te werk, jou kop op te  en aan te gaan, meen Beer. 

Soos baie ander akteurs het hy staaltjies van werklose tye toe hy sy ma moes bel en toebroodjies vra.

Dit was weer soos in sy koshuisdae aan die Paul Roos-gimnasium op Stellenbosch, spot hy nou.

Tog ry selfs dit nie sy familie se ondersteuning vir sy beroepskeuse in die wiele nie.

View this post on Instagram

?????? #beachday

A post shared by mila guy (@milaguy) on

Hoewel daar nog nooit vir hom gesê is om “ ’n regte werk” te kry nie, was daar wel ernstige gesprekke oor of hy oukei is, of hy vooruitbeplan en of hy geld maak.

Op die oomblik is hy “oukei”, want verlede jaar se trek Johannesburg toe was goed vir sy akteursloopbaan.

“Die sleutel is jy moet jouself nooit so ernstig opneem dat jou fondament weggeruk word wanneer iets nie uitwerk nie,” sê hy.

“As jy ’n prokureur is, moet jy aanvaar mense gaan jou spot omdat jy baie geld maak. As jy in die kunste werk, moet jy maar aanvaar jy gaan meer ­teleurgestel word as wat jy moontlik verwag het.”

Het hy al daaraan gedink om die bedryf liewer te los? Natuurlik, maar waarvoor weet hy nie regtig nie.

“Dis juis die probleem; ek kan nie aan een ander ding dink wat ek graag sal wil doen nie.”

Hy lag weer daardie aansteeklike lag.

“Daar was ’n tyd toe ek gedink het as alles skeefloop, sal ek die bestuurder van ’n backpackers hostel word. Maar toe ek so ’n tydjie gelede ’n paar backpackers besoek, het ek vinnig besef dis nie meer my plan B nie.”

Sy droom is om ’n regisseur te wees – al beteken dit hy sal dikwels in dié mededingende bedryf met van sy beste vriende meeding. “In dié bedryf moet jy jouself nie as die ontbrekende skakel in die een of ander projek beskou nie,” sê Beer.

“In­teendeel, Suid-Afrika het nie die soort sterstatussamelewing wat Amerika het nie. Dit is die ouens wat hard werk wat die werk kry.” 

Of hy net een werk kan doen, weet Beer ook nie, want dié musikant, akteur en skrywer vergelyk homself met ’n veelsydige rugbyspeler: “As jy ’n flank nodig het wat ook agtsteman kan speel, die bal in die lynstaan kan ingooi en boonop ná die tyd saam partytjie hou, praat met Beer. Ek is daai tipe ou,” sê hy laggend.

Maar hy werk darem nie soos daardie spreekwoordelike miere aldag en heeldag nie. Wanneer hy nie agter sy rekenaar, sy tromstel of voor die kameras is nie, geniet hy dit om saam met Mila en ’n paar vriende te gaan stap. 

Oor sy verhouding met Mila, ook sy medeakteur in Hotel, wil hy nie veel uitwei nie; die twee verkies om dit privaat te hou.

Maar kyk jy op hul sosialemedia­profiele, is dit duidelik hulle het die skoot hoog deur. Beer het juis onlangs Mila se ouers, Johan (47) en Belinda (48), gaan ontmoet in Nieu-Seeland, waar hulle woon. 

Die toneelgogga het Mila gebyt toe sy nog jonk was, maar toe die inkennige Beer kleintyd saam met sy twee jonger broers die wyse manne in die gesin se Kerskonserte was, sou hy nooit kon dink ’n beroep in die vermaakbedryf is hom beskore nie.

Dit het hom eenvoudig onverwags oorrompel.

“Dis maar soos daardie mooi meisie wat teen die einde van jou matriekjaar in jou skool inkom, en dan wonder jy waar sy jou hele lewe lank was toe nie een van die ander meisies op skool met jou wou praat nie,” spot hy. 

Vandag weet hy: Drama is sy ding.

“Ek het nie noodwendig gedink dis iets waarin ek belangstel nie, maar dit is ’n baie gelukkige ongelukkie dat ek hier beland het.”

  • Hotel is tans Maandae om 20:30 op kykNET.